Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VIER

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?

1, 2. (a) Ken jy ’n beroemde persoon regtig as jy net weet wat sy naam is? Verduidelik. (b) Wat glo mense omtrent Jesus?

DAAR is baie beroemde mense in die wêreld. Jy ken miskien die naam van ’n beroemde persoon. Maar net omdat jy sy naam ken, beteken nie dat jy hom goed ken nie. Dit beteken nie dat jy alles omtrent hom weet of dat jy regtig weet watter soort persoon hy is nie.

2 Jy het miskien al van Jesus Christus gehoor, al het hy ongeveer 2 000 jaar gelede op die aarde gelewe. Maar die meeste mense weet nie watter soort persoon Jesus was nie. Party sê dat hy ’n goeie mens was, party sê dat hy ’n profeet was en party glo dat hy God is. Wat dink jy? – Sien Eindnota 12.

3. Hoekom is dit belangrik dat jy Jehovah God en Jesus Christus ken?

3 Dit is belangrik dat jy weet wat die waarheid omtrent Jesus is. Hoekom? Die Bybel sê vir ons: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God, en ook die een wat u gestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, as jy die waarheid omtrent Jehovah en Jesus ken, kan jy vir ewig op ’n paradysaarde lewe (Johannes 14:6). As jy Jesus ken, sal dit jou ook nou help, want hy is die beste voorbeeld van hoe om te lewe en hoe om ander te behandel (Johannes 13:34, 35). In Hoofstuk 1 het ons die waarheid omtrent God geleer. Nou sal ons leer wat die Bybel omtrent Jesus leer.

ONS HET DIE MESSIAS GEVIND!

4. Wat beteken die woorde “Messias” en “Christus”?

4 Baie jare voordat Jesus gebore is, het Jehovah in die Bybel belowe dat hy die Messias, dit wil sê die Christus, sou stuur. Die woord “Messias” kom van ’n Hebreeuse woord, en die woord “Christus” kom van ’n Griekse woord. Albei hierdie titels beteken “Gesalfde” en dui aan dat God die beloofde Messias sou kies en hom ’n spesiale posisie sou gee. Die Messias sal al God se beloftes waar laat word. In hierdie boek sal ons ook bespreek hoe Jesus jou nou al kan help. Maar voordat Jesus gebore is, het baie mense gewonder: ‘Wie sal die Messias wees?’

5. Het Jesus se dissipels geglo dat hy die Messias is?

5 Jesus se dissipels was heeltemal seker dat hy die beloofde Messias is (Johannes 1:41). Simon Petrus het byvoorbeeld vir Jesus gesê: “U is die Christus” (Matteus 16:16). Hoe kan ons seker wees dat Jesus die Messias is?

6. Hoe het Jehovah opregte mense gehelp om te weet wie die Messias is?

6 Lank voordat Jesus gebore is, het God se profete baie besonderhede neergeskryf wat mense sou help om die Messias te identifiseer. Hoe sou hierdie besonderhede mense help? Sê nou iemand vra jou om na ’n besige treinstasie te gaan om iemand te gaan haal wat jy nog nooit ontmoet het nie. Jy sal die persoon kan vind as iemand vir jou mooi beskryf hoe hy lyk. Net so het Jehovah sy profete gebruik om vir ons te vertel wat die Messias sou doen en wat met hom sou gebeur. Die vervulling van al daardie profesieë help opregte mense om te weet dat Jesus die Messias is.

7. Wat is twee profesieë wat bewys dat Jesus die Messias is?

7 Kom ons kyk na twee van daardie profesieë. Eerstens, 700 jaar voordat Jesus gebore is, het Miga voorspel dat die Messias in die klein dorpie Betlehem gebore sou word (Miga 5:2). En dit is waar Jesus gebore is! (Matteus 2:1, 3-9). Tweedens, Daniël het voorspel dat die Messias in die jaar 29 HJ sou verskyn (Daniël 9:25). Dit is net twee van die baie profesieë wat duidelik bewys dat Jesus die beloofde Messias is. – Sien Eindnota 13.

By sy doop het Jesus die Messias, dit wil sê die Christus, geword

8, 9. Wat het by Jesus se doop gebeur wat bewys dat hy die Messias is?

8 Jehovah het dit baie duidelik gemaak dat Jesus die Messias is. God het belowe om Johannes die Doper ’n teken te gee sodat hy sou weet wie die Messias is. Toe Jesus in die jaar 29 HJ na Johannes gegaan het om in die Jordaanrivier gedoop te word, het Johannes daardie teken gesien. Die Bybel sê vir ons wat gebeur het: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom. En kyk! die hemel het oopgegaan, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! ’n Stem het ook uit die hemel gesê: ‘Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het’” (Matteus 3:16, 17). Toe Johannes hierdie teken gesien en gehoor het, het hy geweet dat Jesus die Messias is (Johannes 1:32-34). Op daardie dag, toe Jehovah sy gees op Jesus uitgestort het, het Jesus die Messias geword. Hy was die een wat God gekies het om Leier en Koning te wees. – Jesaja 55:4.

9 Bybelprofesieë, Jehovah se eie woorde en die teken wat Hy by Jesus se doop gegee het, bewys dat Jesus die Messias is. Maar waar het Jesus vandaan gekom, en watter soort persoon was hy? Kom ons kyk wat die Bybel sê.

WAAR HET JESUS VANDAAN GEKOM?

10. Wat leer die Bybel oor Jesus se lewe voordat hy na die aarde toe gekom het?

10 Die Bybel leer dat Jesus ’n lang tyd in die hemel gelewe het voordat hy na die aarde toe gekom het. Miga het oor die Messias gesê: “Sy oorsprong is uit die verre verlede” (Miga 5:2). En Jesus het baie keer gesê dat hy in die hemel gelewe het voordat hy as ’n mens gebore is. (Lees Johannes 3:13; 6:38, 62; 17:4, 5.) Selfs voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy ’n spesiale verhouding met Jehovah gehad.

11. Hoekom is Jesus vir Jehovah so spesiaal?

11 Jesus is vir Jehovah baie spesiaal. Hoekom? Want God het hom geskep voordat hy enigiets of enigiemand anders geskep het. Daarom word Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” genoem (Kolossense 1:15). * Jesus is ook vir Jehovah spesiaal omdat hy die enigste een is wat direk deur Jehovah geskep is. Dit is waarom hy die “eniggebore Seun” genoem word (Johannes 3:16). Jesus is ook die enigste een wat deur Jehovah gebruik is om alle ander dinge te skep (Kolossense 1:16). En net Jesus word “die Woord” genoem, want Jehovah het hom gebruik om boodskappe en instruksies aan engele en mense te gee. – Johannes 1:14.

12. Hoe weet ons dat Jesus en God nie dieselfde persoon is nie?

12 Party mense glo dat Jesus en God dieselfde persoon is. Maar dit is nie wat die Bybel leer nie. Die Bybel sê dat Jesus geskep is, wat beteken dat Jesus ’n begin gehad het. Maar Jehovah, wat alles geskep het, het nie ’n begin gehad nie (Psalm 90:2). As God se Seun het Jesus nooit daaraan gedink om God te probeer wees nie. Die Bybel leer duidelik dat die Vader groter is as die Seun. (Lees Johannes 14:28; 1 Korintiërs 11:3.) Net Jehovah is “God die Almagtige” (Genesis 17:1). Hy is die grootste en magtigste persoon in die heelal. – Sien Eindnota 14.

13. Hoekom sê die Bybel dat Jesus “die beeld van die onsigbare God” is?

13 Jehovah en sy Seun, Jesus, het duisendmiljoene jare lank saam gewerk voordat die hemel en aarde geskep is. Hulle moes baie lief vir mekaar gewees het! (Johannes 3:35; 14:31). Jesus het sy Vader se eienskappe so goed nagevolg dat die Bybel hom “die beeld van die onsigbare God” noem. – Kolossense 1:15.

14. Hoe kon Jehovah se geliefde Seun as ’n mens gebore word?

14 Jehovah se geliefde Seun was bereid om die hemel te verlaat en as ’n mens op die aarde gebore te word. Hoe was dit vir hom moontlik om as ’n mens gebore te word? Jehovah het ’n wonderwerk gedoen en sy Seun se lewe uit die hemel na die baarmoeder van ’n maagd met die naam Maria oorgeplaas. Daarom het Jesus nie ’n mensevader nodig gehad nie. Maria het dus aan ’n volmaakte seun geboorte gegee, en sy het hom Jesus genoem. – Lukas 1:30-35.

WATTER SOORT PERSOON WAS JESUS?

15. Hoe kan jy Jehovah beter leer ken?

15 Jy kan baie leer oor Jesus, sy lewe en sy eienskappe deur die Bybelboeke Matteus, Markus, Lukas en Johannes te lees. Hierdie boeke word die Evangelies genoem. Omdat Jesus net soos sy Vader is, kan wat jy lees jou ook help om Jehovah beter te leer ken. Dit is waarom Jesus kon sê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien.” – Johannes 14:9.

16. Wat het Jesus mense geleer? Waar het Jesus se leringe vandaan gekom?

16 Baie mense het Jesus “Leermeester” genoem (Johannes 1:38; 13:13). Een van die belangrikste dinge wat hy mense geleer het, was “die goeie nuus van die Koninkryk”. Wat is hierdie Koninkryk? Dit is God se regering wat uit die hemel oor die hele aarde sal regeer en seëninge sal bring vir mense wat God gehoorsaam (Matteus 4:23). Alles wat Jesus mense geleer het, het van Jehovah af gekom. Jesus het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Jesus het geweet dat Jehovah wil hê dat mense die goeie nuus moet hoor dat God se Koninkryk oor die aarde sal regeer.

17. Waar het Jesus mense geleer? Hoekom het hy so hard gewerk om ander te leer?

17 Waar het Jesus mense geleer? Oral waar hy mense kon vind – in stede, in dorpies, by markte, by plekke van aanbidding en in mense se huise. Hy het nie verwag dat mense na hom toe moet kom nie. Hy het dikwels na hulle toe gegaan (Markus 6:56; Lukas 19:5, 6). Jesus het hard gewerk en het baie tyd en energie gebruik om mense te leer. Hoekom? Omdat hy geweet het dat God wou hê dat hy dit moet doen, en omdat hy altyd gehoorsaam was aan sy Vader (Johannes 8:28, 29). Jesus het ook gepreek omdat hy jammer gevoel het vir mense. (Lees Matteus 9:35, 36.) Hy kon sien dat die godsdiensleiers nie die waarheid omtrent God en sy Koninkryk leer nie. Daarom wou hy soveel mense as moontlik help om die goeie nuus te hoor.

18. Van watter eienskappe van Jesus hou jy die meeste?

18 Jesus was lief vir mense en het vir hulle omgegee. Hy was vriendelik, en mense kon maklik met hom praat. Selfs kinders het daarvan gehou om by hom te wees (Markus 10:13-16). Jesus was altyd regverdig. Hy het korrupsie en ongeregtigheid gehaat (Matteus 21:12, 13). Hy het in ’n tyd gelewe toe vroue nie baie regte gehad het nie en nie met respek behandel is nie. Maar Jesus het vroue altyd met respek behandel en het hulle laat voel dat hulle waardevol is (Johannes 4:9, 27). Jesus was ook werklik nederig. Een aand het hy byvoorbeeld die voete van sy apostels gewas, iets wat gewoonlik deur ’n slaaf gedoen is. – Johannes 13:2-5, 12-17.

Jesus het gepreek waar hy ook al mense gevind het

19. Wat wys dat Jesus geweet het wat mense werklik nodig gehad het en dat hy hulle wou help?

19 Jesus het geweet wat mense werklik nodig gehad het, en hy wou hulle help. Dit was baie duidelik toe hy deur middel van God se krag wonderwerke gedoen het om mense te genees (Matteus 14:14). ’n Melaatse man het byvoorbeeld na Jesus toe gekom en gesê: “As u net wil, kan u my gesond maak.” Jesus is diep geraak deur hierdie man se pyn en lyding. Hy het jammer gevoel vir hom en wou hom help. Daarom het Jesus sy hand uitgesteek, aan die man geraak en vir hom gesê: “Ek wil! Word gesond.” En die siek man het gesond geword! (Markus 1:40-42). Kan jy jou voorstel hoe daardie man moes gevoel het?

ALTYD GETROU AAN SY VADER

20, 21. Hoekom is Jesus die beste voorbeeld van gehoorsaamheid aan God?

20 Jesus is die beste voorbeeld van gehoorsaamheid aan God. Maak nie saak wat gebeur het nie of wat sy vyande aan hom gedoen het nie, hy was altyd getrou aan sy Vader. Byvoorbeeld, Jesus het nie gesondig toe Satan hom in die versoeking probeer lei het nie (Matteus 4:1-11). Sommige van Jesus se eie gesinslede het nie geglo dat hy die Messias is nie en het gesê dat hy “van sy kop af” is, maar Jesus het aangehou om God se werk te doen (Markus 3:21). Toe Jesus se vyande hom wreed behandel het, het hy getrou aan God gebly, en hy het hulle nooit probeer kwaad aandoen nie. – 1 Petrus 2:21-23.

21 Selfs toe Jesus ’n wrede en pynlike dood gesterf het, het hy getrou aan Jehovah gebly. (Lees Filippense 2:8.) Stel jou voor wat hy alles moes deurmaak op die dag van sy dood. Hy is in hegtenis geneem, valse getuies het hom daarvan beskuldig dat hy nie respek vir God gehad het nie, korrupte regters het hom veroordeel, skares het hom uitgelag en soldate het hom gemartel en hom aan ’n paal gehang. Toe hy gesterf het, het hy uitgeroep: “Dit is afgehandel!” (Johannes 19:30). Drie dae ná Jesus se dood het Jehovah hom opgewek en hom ’n geesliggaam gegee (1 Petrus 3:18). ’n Paar weke later het Jesus na die hemel teruggekeer. Hy het “aan die regterhand van God gaan sit” en gewag vir God om hom Koning te maak. – Hebreërs 10:12, 13.

22. Watter geleentheid het ons omdat Jesus getrou aan sy Vader gebly het?

22 Omdat Jesus getrou aan sy Vader gebly het, het ons die geleentheid om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe, net soos Jehovah wou hê. In die volgende hoofstuk sal ons bespreek hoe Jesus se dood dit vir ons moontlik maak om vir ewig te lewe.

^ par. 11 Jehovah word ’n Vader genoem omdat hy die Skepper is (Jesaja 64:8). Jesus word God se Seun genoem omdat Jehovah hom geskep het. Engele, sowel as die man Adam, word ook seuns van God genoem. – Job 1:6; Lukas 3:38.