Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 121

“Moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin”

“Moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin”

JOHANNES 16:1-33

  • BINNEKORT SAL DIE APOSTELS JESUS NIE MEER SIEN NIE

  • DIE APOSTELS SE HARTSEER SAL IN VREUGDE VERANDER

Jesus en die apostels is gereed om uit die bo-kamer te gaan waar hulle die Pasgamaaltyd gehou het. Nadat Jesus hulle ’n hele paar waarskuwings gegee het, sê hy verder: “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie.” Wat kon hulle laat struikel? Hy sê vir hulle: “Die mense sal julle uit die sinagoge ban. Om die waarheid te sê, die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God verrig.” – Johannes 16:1, 2.

Hierdie nuus maak die apostels dalk bang. Al het Jesus vroeër gesê dat die wêreld hulle sou haat, het hy nie direk vir hulle gesê dat hulle doodgemaak sou word nie. Hoekom nie? Hy sê: “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat ek by julle was” (Johannes 16:4). Nou waarsku hy hulle voordat hy weggaan. Dit sal hulle dalk help om nie later te struikel nie.

Jesus sê verder: “Ek [gaan] na die Een toe wat my gestuur het, maar nie een van julle vra my: ‘Waarheen gaan u?’ nie.” Vroeër daardie aand het hulle hom gevra waarheen hy gaan (Johannes 13:36; 14:5; 16:5). Maar nou, omdat hulle geskok is oor wat Jesus vir hulle gesê het, kan hulle aan niks anders dink as hulle eie vervolging nie. Daarom vra hulle hom nie verder uit oor die heerlikheid wat hy gaan kry of wat dit vir ware aanbidders sou beteken nie. Jesus kan sien hoe hulle voel en sê: “Omdat ek egter hierdie dinge vir julle gesê het, het julle baie hartseer geword.” – Johannes 16:6.

Dan verduidelik Jesus: “Dit is vir julle eie beswil dat ek weggaan. Want as ek nie weggaan nie, sal die helper nie na julle toe kom nie, maar as ek gaan, sal ek hom na julle toe stuur” (Johannes 16:7). Jesus se dissipels kan net die heilige gees ontvang as hy sterf en hemel toe gaan. Hy kan die heilige gees as ’n helper aan sy volgelinge stuur, waar hulle ook al op die aarde is.

Die heilige gees “sal . . . vir die wêreld oortuigende bewyse gee in verband met sonde, regverdigheid en oordeel” (Johannes 16:8). Ja, die heilige gees sal wys dat die wêreld nie geloof in God se Seun het nie. Wanneer Jesus hemel toe gaan, sal dit bewys dat hy regverdig is en dat Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, dit verdien om geoordeel te word. – Johannes 16:11.

Jesus sê verder: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie.” Wanneer hy die heilige gees uitstort, sal dit hulle help om “die hele waarheid” te verstaan, en hulle sal volgens hierdie waarheid kan lewe. – Johannes 16:12, 13.

Die apostels verstaan nie wat Jesus volgende sê nie: “Oor ’n klein rukkie sal julle my nie meer sien nie, en oor ’n klein rukkie sal julle my weer sien.” Hulle vra mekaar wat hy bedoel. Jesus besef dat hulle hom hieroor wil uitvra, en daarom verduidelik hy: “Ek verseker julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal hartseer wees, maar julle hartseer sal in vreugde verander word” (Johannes 16:16, 20). Wanneer Jesus die volgende middag doodgemaak word, is die godsdiensleiers bly, maar die dissipels is hartseer. Dan verander hulle hartseer in vreugde wanneer Jesus opgewek word! En wanneer hy God se heilige gees op hulle uitstort, het hulle nog ’n rede om vreugdevol te wees.

Jesus vergelyk die apostels se situasie met die situasie van ’n vrou wat geboortepyne het en sê: “Wanneer ’n vrou geboorte gee, ervaar sy pyn omdat haar uur gekom het, maar wanneer sy aan die kind geboorte gegee het, onthou sy nie meer die pyn nie, omdat sy bly is dat ’n mens in die wêreld gebore is.” Jesus moedig sy apostels aan deur te sê: “Nou is julle ook hartseer, maar ek sal julle weer sien en julle harte sal bly wees, en niemand sal julle vreugde wegneem nie.” – Johannes 16:21, 22.

Tot nou toe het die apostels nog nooit iets in Jesus se naam gevra nie. Nou sê hy: “In daardie dag sal julle die Vader in my naam vra.” Hoekom moet hulle in Jesus se naam vra? Beteken dit dat die Vader hulle nie wil antwoord nie? Nee, want Jesus sê: “Die Vader self is lief vir julle, omdat julle my liefgehad het . . . as God se verteenwoordiger.” – Johannes 16:26, 27.

Jesus se woorde het die apostels dalk so aangemoedig, dat hulle sê: “Hierdeur glo ons dat u van God af gekom het.” Hierdie oortuiging sal binnekort getoets word. Om die waarheid te sê, Jesus beskryf wat vir hulle voorlê: “Kyk! Die uur kom – eintlik het dit alreeds gekom – wanneer julle verstrooi sal word en elkeen na sy eie huis sal gaan en my alleen sal laat.” Maar hy verseker hulle: “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my vrede kan hê. In die wêreld sal julle moeilike tye deurmaak, maar moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:30-33). Nee, Jesus sal hulle nie heeltemal verlaat nie. Hy is seker dat hulle, net soos hy, die wêreld kan oorwin deur God se wil getrou te doen, al probeer Satan en sy wêreld om hulle teen Jehovah te draai.