Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 133

Jesus word begrawe

Jesus word begrawe

MATTEUS 27:57–28:2 MARKUS 15:42–16:4 LUKAS 23:50–24:3 JOHANNES 19:31–20:1

  • JESUS SE LIGGAAM WORD VAN DIE PAAL AFGEHAAL

  • DIE LIGGAAM WORD VOORBEREI OM BEGRAWE TE WORD

  • DIE VROUENS KRY ’N LEË GRAF

Dit is nou al laat middag op Vrydag 14 Nisan. Teen sononder sal die Sabbat van 15 Nisan begin. Jesus is alreeds dood, maar die twee misdadigers langs hom lewe nog. Volgens die Wet mag ’n dooie liggaam “nie die hele nag aan die paal bly hang nie”, maar dit moet “daardie selfde dag” begrawe word. – Deuteronomium 21:22, 23.

Vrydag word ook die Voorbereidingsdag genoem omdat mense kos voorberei en enige werk klaarmaak wat nie tot ná die Sabbat kan wag nie. Teen sononder sal ’n dubbele, of “’n groot”, Sabbat begin (Johannes 19:31). Die rede hiervoor is omdat 15 Nisan die eerste dag is van die sewe dae lange Fees van die Ongesuurde Brode, en die eerste dag is altyd ’n Sabbat (Levitikus 23:5, 6). Hierdie keer val die eerste dag op die weeklikse Sabbat, die sewende dag, en daarom is dit ’n dubbele Sabbat.

Die Jode wil hê dat Jesus en die twee misdadigers langs hom vinniger dood moet gaan, en daarom vra hulle Pilatus om Jesus en die twee misdadigers se bene te laat breek. Hulle sal dan nie hulle bene kan gebruik om hulleself op te lig om asem te kan haal nie. Die soldate kom en breek die bene van die twee misdadigers. Maar dit lyk asof Jesus alreeds dood is, en daarom breek hulle nie sy bene nie. Dit vervul Psalm 34:20: “Hy bewaar al sy bene, en nie een van hulle is gebreek nie.”

Om seker te maak dat Jesus regtig dood is, steek ’n soldaat ’n spies in sy sy. Die spies deurboor die gedeelte waar sy hart is, en ‘onmiddellik kom bloed en water uit’ (Johannes 19:34). Dit vervul nog ’n teks: “Hulle sal kyk na die een wat hulle met ’n spies deurboor het.” – Sagaria 12:10.

Josef van die stad van Arimatea, “’n ryk man” en ’n gerespekteerde lid van die Sanhedrin, is ook by die teregstelling (Matteus 27:57). Hy word beskryf as “’n goeie en regverdige man”, wat “vir die Koninkryk van God [wag]”. Om die waarheid te sê, as “’n dissipel van Jesus, maar net in die geheim, want hy was bang vir die Jode”, het hy nie saamgestem met die hof se besluit om Jesus dood te maak nie (Lukas 23:50; Markus 15:43; Johannes 19:38). Josef skraap sy moed bymekaar en vra Pilatus vir Jesus se liggaam. Pilatus laat roep die militêre offisier wat in beheer is, wat bevestig dat Jesus dood is. Daarna sê Pilatus dat Josef Jesus se liggaam kan vat.

Josef koop skoon, fyn linne en haal Jesus se liggaam van die paal af. Hy berei die liggaam voor om begrawe te word deur dit in die linne toe te draai. Nikodemus, “wat die eerste keer in die nag na [Jesus] toe gekom het,” help met die voorbereiding (Johannes 19:39). Hy bring ’n mengsel van duur mirre en aalwyn saam, wat omtrent ’n honderd Romeinse pond (33 kilogram) weeg. Jesus se liggaam word in linnedoeke saam met hierdie speserye toegedraai, volgens die begrafnisgebruike van die Jode.

Josef het ’n graf wat uit rots uitgekap is, en hy lê Jesus se liggaam daar neer. Dan word ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol. Dit word vinnig gedoen voordat die Sabbat begin. Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus die Mindere het dalk gehelp met die voorbereiding van Jesus se liggaam. Hulle gaan nou vinnig huis toe “om speserye en lekkerruik-olies voor te berei” om Jesus se liggaam ná die Sabbat verder te behandel. – Lukas 23:56.

Die volgende dag, die Sabbat, gaan die hoofpriesters en Fariseërs na Pilatus en sê: “Ons onthou wat daardie bedrieër gesê het toe hy nog gelewe het: ‘Ná drie dae sal ek opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot die derde dag toe bewaak moet word, sodat sy dissipels nie dalk kom en hom steel en vir die volk sê: ‘Hy is uit die dood opgewek!’ nie. Anders sal hierdie laaste bedrog erger wees as die eerste.” Pilatus sê vir hulle: “Julle kan ’n wag kry. Pas dit so goed op as wat julle kan.” – Matteus 27:63-65.

Vroeg die Sondagoggend bring Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus en ander vroue speserye na die graf om Jesus se liggaam te behandel. Hulle vra vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” (Markus 16:3). Maar daar was ’n aardbewing. En God se engele het die klip weggerol, die wagte is weg en dit lyk asof die graf leeg is!