Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 139

Jesus maak die aarde ’n paradys en voltooi sy toewysing

Jesus maak die aarde ’n paradys en voltooi sy toewysing

1 KORINTIËRS 15:24-28

  • DIE TOEKOMS VAN DIE SKAPE EN DIE BOKKE

  • BAIE SAL DIE PARADYS OP AARDE GENIET

  • JESUS IS DIE WEG, DIE WAARHEID, DIE LEWE

Kort ná Jesus se doop, het hy ’n vyand gehad wat vasbeslote was om te keer dat hy suksesvol is, selfs voordat hy met sy bediening begin het. Ja, die Duiwel het aanhou probeer om Jesus te versoek. Jesus het later die volgende oor hom gesê: “Die heerser van die wêreld kom, en hy het geen mag oor my nie.” – Johannes 14:30.

Die apostel Johannes het in ’n visioen gesien wat met “die groot draak . . . , die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word,” sou gebeur. Hierdie wrede vyand van die mens sou uit die hemel gegooi word en “woedend [wees] omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:9, 12). Christene het goeie rede om te glo dat hulle gedurende hierdie tyd lewe en dat “die draak . . . , die oorspronklike slang,” binnekort in die afgrond gegooi sal word en 1 000 jaar lank niks sal kan doen nie terwyl Jesus in God se Koninkryk regeer. – Openbaring 20:1, 2.

Wat sal gedurende hierdie tydperk op die aarde gebeur? Wie sal hier bly, en in watter toestande? Jesus self het die antwoord gegee. In sy illustrasie oor die skape en die bokke het hy gewys wat die toekoms inhou vir regverdige mense wat soos skape is, wat met Jesus se broers saamwerk en goeie dinge vir hulle doen. Hy het ook gewys wat met dié sou gebeur wat die teenoorgestelde doen, dié wat soos bokke is. Jesus het gesê: “Hulle [die bokke] sal vir ewig afgesny word, maar die regverdiges [die skape] sal die ewige lewe ontvang.” – Matteus 25:46.

Dit help ons om Jesus se woorde aan die misdadiger wat aan die paal langs hom gehang het, te verstaan. Jesus het nie vir daardie man gesê dat hy saam met hom in die Koninkryk van die hemel sou regeer, die belofte wat hy aan sy apostels gemaak het nie. Jesus het eerder vir die berouvolle misdadiger belowe: “Ek verseker jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Jesus het daardie man die hoop gegee om in die Paradys – ’n pragtige park of tuin – te lewe. Dit maak sin dat dié wat soos skape is en wat “die ewige lewe ontvang”, ook in daardie Paradys sal wees.

Dit stem ooreen met die apostel Johannes se beskrywing van die toestande op die aarde gedurende daardie tyd. Hy het gesê: “Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees. En God self sal by hulle wees. En God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie. Die vorige dinge is verby.” – Openbaring 21:3, 4.

Vir daardie misdadiger om lewe in die Paradys te geniet, moet hy uit die dood opgewek word. En hy sal nie die enigste een wees wat opgewek sal word nie. Jesus het dit duidelik gemaak toe hy gesê het: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, en dié wat walglike dinge gedoen het, tot ’n opstanding van oordeel.” – Johannes 5:28, 29.

Maar wat van die getroue apostels en die beperkte aantal ander wat saam met Jesus in die hemel sal wees? Die Bybel sê: “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die 1 000 jaar lank saam met hom as konings regeer” (Openbaring 20:6). Hierdie persone wat saam met Christus sal regeer, sal manne en vroue wees wat op die aarde gelewe het. So hulle sal beslis dié wat op die aarde is, verstaan en meegevoel met hulle hê wanneer hulle uit die hemel regeer. – Openbaring 5:10.

Jesus sal sy losprys gebruik om mense op die aarde te bevry van die vloek van oorgeërfde sonde. Hy en dié wat saam met hom regeer, sal mense help om weer volmaak te word. Ja, mense sal dan die lewe geniet wat God oorspronklik vir hulle wou hê toe hy vir Adam en Eva gesê het om vrugbaar te wees en die aarde te vul. Selfs die dood wat deur Adam se sonde veroorsaak is, sal nie meer daar wees nie!

Op hierdie manier sal Jesus alles gedoen het wat Jehovah hom gevra het om te doen. Nadat Jesus ’n duisend jaar lank regeer het, sal hy die Koninkryk en die volmaakte mensegesin aan sy Vader oorgee. Die apostel Paulus het die volgende geskryf oor hierdie groot nederige daad van Jesus: “Wanneer alles aan hom onderwerp is, sal die Seun hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees.” – 1 Korintiërs 15:28.

Dit is duidelik dat Jesus ’n baie belangrike rol speel in die vervulling van God se wonderlike voornemens. En terwyl daardie voornemens tot in alle ewigheid aanhou waar word, sal dit duidelik wees dat Jesus altyd “die weg en die waarheid en die lewe” is. – Johannes 14:6.