Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VYF

Die losprys – God se grootste geskenk

Die losprys – God se grootste geskenk

1, 2. (a) Wat maak ’n geskenk vir jou waardevol? (b) Hoekom is die losprys God se grootste geskenk?

WAT is die beste geskenk wat jy al ooit ontvang het? ’n Geskenk hoef nie duur te wees om vir jou waardevol te wees nie. Wanneer ’n geskenk jou gelukkig maak of wanneer dit iets is wat jy regtig nodig het, is jy dankbaar daarvoor.

2 Van al die geskenke wat God vir ons gegee het, is daar een geskenk wat ons nodiger het as enigiets anders. Dit is God se grootste geskenk aan mense. In hierdie hoofstuk sal ons leer dat Jehovah sy Seun, Jesus Christus, gestuur het sodat ons vir ewig kan lewe. (Lees Matteus 20:28.) Deur Jesus as ’n losprys na die aarde toe te stuur, het Jehovah bewys dat hy ons regtig liefhet.

WAT IS DIE LOSPRYS?

3. Hoekom sterf mense?

3 Jehovah het die losprys voorsien om mense van sonde en die dood te bevry (Efesiërs 1:7). Om te verstaan waarom die losprys nodig was, moet ons weet wat duisende jare gelede in die tuin van Eden gebeur het. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het gesondig. Omdat hulle gesondig het, het hulle gesterf. Ons sterf ook omdat ons sonde van Adam en Eva geërf het. – Sien Eindnota 9.

4. Wie was Adam, en wat het hy gehad?

4 Toe Jehovah die eerste man, Adam, geskep het, het Hy hom iets gegee wat baie kosbaar is. Hy het vir Adam volmaakte menselewe gegee. Hy het ’n volmaakte verstand en ’n volmaakte liggaam gehad. Hy sou nooit siek word, nooit oud word en nooit sterf nie. Omdat Jehovah Adam geskep het, was Hy soos ’n vader vir hom (Lukas 3:38). Jehovah het gereeld met hom gepraat. God het vir Adam gesê presies wat hy van hom verwag en het vir hom werk gegee wat hy sou geniet. – Genesis 1:28-30; 2:16, 17.

5. Wat beteken dit wanneer die Bybel sê dat Adam “na God se beeld” geskep is?

5 Adam is “na God se beeld” geskep (Genesis 1:27). Jehovah het vir hom eienskappe gegee soos dié wat Hy het, wat liefde, wysheid, geregtigheid en krag insluit. Hy het vir Adam vrye wil gegee. Adam was nie ’n robot nie. God het hom so geskep dat hy self kon kies of hy reg of verkeerd wou doen. As Adam gekies het om aan God gehoorsaam te wees, kon hy vir ewig in die Paradys gelewe het.

6. Wat het Adam verloor toe hy aan God ongehoorsaam was? Hoe raak dit ons?

6 Toe Adam aan God ongehoorsaam was en tot die dood veroordeel is, het hy baie verloor. Hy het sy spesiale vriendskap met Jehovah, sy volmaakte lewe en sy Paradystuiste verloor (Genesis 3:17-19). Adam en Eva het gekies om aan God ongehoorsaam te wees, en daarom was daar geen hoop vir hulle nie. As gevolg van wat Adam gedoen het, het sonde “in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het so na alle mense versprei omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Toe Adam gesondig het, het hy homself en ons as slawe aan sonde en die dood “verkoop” (Romeine 7:14). Is daar enige hoop vir ons? Ja, daar is.

7, 8. Wat is ’n losprys?

7 Wat is ’n losprys? ’n Losprys behels basies twee dinge. Eerstens, dit is die prys wat betaal word om iemand te bevry of iets terug te koop. Tweedens, die prys wat jy betaal, moet gelyk wees aan die waarde van dit wat jy terugkoop.

8 Geen mens kon betaal vir die groot skade wat deur Adam veroorsaak is toe hy gesondig het en die dood oor ons gebring het nie. Maar Jehovah het ’n manier voorsien om ons van sonde en die dood te bevry. Kom ons leer hoe die losprys werk en wat dit vir jou kan beteken.

HOE JEHOVAH DIE LOSPRYS VOORSIEN HET

9. Hoe kon die losprys betaal word?

9 Nie een van ons kon ooit die losprys betaal vir die volmaakte lewe wat Adam verloor het nie. Hoekom nie? Want ons is almal onvolmaak (Psalm 49:7, 8). Die losprys wat betaal moes word, was ’n ander volmaakte menselewe. Dit is waarom dit “’n ooreenstemmende losprys” genoem word (1 Timoteus 2:6). Die losprys moes dieselfde waarde hê as die lewe wat Adam verloor het.

10. Hoe het Jehovah die losprys voorsien?

10 Hoe het Jehovah die losprys voorsien? Jehovah het sy mees geliefde Seun na die aarde toe gestuur. Hierdie Seun, Jesus, was sy heel eerste skepping (1 Johannes 4:9, 10). Jesus was bereid om sy Vader en sy tuiste in die hemel te verlaat (Filippense 2:7). Jehovah het ’n wonderwerk gedoen sodat Jesus as ’n volmaakte mens, sonder sonde, op die aarde gebore kon word. – Lukas 1:35.

Jehovah het sy geliefde Seun as ’n losprys vir ons gegee

11. Hoe kon een mens die losprys vir alle mense wees?

11 Die eerste man, Adam, het volmaakte lewe vir alle mense verloor toe hy aan Jehovah ongehoorsaam was. Kon een mens al Adam se kinders van die dood bevry? Ja. (Lees Romeine 5:19.) Jesus, wat nooit gesondig het nie, het sy volmaakte lewe as die losprys gegee (1 Korintiërs 15:45). Sy volmaakte lewe kon gebruik word om al Adam se kinders van die dood te bevry. – 1 Korintiërs 15:21, 22.

12. Hoekom moes Jesus soveel ly?

12 Die Bybel beskryf hoe Jesus gely het voordat hy gesterf het. Hy is wreed geslaan, aan ’n folterpaal gehang en het ’n stadige en pynlike dood gesterf (Johannes 19:1, 16-18, 30). Hoekom moes Jesus soveel ly? Omdat Satan gesê het dat geen mens aan God getrou sou wees as hy ’n baie swaar toets deurmaak nie. Jesus het bewys dat ’n volmaakte mens aan God getrou kan wees, al ly hy ook hoe baie. Dink net hoe trots Jehovah op Jesus was! – Spreuke 27:11; sien Eindnota 15.

13. Hoe is die losprys betaal?

13 Hoe is die losprys betaal? Jesus het die waarde van sy lewe vir sy Vader aangebied. In die jaar 33, op 14 Nisan van die Joodse kalender, het Jehovah toegelaat dat Jesus se vyande hom doodmaak (Hebreërs 10:10). Drie dae later het Jehovah Jesus weer lewend gemaak, nie as ’n mens nie, maar as ’n geespersoon. Later, toe Jesus na sy Vader in die hemel teruggekeer het, het hy die waarde van sy volmaakte menselewe vir Jehovah aangebied as die losprys (Hebreërs 9:24). Noudat die losprys betaal is, het ons die geleentheid om bevry te word van sonde en die dood. – Lees Romeine 3:23, 24.

DIE VOORDELE VAN DIE LOSPRYS VIR JOU

14, 15. Wat moet ons doen sodat ons sondes vergewe sal word?

14 Ons geniet nou al voordele as gevolg van God se grootste geskenk. Kom ons kyk watter voordele ons nou geniet en watter voordele ons in die toekoms sal geniet.

15 Ons sondes word vergewe. Dit is moeilik om altyd die regte ding te doen. Ons maak foute en soms sê of doen ons die verkeerde ding (Kolossense 1:13, 14). Hoe kan ons vergewe word? Ons moet regtig jammer wees oor wat ons verkeerd gedoen het en Jehovah nederig vra om ons te vergewe. Ons kan dan die vertroue hê dat ons sondes vergewe is. – 1 Johannes 1:8, 9.

16. Wat moet ons doen om ’n skoon gewete te hê?

16 Ons kan ’n skoon gewete hê. As ons gewete vir ons sê dat ons iets verkeerds gedoen het, voel ons skuldig, miskien selfs hopeloos en nikswerd. Maar ons hoef nie moed op te gee nie. As ons Jehovah smeek om ons te vergewe, kan ons seker wees dat hy na ons sal luister en ons sal vergewe (Hebreërs 9:13, 14). Jehovah wil hê dat ons met hom moet praat oor enige van ons probleme of swakhede (Hebreërs 4:14-16). As ons dit doen, kan ons vrede met God geniet.

17. Watter seëninge kan ons ontvang omdat Jesus vir ons gesterf het?

17 Ons het die hoop om vir ewig te lewe. “Die betaling vir sonde is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Omdat Jesus vir ons gesterf het, kan ons vir ewig lewe en volmaakte gesondheid geniet (Openbaring 21:3, 4). Maar wat moet ons doen om hierdie seëninge te ontvang?

SAL JY DIE LOSPRYS AANVAAR?

18. Hoe weet ons dat Jehovah lief is vir ons?

18 Dink aan hoe dit jou hart raak wanneer iemand vir jou ’n pragtige geskenk gee. Die losprys is die waardevolste geskenk wat al ooit gegee is, en ons moet baie dankbaar teenoor Jehovah wees daarvoor. Johannes 3:16 sê vir ons: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het.” Ja, Jehovah is so lief vir ons dat hy sy geliefde Seun, Jesus, vir ons gegee het. En ons weet dat Jesus ook lief is vir ons, want hy was bereid om vir ons te sterf (Johannes 15:13). Die geskenk van die losprys moet jou oortuig dat Jehovah en Jesus regtig lief is vir jou. – Galasiërs 2:20.

As ons Jehovah beter leer ken, sal ons sy vriend word en sal ons liefde vir hom sterker word

19, 20. (a) Hoe kan jy Jehovah se vriend word? (b) Hoe kan jy wys dat jy Jesus se losprysoffer aanvaar?

19 Jy het nou geleer hoe lief Jehovah vir jou is, maar hoe kan jy sy vriend word? Dit is nie maklik om lief te wees vir iemand wat jy nie ken nie. Johannes 17:3 sê dat ons Jehovah kan leer ken. As jy Jehovah beter leer ken, sal jou liefde vir hom sterker word, sal jy hom gelukkig wil maak en sal jy sy vriend word. Hou dus aan om van Jehovah te leer deur die Bybel te studeer. – 1 Johannes 5:3.

20 Aanvaar Jesus se losprysoffer. Die Bybel sê: “Die een wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe” (Johannes 3:36). Wat beteken dit om geloof te beoefen? Dit beteken dat ons doen wat Jesus ons geleer het om te doen (Johannes 13:15). Ons kan nie net sê dat ons in Jesus glo nie. Om die losprys te aanvaar, moet ons iets omtrent ons geloof doen. In Jakobus 2:26 lees ons dat ‘geloof sonder werke dood is’.

21, 22. (a) Hoekom moet ons die Herdenking van Christus se dood elke jaar bywoon? (b) Wat sal in Hoofstuk 6 en 7 bespreek word?

21 Woon die Herdenking van Christus se dood by. Die aand voor Jesus se dood het hy ons geleer dat ons sy dood moet herdenk. Ons doen dit elke jaar, en die geleentheid word die Gedenkmaal of “die Here se Aandmaal” genoem (1 Korintiërs 11:20; Matteus 26:26-28). Jesus wil hê dat ons moet onthou dat hy sy volmaakte lewe as ’n losprys vir ons gegee het. Hy het gesê: “Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.” (Lees Lukas 22:19.) Wanneer jy die Gedenkmaal bywoon, wys jy dat jy dankbaar is vir die losprys en die groot liefde wat Jehovah en Jesus vir ons het. – Sien Eindnota 16.

22 Die losprys is die grootste geskenk wat ons ooit kan ontvang (2 Korintiërs 9:14, 15). Daardie waardevolle geskenk sal selfs miljoene mense wat reeds gesterf het, bevoordeel. Hoofstuk 6 en 7 sal bespreek hoe dit moontlik is.