Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 136

By die See van Galilea

By die See van Galilea

JOHANNES 21:1-25

  • JESUS VERSKYN BY DIE SEE VAN GALILEA

  • PETRUS EN ANDER MOET DIE SKAPIES VOED

Op Jesus se laaste aand saam met die apostels, het hy vir hulle gesê: “Nadat ek opgewek is, sal ek voor julle uit gaan na Galilea” (Matteus 26:32; 28:7, 10). Nou gaan baie van sy volgelinge na Galilea toe, maar wat moet hulle daar doen?

Op een of ander stadium sê Petrus vir ses van die apostels: “Ek gaan visvang.” Al ses van hulle sê: “Ons kom saam met jou” (Johannes 21:3). Die hele nag vang hulle niks nie. Terwyl die son opkom, verskyn Jesus op die strand, maar hulle besef nie wie dit is nie. Jesus roep uit: “Vriende, het julle nie iets om te eet nie?” Hulle antwoord: “Nee!” Jesus sê vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit, en julle sal iets vind” (Johannes 21:5, 6). Hulle vang so baie visse dat hulle nie eers die net in die boot kan intrek nie.  

“Dit is die Here!” sê Johannes vir Petrus (Johannes 21:7). Petrus trek vinnig sy bo-kleed aan, wat hy nie gedra het toe hy visgevang het nie. Hy spring in die see en swem omtrent 90 meter na die strand toe. Die ander in die boot kom stadig agterna terwyl hulle die net vol vis trek.

Toe hulle by die strand aankom, sien hulle “’n vuur . . . met vis en brood wat daarop lê”. Jesus sê: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” Petrus trek die net na die land toe, en daar is 153 groot visse daarin! “Kom, eet julle ontbyt,” sê Jesus. Nie een van hulle het die moed om te vra: “Wie is u?” nie omdat hulle besef dat dit Jesus is (Johannes 21:9-12). Dit is die derde keer dat Jesus aan sy dissipels as ’n groep verskyn.

Jesus gee vir elkeen van hulle brood en vis om te eet. Dan, terwyl hy blykbaar na die visse kyk wat hulle gevang het, vra hy: “Simon, seun van Johannes, is jy liewer vir my as vir hulle?” Is Petrus meer geheg aan sy werk as ’n visserman as aan die werk wat Jesus vir hom gegee het om te doen? Petrus antwoord: “Ja, Here, u weet dat ek lief is vir u.” Jesus sê vir hom: “Voed my lammers.” – Johannes 21:15.

Jesus vra weer: “Simon, seun van Johannes, het jy my lief?” Petrus verstaan dalk nie hoekom Jesus dit vra nie, en daarom antwoord hy ernstig: “Ja, Here, u weet dat ek lief is vir u.” Jesus gee hom ’n soortgelyke antwoord: “Hou as herder toesig oor my skapies.” – Johannes 21:16.

Jesus vra ’n derde keer: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir my?” Nou wonder Petrus dalk of Jesus twyfel of hy lojaal is. Petrus sê ferm: “Here, u weet alles. U weet dat ek lief is vir u.” Weer eens sê Jesus wat Petrus moet doen: “Voed my skapies” (Johannes 21:17). Ja, dié wat die leiding neem, moet vir dié sorg wat in God se skaapkraal inkom.

Jesus was gebind en doodgemaak omdat hy die werk gedoen het wat God hom gegee het om te doen. Nou sê hy dat iets soortgelyks met Petrus sal gebeur. Jesus sê: “Toe jy jonger was, het jy jouself aangetrek en rondgeloop waar jy ook al wou. Maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou aantrek en jou dra waarheen jy nie wil gaan nie.” Maar Jesus moedig hom aan: “Hou aan om my te volg.” – Johannes 21:18, 19.

Petrus sien die apostel Johannes en vra: “Here, wat van hierdie man?” Ja, wat hou die toekoms in vir die apostel vir wie Jesus veral lief is? Jesus antwoord: “As dit my wil vir hom is om te bly totdat ek kom, hoekom bekommer jy jou daaroor?” (Johannes 21:21-23). Petrus moet Jesus volg sonder om bekommerd te wees oor wat ander doen. Maar tog wys Jesus se woorde dat Johannes langer as die ander apostels sal lewe en ’n visioen sal kry van Jesus se koms as Koning.

Daar is natuurlik ander dinge wat Jesus gedoen het, meer as wat baie boekrolle kan bevat.