Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 138

Christus aan God se regterhand

Christus aan God se regterhand

HANDELINGE 7:56

  • JESUS SIT AAN GOD SE REGTERHAND

  • SAULUS WORD ’N DISSIPEL

  • ONS HET REDE OM BLY TE WEES

Tien dae nadat Jesus hemel toe gegaan het, het die uitstorting van die heilige gees op Pinksterdag bewys dat hy werklik in die hemel is. En daar sou later nog bewyse hiervan wees. Net voordat die dissipel Stefanus gestenig is vir sy getroue getuieniswerk, het hy uitgeroep: “Kyk! Ek sien dat die hemel oop is en dat die Seun van die mens aan God se regterhand staan.” – Handelinge 7:56.

Terwyl Jesus saam met sy Vader in die hemel is, sou hy wag vir ’n spesifieke opdrag wat in God se Woord voorspel is. Dawid is geïnspireer om te skryf: “Jehovah het vir my Here [Jesus] gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak.’” Nadat hy klaar gewag het, sou hy ‘tussen sy vyande ingaan en hulle onderwerp’ (Psalm 110:1, 2). Maar wat sou Jesus in die hemel doen terwyl hy wag om teen sy vyande te veg?

Op Pinkster 33 HJ is die Christengemeente gevorm. Jesus het vanuit die hemel oor sy geesgesalfde dissipels begin regeer (Kolossense 1:13). Hy het hulle in hulle predikingswerk gelei en hulle voorberei vir hulle toekomstige rol. Watter rol? Dié wat getrou bly tot die dood toe, sou uiteindelik opgewek word en saam met Jesus as konings in die Koninkryk regeer.

’n Uitstekende voorbeeld van iemand wat een van hierdie konings sou wees, was Saulus, wat meer bekend is onder sy Romeinse naam, Paulus. Hy was ’n Jood wat vir ’n lang tyd ywerig was vir God se Wet, maar hy was so mislei deur die Joodse godsdiensleiers dat hy die moord van Stefanus goedgekeur het. Toe, terwyl hy “die dissipels van die Here gedreig het en hulle wou vermoor,” het hy na Damaskus gegaan. Hy het toestemming by die hoëpriester Kajafas gekry om Jesus se dissipels te arresteer en hulle na Jerusalem terug te bring (Handelinge 7:58; 9:1). Maar terwyl Saulus op pad was, het ’n helder lig op hom geskyn en het hy op die grond neergeval.

“Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?” het ’n stem uit die hemel vir hom gevra. “Wie is u, Here?” het Saulus gevra. “Ek is Jesus, die een wat jy vervolg”, het die stem gesê. – Handelinge 9:4, 5.

Jesus het vir Saulus gesê om na Damaskus te gaan en te wag vir verdere instruksies, maar hy moes na die stad gelei word omdat die helder lig hom blind gemaak het. In ’n ander visioen het Jesus aan Ananias, een van sy dissipels wat in Damaskus bly, verskyn. Jesus het vir Ananias gesê om na ’n sekere adres te gaan om Saulus te vind. Ananias was eers bang om te gaan, maar Jesus het hom verseker: “Ek het hierdie man gekies om die nasies sowel as konings en die Israeliete van my naam te vertel.” Saulus kon weer sien, en daar in Damaskus het hy “begin preek oor Jesus, dat hy die Seun van God is”. – Handelinge 9:15, 20.

Met Jesus se ondersteuning het Paulus en ander evangeliedienaars aangehou met die predikingswerk wat Jesus begin het. God het hulle met wonderlike resultate geseën. Omtrent 25 jaar nadat Jesus op die pad na Damaskus aan hom verskyn het, het Paulus geskryf dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is”. – Kolossense 1:23.

Jare later het Jesus vir die apostel Johannes, vir wie hy baie lief is, ’n reeks visioene gegee, wat in die Bybelboek Openbaring gevind word. Deur hierdie visioene het Johannes gesien hoe Jesus terugkeer om as Koning te regeer (Johannes 21:22). “Deur middel van die heilige gees het [Johannes hom] bevind in die dag van die Here” (Openbaring 1:10). Wanneer sou dit wees?

’n Deeglike studie van Bybelprofesieë wys dat “die dag van die Here” in 1914 begin het. In daardie jaar het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. En in die jare daarna was daar baie meer oorloë, vreeslike siektes, hongersnood, aardbewings en ander bewyse wat wys dat “die teken” wat Jesus aan sy apostels gegee het oor sy “teenwoordigheid” en “die einde” op groot skaal vervul word (Matteus 24:3, 7, 8, 14). Die goeie nuus van die Koninkryk word nou regoor die wêreld verkondig, nie net in die gebied van die ou Romeinse Ryk nie.

Johannes is geïnspireer om te beskryf wat dit beteken: “Nou het die redding en die krag en die Koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom” (Openbaring 12:10). Ja, die Koninkryk van God in die hemel, wat Jesus oral verkondig het, is ’n werklikheid!

Dit is wonderlike nuus vir al Jesus se getroue dissipels. Johannes het gesê: “Daarom, wees bly, o hemele en julle wat daarin woon! Dit sal sleg gaan met die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en is woedend omdat hy weet dat hy min tyd het.” – Openbaring 12:12.

So Jesus sit nie meer aan sy Vader se regterhand en wag nie. Hy regeer as Koning en sal binnekort al sy vyande vernietig (Hebreërs 10:12, 13). Watter opwindende dinge kan ons na uitsien?