Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 119

Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe

Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe

JOHANNES 14:1-31

  • JESUS GAAN WEG OM ’N PLEK VOOR TE BEREI

  • HY BELOWE SY VOLGELINGE ’N HELPER

  • DIE VADER IS GROTER AS JESUS

Jesus en sy apostels is ná die gedenkmaal nog steeds in die bo-kamer. Hy moedig hulle aan: “Moenie dat julle harte ontsteld word nie. Beoefen geloof in God, en beoefen ook geloof in my.” – Johannes 13:36; 14:1.

Jesus gee die getroue apostels rede om nie bekommerd te wees oor die feit dat hy weggaan nie: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . As ek vir julle ’n plek gaan voorberei, sal ek weer kom en julle saam met my neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.” Maar die apostels besef nie dat hy eintlik van die hemel praat nie. Tomas vra: “Here, ons weet nie waarheen u gaan nie. Hoe kan ons die weg ken?” – Johannes 14:2-5.

Jesus antwoord: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” ’n Persoon kan net in die hemelse huis van Jesus se Vader ingaan as hy Jesus se leringe aanvaar en sy lewenswyse navolg. Jesus sê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6.

Filippus, wat mooi luister, vra: “Here, wys vir ons die Vader, en dit sal vir ons genoeg wees.” Dit lyk of Filippus God in die een of ander visioen wil sien, net soos die visioene wat Moses, Elia en Jesaja gesien het. Maar die apostels het iets beters as sulke visioene. Jesus beklemtoon dit deur te sê: “Ek is nou al so lank by julle, Filippus. Hoe is dit dat jy my nog nie leer ken het nie? Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien.” Jesus volg sy Vader se persoonlikheid volmaak na. So om saam met Jesus te lewe en hom te sien, is soos om die Vader te sien. Die Vader is natuurlik groter as die Seun, want Jesus sê: “Die dinge wat ek vir julle sê, sê ek nie uit my eie nie” (Johannes 14:8-10). Die apostels kan sien dat Jesus al die eer aan sy Vader gee vir die dinge wat hy ander leer.

Jesus se apostels het gesien hoe hy wonderlike werke doen en het gehoor hoe hy die goeie nuus oor die koninkryk van God verkondig. Nou sê hy vir hulle: “Enigiemand wat geloof in my beoefen, sal ook self die werke doen wat ek doen, en hy sal nog groter werke doen” (Johannes 14:12). Jesus sê nie dat hulle groter wonderwerke as hy sal doen nie. Hulle sal wel hulle bediening oor ’n langer tydperk uitvoer, ’n groter gebied dek en baie meer mense bereik.

Wanneer Jesus weggaan, sal hy hulle nie heeltemal verlaat nie, want hy belowe: “As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.” Verder sê hy: “En ek sal die Vader vra, en hy sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees. Dit is die gees van die waarheid” (Johannes 14:14, 16, 17). Jesus verseker hulle dat hulle die heilige gees sal ontvang, die ander helper. Dit gebeur op Pinksterdag.

Jesus sê: “Oor ’n rukkie sal die wêreld my nie meer sien nie, maar julle sal my sien, omdat ek lewe en julle sal lewe” (Johannes 14:19). Jesus sal nie net ná sy opstanding in liggaamlike vorm aan hulle verskyn nie, maar later sal hy hulle opwek om saam met hom in die hemel te wees.

Jesus vertel hulle nou ’n eenvoudige waarheid: “Enigiemand wat my gebooie aanvaar en dit gehoorsaam, is lief vir my. En my Vader sal lief wees vir enigiemand wat lief is vir my, en ek sal lief wees vir daardie persoon en my duidelik aan hom openbaar.” Die apostel Judas, wat ook Taddeus genoem word, vra: “Here, hoekom wil u uself duidelik aan ons openbaar en nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord: “As iemand my liefhet, sal hy my woord gehoorsaam, en my Vader sal lief wees vir hom . . . Enigiemand wat nie lief is vir my nie, gehoorsaam nie my woorde nie” (Johannes 14:21-24). Anders as sy volgelinge sien die wêreld nie vir Jesus as die weg, die waarheid en die lewe nie.

Jesus het sy dissipels baie dinge geleer. Maar hoe sal hulle dit alles onthou nadat hy hulle verlaat het? Jesus verduidelik aan hulle: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, sal julle alles leer en julle aan alles herinner wat ek julle vertel het.” Hierdie versekering vertroos hulle, want die apostels het gesien hoe kragtig die heilige gees is. Dan sê Jesus: “Terwyl ek nog by julle is, sal ek aanhou om julle die vrede te gee wat julle nou geniet. . . . Moenie dat julle harte bekommerd of bang word nie” (Johannes 14:26, 27). Die dissipels het dus geen rede om bekommerd te wees nie. Hulle sal riglyne en beskerming van Jesus se Vader kry.

Bewyse van God se beskerming sal binnekort gesien word. Jesus sê: “Die heerser van die wêreld kom, en hy het geen mag oor my nie” (Johannes 14:30). Die Duiwel het dit reggekry om Judas te beïnvloed. Maar Jesus het geen swakhede wat Satan kan gebruik om hom teen God te draai nie. En die Duiwel sal nie kan keer dat Jesus opgewek word nie. Hoekom nie? Jesus sê: “Ek [doen] alles wat die Vader my beveel het om te doen.” Hy is seker dat sy Vader hom sal opwek. – Johannes 14:31.