Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWE

Daar sal ’n opstanding wees!

Daar sal ’n opstanding wees!

1-3. Wat hou ons almal gevange, en hoe sal Jehovah ons bevry?

STEL jou voor dat jy lewenslank tronk toe gestuur word vir ’n misdaad wat jy nie gepleeg het nie. Daar is geen kans dat jy ooit vrygelaat sal word nie. Jou toekoms lyk hopeloos en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Maar net wanneer jy alle hoop verloor, vind jy uit dat iemand die mag het om jou vry te laat en dat hy belowe het om jou te help! Hoe sou jy voel?

2 Ons is almal gevangenes van die dood. Maak nie saak wat ons doen nie, ons kan nie ontsnap nie. Maar Jehovah het die mag om ons van die dood te bevry. En hy het belowe: “Die laaste vyand, die dood, sal vernietig word.” – 1 Korintiërs 15:26.

3 Dink net hoe wonderlik dit sal wees as jy nie bekommerd hoef te wees dat jy sal sterf nie! Maar Jehovah sal nie net die dood wegneem nie. Hy sal ook die mense wat reeds gesterf het, opwek. Dink aan wat dit vir jou sal beteken. Hy belowe dat diegene wat “magteloos is in die dood”, weer sal lewe (Jesaja 26:19). Dit is wat die Bybel die opstanding noem.

WANNEER ’N GELIEFDE STERF

4. (a) Wat kan ons vertroos wanneer ’n familielid of ’n vriend sterf? (b) Wie was party van Jesus se goeie vriende?

4 Wanneer ’n familielid of ’n goeie vriend sterf, kan dit vir ons voel asof die pyn en droefheid vir ons te veel is. Ons voel hulpeloos. Daar is niks wat ons kan doen om daardie persoon weer te laat lewe nie. Maar die Bybel gee ons ware vertroosting. (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Kom ons kyk na een voorbeeld wat wys hoe graag Jehovah en Jesus ons geliefdes wil opwek. Toe Jesus op die aarde was, het hy dikwels vir Lasarus en sy susters, Marta en Maria, gaan besoek. Hulle al drie was goeie vriende van Jesus. Die Bybel sê: “Jesus was lief vir Marta en haar suster en Lasarus.” Maar op ’n dag het Lasarus gesterf. – Johannes 11:3-5.

5, 6. (a) Wat het Jesus gedoen toe hy sien hoe hartseer Lasarus se familie en vriende is? (b) Hoekom is dit vertroostend om te weet hoe Jesus oor die dood gevoel het?

5 Jesus het Marta en Maria gaan vertroos. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy uit die stad uitgegaan om hom te gaan ontmoet. Sy was bly om Jesus te sien, maar sy het vir hom gesê: “As u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Marta het gedink dat Jesus te laat was. Daarna het Jesus haar suster, Maria, sien huil. Toe hy sien hoe hartseer hulle is, het dit hom hartseer gemaak, en hy het begin huil (Johannes 11:21, 33, 35). Hy het die intense pyn gevoel wat ’n mens ervaar wanneer iemand vir wie jy lief is, sterf.

6 Jesus se droefheid vertroos ons. Dit wys vir ons dat Jesus die dood haat. En Jesus is net soos sy Vader (Johannes 14:9). Jehovah het die mag om die dood vir ewig te verwyder, en dit is wat hy binnekort sal doen.

“LASARUS, KOM UIT!”

7, 8. Hoekom wou Marta nie hê dat die klip voor Lasarus se graf weggerol moes word nie, maar wat het Jesus gedoen?

7 Jesus het na Lasarus se graf gegaan. Daar was ’n groot klip voor die ingang. Jesus het gesê: “Neem die klip weg.” Maar Marta wou nie hê dat hulle dit moes doen nie. Lasarus se liggaam was alreeds vier dae lank in die graf (Johannes 11:39). Sy het nie geweet wat Jesus kort daarna sou doen nie.

Stel jou voor hoe bly Lasarus se familie en vriende was toe hy opgewek is! – Johannes 11:38-44

8 Jesus het vir Lasarus gesê: “Kom uit!” Wat Marta en Maria toe gesien het, was ongelooflik. “Die man wat dood was, het uitgekom. Sy hande en voete was met grafdoeke gebind” (Johannes 11:43, 44). Lasarus is weer lewend gemaak! Hy is weer met sy familie en vriende verenig. Hulle kon hom vashou, aan hom raak en met hom praat. Dit was beslis ’n wonderwerk! Jesus het Lasarus opgewek.

“MEISIE, EK SÊ VIR JOU, STAAN OP!”

9, 10. (a) Wie het vir Jesus die krag gegee om mense op te wek? (b) Hoekom is dit goed om Bybelverslae van opstandings te lees?

9 Het Jesus sy eie krag gebruik om mense weer lewend te maak? Nee. Voordat Jesus Lasarus opgewek het, het hy tot Jehovah gebid, en Jehovah het hom die krag gegee om Lasarus op te wek. (Lees Johannes 11:41, 42.) Lasarus is nie die enigste persoon wat opgewek is nie. Die Bybel vertel ons van ’n 12-jarige meisie wat baie siek was. Haar pa, Jaïrus, was desperaat, en hy het Jesus gesmeek om haar gesond te maak. Sy was sy enigste kind. Terwyl hy met Jesus gepraat het, het ’n paar mans na hulle toe gekom en gesê: “U dogter het gesterf! Hoekom sou u die Leermeester nog langer lastig val?” Maar Jesus het vir Jaïrus gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Betoon net geloof, en sy sal gered word.” Hy het toe saam met Jaïrus na sy huis toe gestap. Toe hulle naby die huis kom, kon Jesus sien en hoor hoe mense huil. Jesus het vir hulle gesê: “Hou op huil, want sy het nie gesterf nie. Sy slaap.” Haar pa en ma het seker gewonder wat Jesus bedoel het. Jesus het almal uitgestuur en haar pa en ma in die kamer ingeneem waar hulle dogtertjie gelê het. Jesus het haar hand saggies geneem en vir haar gesê: “Meisie, ek sê vir jou, staan op!” Stel jou voor hoe bly haar ouers was toe sy dadelik opgestaan en begin loop het! Jesus het hulle dogter opgewek (Markus 5:22-24, 35-42; Lukas 8:49-56). Van daardie dag af sou hulle, elke keer wanneer hulle hulle dogtertjie sien, dink aan wat Jehovah deur Jesus vir hulle gedoen het. *

10 Die mense wat deur Jesus opgewek is, het later weer gesterf. Maar dit is goed om hierdie verhale te lees, want dit gee ons ware hoop. Jehovah wil mense opwek en hy sal dit doen.

WAT ONS UIT DIE VERSLAE VAN OPSTANDINGS LEER

Die apostel Petrus het die Christenvrou Dorkas opgewek. – Handelinge 9:36-42

Elia het ’n weduwee se seun opgewek. – 1 Konings 17:17-24

11. Wat leer Prediker 9:5 ons oor Lasarus?

11 Die Bybel sê duidelik: “Die dooies weet absoluut niks nie.” Dit was ook die geval met Lasarus (Prediker 9:5). Dit was asof Lasarus geslaap het, net soos Jesus gesê het (Johannes 11:11). Terwyl Lasarus in die graf was, het hy “absoluut niks” geweet nie.

12. Hoe weet ons dat Lasarus regtig uit die dood opgewek is?

12 Baie mense het gesien toe Jesus Lasarus opgewek het. Selfs Jesus se vyande het geweet dat hy hierdie wonderwerk gedoen het. Lasarus het gelewe, en dit het bewys dat hy regtig opgewek is (Johannes 11:47). Baie mense het Lasarus ook gaan besoek, en daarom het hulle begin glo dat Jesus deur God gestuur is. Jesus se vyande het nie daarvan gehou nie, en daarom het hulle beplan om Jesus sowel as Lasarus dood te maak. – Johannes 11:53; 12:9-11.

13. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah die dooies sal opwek?

13 Jesus het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is”, opgewek sal word (Johannes 5:28). Dit beteken dat almal wat deur Jehovah onthou word, opgewek sal word. Maar as Jehovah iemand opwek, moet hy alles omtrent daardie persoon onthou. Kan hy dit regtig doen? Wel, daar is duisendmiljoene sterre in die heelal. Die Bybel sê dat Jehovah die naam van elke ster ken. (Lees Jesaja 40:26.) As hy die naam van elke ster kan onthou, sal dit beslis vir hom maklik wees om alles te onthou omtrent al die mense wat hy sal opwek. En wat meer is, Jehovah het alles geskep, en daarom weet ons dat hy die mag het om mense weer op te wek.

14, 15. Wat leer Job se woorde ons oor die opstanding?

14 Die getroue man Job het in die opstanding geglo. Hy het gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Toe het hy vir Jehovah gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u verlang.” Ja, Job het geweet dat Jehovah uitsien na die tyd wanneer hy die dooies sal opwek. – Job 14:13-15.

15 Hoe laat die hoop dat daar ’n opstanding gaan wees, jou voel? Jy wonder dalk: ‘Maar wat van my familie en vriende wat gesterf het? Sal hulle ook opgewek word?’ Dit vertroos ons om te weet dat Jehovah die dooies werklik wil opwek. Kom ons kyk na wat die Bybel sê oor wie opgewek sal word en waar hulle sal woon.

HULLE SAL ‘SY STEM HOOR EN UITKOM’

16. Watter soort lewe sal die mense geniet wat op die aarde opgewek word?

16 In die verlede is die mense wat opgewek is, weer hier op die aarde met hulle familie en vriende verenig. Dit sal ook in die toekoms gebeur, maar dit sal baie beter wees. Hoekom? Want die mense wat op die aarde opgewek word, sal die geleentheid hê om vir ewig te lewe en nooit weer te sterf nie. En hulle sal in ’n wêreld lewe wat baie anders is as die een waarin ons vandag lewe. Daar sal nie oorlog, misdaad of siekte wees nie.

17. Wie sal opgewek word?

17 Wie sal opgewek word? Jesus het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). En Openbaring 20:13 sê vir ons: “Die see het die dooies gegee wat daarin was, en die dood en die Graf het die dooies gegee wat in hulle was.” Ja, duisendmiljoene mense sal weer lewe. Die apostel Paulus het ook gesê dat “die regverdiges en die onregverdiges” opgewek sal word. (Lees Handelinge 24:15.) Wat beteken dit?

In die Paradys sal die dooies opgewek word en weer met hulle geliefdes verenig word

18. Wie is “die regverdiges” wat opgewek sal word?

18 “Die regverdiges” sluit getroue knegte van Jehovah in wat gelewe het voordat Jesus na die aarde toe gekom het. Mense soos Noag, Abraham, Sara, Moses, Rut en Ester sal opgewek word om hier op die aarde te lewe. Jy kan in Hebreërs hoofstuk 11 lees oor party van hierdie mans en vrouens. Wat van Jehovah se getroue knegte wat in ons tyd sterf? Hulle is ook “regverdiges”, en daarom sal hulle ook opgewek word.

19. Wie is “die onregverdiges”? Watter geleentheid sal Jehovah hulle gee?

19 “Die onregverdiges” sluit duisendmiljoene mense in wat nie die geleentheid gehad het om Jehovah te leer ken nie. Al het hulle gesterf, het Jehovah nie van hulle vergeet nie. Hy sal hulle opwek, en hulle sal die geleentheid hê om van hom te leer en hom te dien.

20. Hoekom sal nie almal opgewek word nie?

20 Beteken dit dat almal wat gesterf het, opgewek sal word? Nee. Jesus het gesê dat party mense nie opgewek sal word nie (Lukas 12:5). Wie sal besluit of ’n persoon opgewek word of nie? Jehovah is die finale Regter, maar hy het ook vir Jesus die gesag gegee “om regter van die lewendes en die dooies te wees” (Handelinge 10:42). Enigiemand wat volgens hom goddeloos is en nie wil verander nie, sal nie opgewek word nie. – Sien Eindnota 19.

DIE HEMELSE OPSTANDING

21, 22. (a) Wat beteken dit om tot lewe in die hemel opgewek te word? (b) Wie was die eerste persoon wat tot lewe in die hemel opgewek is?

21 Die Bybel sê ook vir ons dat sommige mense in die hemel sal woon. Wanneer iemand tot lewe in die hemel opgewek word, word hy nie lewend gemaak as ’n mens met ’n menseliggaam nie. Hy word as ’n geespersoon tot lewe in die hemel opgewek.

22 Jesus was die eerste persoon wat hierdie soort opstanding gekry het (Johannes 3:13). Drie dae nadat Jesus doodgemaak is, het Jehovah hom opgewek (Psalm 16:10; Handelinge 13:34, 35). Jesus is nie met ’n menseliggaam opgewek nie. Die apostel Petrus verduidelik dat Jesus ‘doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees’ (1 Petrus 3:18). Jesus is opgewek as ’n magtige geespersoon! (1 Korintiërs 15:3-6). Maar die Bybel sê dat hy nie die enigste een sou wees wat so ’n opstanding sou kry nie.

23, 24. Wie is die “klein kuddetjie” waarvan Jesus gepraat het, en uit hoeveel persone sal dit bestaan?

23 Net voordat Jesus gesterf het, het hy vir sy getroue dissipels gesê: “Ek gaan om vir julle ’n plek voor te berei” (Johannes 14:2). Dit beteken dat party van sy volgelinge opgewek sou word om saam met hom in die hemel te woon. Hoeveel van hulle? Jesus het gesê dat dit ’n klein groepie, ’n “klein kuddetjie”, sou wees (Lukas 12:32). Die apostel Johannes het die presiese getal gegee toe hy Jesus sien staan het “op die [hemelse] berg Sion . . . en saam met hom 144 000”. – Openbaring 14:1.

24 Wanneer sou die 144 000 Christene opgewek word? Die Bybel sê vir ons dat dit sou gebeur nadat Christus in die hemel begin regeer het (1 Korintiërs 15:23). Ons lewe nou in daardie tyd, en die meerderheid van die 144 000 is alreeds tot lewe in die hemel opgewek. Dié van hulle wat nog op die aarde is en wat in ons tyd sterf, sal oombliklik tot hemelse lewe opgewek word. Maar die meeste ander mense sal in die toekoms opgewek word en in die Paradys hier op die aarde lewe.

25. Waaroor sal ons in die volgende hoofstuk leer?

25 Jehovah sal binnekort alle mense van die dood bevry, en die dood sal vir ewig vernietig word! (Lees Jesaja 25:8.) Maar wat sal diegene wat hemel toe gaan, daar doen? Die Bybel sê dat hulle saam met Jesus in ’n Koninkryksregering sal regeer. Ons sal in die volgende hoofstuk meer oor hierdie regering leer.

^ par. 9 In ander verslae vertel die Bybel ons van die opstandings van jong en ou persone, mans en vrouens asook Israeliete en nie-Israeliete. Jy kan die verslae lees in 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Matteus 28:5-7; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Handelinge 9:36-42; 20:7-12.