Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 134

’n Leë graf – want Jesus lewe!

’n Leë graf – want Jesus lewe!

MATTEUS 28:3-15 MARKUS 16:5-8 LUKAS 24:4-12 JOHANNES 20:2-18

  • JESUS IS OPGEWEK

  • GEBEURE BY JESUS SE GRAF

  • JESUS VERSKYN AAN VERSKILLENDE VROUENS

Die vrouens is geskok omdat dit lyk asof die graf leeg is! Maria Magdalena hardloop na “Simon Petrus en die ander dissipel, vir wie Jesus lief was” – die apostel Johannes (Johannes 20:2). Maar die ander vrouens by die graf sien ’n engel. En binne die graf is daar nog ’n engel “in ’n lang wit kleed”. – Markus 16:5.

Een van die engele sê vir hulle: “Moenie bang wees nie, want ek weet dat julle na Jesus soek, wat aan ’n paal gehang is. Hy is nie hier nie, want hy is opgewek, soos hy gesê het. Kom kyk na die plek waar hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels dat hy uit die dood opgewek is, want hy gaan voor julle uit na Galilea” (Matteus 28:5-7). Die vrouens bewe “van skrik en verbasing” en hardloop om vir die dissipels te gaan vertel. – Markus 16:8.

Teen hierdie tyd het Maria vir Petrus en Johannes gevind. Uitasem sê sy vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle hom neergelê het nie” (Johannes 20:2). Petrus en Johannes hardloop na die graf toe. Johannes is vinniger en kom eerste by die graf aan. Hy loer by die graf in en sien die verbande, maar hy gaan nie in nie.

Wanneer Petrus daar aankom, gaan hy onmiddellik in. Hy sien die linnedoeke en die doek wat gebruik was om Jesus se kop toe te draai. Nou gaan Johannes in en hy glo wat Maria vir hulle vertel het. Maar ten spyte van wat Jesus vroeër gesê het, verstaan nie een van hulle dat hy opgewek is nie (Matteus 16:21). Hulle wonder wat gebeur het en gaan huis toe. Maar Maria, wat na die graf toe teruggekom het, bly daar.

Intussen is die ander vrouens op pad om vir die dissipels te sê dat Jesus opgewek is. Terwyl hulle hardloop om dit te doen, kry Jesus vir hulle langs die pad en sê hy: “Goeiedag!” Hulle val by sy voete neer en ‘bewys eer aan hom’. Dan sê Jesus: “Moenie bang wees nie! Gaan vertel my broers, sodat hulle na Galilea kan gaan, en daar sal hulle my sien.” – Matteus 28:9, 10.

Vroeër, toe daar ’n aardbewing was en die engele verskyn het, het die soldate by die graf “gebewe . . . en soos dooie mans geword”. Nadat hulle van die skok herstel het, het hulle by die stad ingegaan en “vir die hoofpriesters alles vertel wat gebeur het”. Toe het die priesters met ouermanne van die Jode gaan praat. Hulle het besluit om die soldate om te koop om nie te sê wat by die graf gebeur het nie, maar om eerder te sê: “Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.” – Matteus 28:4, 11, 13.

Romeinse soldate kan doodgemaak word as hulle op hulle pos aan die slaap raak, en daarom belowe die priesters: “As die goewerneur daarvan hoor [hulle leuen dat hulle aan die slaap geraak het], sal ons die saak aan hom verduidelik, en julle sal nie bekommerd hoef te wees nie” (Matteus 28:14). Die soldate vat die geld en doen wat die priesters sê. So word die storie dat Jesus se liggaam gesteel is, onder die Jode versprei.

Maria Magdalena huil nog steeds by die graf. Sy buk vorentoe om by die graf in te kyk en sien twee engele in wit! Een sit by die kop waar Jesus se liggaam gelê het en die ander by die voete. Hulle vra: “Vrou, hoekom huil jy?” Maria antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem, en ek weet nie waar hulle hom neergelê het nie.” Toe Maria omdraai, sien sy iemand anders. Hy vra dieselfde vraag wat die engele gevra het en hy vra ook: “Na wie soek jy?” Sy dink dat hy die tuinier is, en daarom sê sy: “Meneer, as u hom weggedra het, sê vir my waar u hom neergelê het, en ek sal hom wegneem.” – Johannes 20:13-15.

Maria praat eintlik met Jesus, wat opgewek is, maar op hierdie oomblik herken sy hom nie. Maar wanneer hy sê: “Maria!” weet sy dat dit Jesus is, want sy herken die manier hoe hy met haar praat. Maria skree vol vreugde: “Rabboeni!” (wat “leermeester” beteken). Maar omdat sy bang is dat hy op daardie oomblik na die hemel gaan opvaar, gryp sy hom en hou sy hom vas. Daarom sê Jesus vir haar: “Hou op om aan my vas te klou, want ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.’” – Johannes 20:16, 17.

Maria hardloop na die plek waar die apostels en ander dissipels bymekaargekom het. Sy sê vir hulle: “Ek het die Here gesien!” Dit bevestig wat die ander vrouens vir hulle gesê het (Johannes 20:18). Maar hulle dink dat die vrouens “hierdie dinge opmaak”. – Lukas 24:11.