Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 70

Jesus genees ’n man wat blind gebore is

Jesus genees ’n man wat blind gebore is

JOHANNES 9:1-18

  • ’N BEDELAAR WAT BLIND GEBORE IS, WORD GENEES

Jesus is nog steeds in Jerusalem op die Sabbat. Terwyl hy en sy dissipels in die stad loop, sien hulle ’n bedelaar wat blind gebore is. Die dissipels vra Jesus: “Rabbi, hoe is dit dat hierdie man blind gebore is? Wie het gesondig: hy of sy ouers?” – Johannes 9:2.

Die dissipels weet dat die man nie ’n onsigbare siel het wat bestaan het voordat hy gebore is nie, maar hulle wonder dalk of iemand in sy ma se baarmoeder kan sondig. Jesus antwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar dit was sodat die werke van God in sy geval bekend gemaak kon word” (Johannes 9:3). Nie hierdie man of sy ouers is dus skuldig aan ’n spesifieke sonde wat veroorsaak het dat hy blind is nie. Dit is eerder as gevolg van Adam se sonde dat alle mense onvolmaak gebore word en soms gebreke het, soos blindheid. Maar die man se blindheid gee Jesus die geleentheid om die werke van God bekend te maak, soos hy by ander geleenthede gedoen het toe hy mense gesond gemaak het.

Jesus beklemtoon dat dit dringend is om hierdie werke te doen. “Terwyl dit dag is, moet ons die werke doen van die Een wat my gestuur het,” sê hy. “Die nag kom wanneer geen mens kan werk nie. Solank ek in die wêreld is, is ek die lig van die wêreld” (Johannes 9:4, 5). Ja, Jesus se dood sal hom binnekort in die duisternis van die graf laat beland, waar hy niks kan doen nie. Intussen is hy ’n bron van lig vir die wêreld.

Maar sal Jesus die man genees, en indien wel, hoe? Jesus spoeg op die grond en maak klei met die speeksel. Hy sit van die klei op die blinde man se oë en sê: “Gaan was jou in die bad Siloam” (Johannes 9:7). Die man doen dit. Wanneer hy dit doen, kan hy sien! Dink net hoe bly hy moet wees om vir die eerste keer in sy lewe te kan sien!

Bure en ander wat geweet het dat hy blind is, is verbaas. “Dit is mos die man wat altyd gesit en bedel het, is dit nie?” vra hulle. “Dit is hy,” antwoord party. Maar ander kan dit nie glo nie en sê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Die man sê self: “Dit is ek.” – Johannes 9:8, 9.

Daarom vra hulle hom: “Hoe is jou oë dan geopen?” Hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en toe kon ek sien.” Dan vra hulle: “Waar is hierdie man?” Die bedelaar antwoord: “Ek weet nie.” – Johannes 9:10-12.

Die mense neem die man na die Fariseërs, wat ook wil weet hoe hy kan sien. Hy sê vir hulle: “Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en nou kan ek sien.” Dit sou net natuurlik wees as die Fariseërs bly was dat die bedelaar nou genees is. In plaas daarvan beskuldig hulle Jesus en beweer: “Hy is nie ’n man wat van God af kom nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Maar ander sê: “Hoe kan ’n mens wat ’n sondaar is, sulke wonderwerke doen?” (Johannes 9:15, 16). Hulle is dus verdeeld.

Omdat hulle verdeeld is en nie saamstem nie, draai hulle na die man wat nou kan sien en vra hulle hom: “Wat het jy oor hom te sê, aangesien hy jou oë geopen het?” Hy het geen twyfelgedagtes oor Jesus nie en sê: “Hy is ’n profeet.” – Johannes 9:17.

Die Jode weier om dit te glo. Hulle dink dalk dat Jesus en hierdie man saam gekonkel het om die mense om die bos te lei. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat hulle die saak slegs kan oplos deur die bedelaar se ouers te ondervra om uit te vind of hy regtig blind was.