Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGE

Is die einde van die wêreld naby?

Is die einde van die wêreld naby?

1. Waar kan ons oor die toekoms leer?

HET jy al ooit na die nuus gekyk en gedink: ‘Kan hierdie wêreld nog slegter word?’ Daar is soveel tragedies en wreedheid dat sommige mense glo dat die einde van die wêreld naby is. Is dit waar? Is daar ’n manier om te weet wat in die toekoms gaan gebeur? Ja. Mense kan nie voorspel wat gaan gebeur nie, maar Jehovah God kan. Hy sê vir ons in die Bybel wat die toekoms vir ons en die aarde inhou. – Jesaja 46:10; Jakobus 4:14.

2, 3. Wat wou Jesus se dissipels weet, en hoe het Jesus hulle geantwoord?

2 Wanneer die Bybel van die einde van die wêreld praat, praat dit nie van die einde van die planeet Aarde nie, maar van die einde van goddeloosheid. Jesus het mense geleer dat die Koninkryk van God oor die aarde sal regeer (Lukas 4:43). Sy dissipels wou weet wanneer God se Koninkryk gaan kom, en hulle het vir Jesus gevra: “Wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en dat die einde van die wêreldstelsel naby is?” (Matteus 24:3). Jesus het hulle nie ’n datum gegee nie, maar hy het vir hulle gesê wat net voor die einde van hierdie wêreld sou gebeur. Wat Jesus gesê het sou gebeur, is vandag besig om te gebeur.

3 In hierdie hoofstuk sal ons bespreek watter bewyse daar is dat ons in die tyd net voor die einde van die wêreld lewe. Maar ons moet eers leer van ’n oorlog wat in die hemel plaasgevind het. Dit sal ons help om te verstaan waarom toestande hier op die aarde so sleg is.

’N OORLOG IN DIE HEMEL

4, 5. (a) Wat het in die hemel gebeur kort nadat Jesus Koning geword het? (b) Wat sou volgens Openbaring 12:12 op die aarde gebeur nadat Satan uit die hemel uitgegooi is?

4 In Hoofstuk 8 het ons geleer dat Jesus in 1914 Koning in die hemel geword het (Daniël 7:13, 14). Die boek Openbaring sê vir ons wat gebeur het: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael [dit wil sê Jesus] en sy engele het teen die draak [dit wil sê Satan] geveg, en die draak en sy engele het geveg.” * Satan en sy demone het die oorlog verloor en is uit die hemel uitgegooi na die aarde toe. Dink net hoe bly die engele was! Maar wat van die mense op die aarde? Die Bybel sê dat dit ’n moeilike tyd vir die mensdom sou wees. Hoekom? Want die Duiwel is baie kwaad “omdat hy weet dat hy min tyd het”. – Openbaring 12:7, 9, 12.

5 Die Duiwel doen sy bes om moeilikheid op die aarde te veroorsaak. Hy is baie kwaad, want daar is min tyd oor voordat God hom verwyder. Kom ons kyk na wat Jesus gesê het oor die laaste dae. – Sien Eindnota 24.

DIE LAASTE DAE

6. Hoe weet ons dat Jesus se profesie oor oorlog vervul word?

6 Oorlog. Jesus het gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Meer mense is in ons tyd in oorloë doodgemaak as in enige ander tyd in die geskiedenis. Volgens ’n verslag deur die Worldwatch-instituut het meer as 100 miljoen mense vanaf 1914 in oorloë gesterf. Gedurende die 100 jaar vanaf 1900 tot 2000 is meer as drie keer soveel mense in oorloë doodgemaak as gedurende die vorige 1 900 jaar. Dink net hoeveel pyn en hartseer miljoene mense al deurgemaak het as gevolg van oorlog!

7. Hoe word Jesus se profesie oor voedseltekorte vervul?

7 Voedseltekorte. Jesus het gesê: “Daar sal voedseltekorte . . . wees” (Matteus 24:7). Al is daar vandag meer kos as ooit tevore, het baie mense nooit genoeg om te eet nie. Hoekom nie? Want hulle het nie genoeg geld om kos te koop nie of hulle het nie grond waar hulle iets kan plant om te eet nie. Meer as ’n duisendmiljoen mense het minder as een dollar per dag om van te lewe. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat miljoene kinders elke jaar sterf omdat hulle nie genoeg kos het nie.

8. Hoe weet ons dat Jesus se profesie oor aardbewings vervul word?

8 Aardbewings. Jesus het voorspel: “Daar sal groot aardbewings wees” (Lukas 21:11). In ons tyd is daar elke jaar groot aardbewings. Van die jaar 1900 af het meer as tweemiljoen mense as gevolg van aardbewings gesterf. En al kan tegnologie mense vandag help om voor die tyd te weet dat ’n aardbewing gaan plaasvind, sterf baie mense nog steeds.

9. Hoe word Jesus se profesie oor siekte vervul?

9 Siekte. Jesus het voorspel dat daar “vreeslike siektes” sou wees. Gevaarlike siektes sou vinnig versprei, en baie mense sou as gevolg daarvan sterf (Lukas 21:11). Hoewel baie siektes behandel kan word, is daar nog steeds siektes wat nie genees kan word nie. Om die waarheid te sê, volgens een verslag sterf miljoene mense elke jaar aan siektes soos TB, malaria en cholera. En dit is nie al nie. Oor die afgelope 40 jaar het dokters 30 nuwe siektes ontdek, en party van hulle kan nie genees word nie.

MENSE IN DIE LAASTE DAE

10. Hoe word 2 Timoteus 3:1-5 vandag vervul?

10 In 2 Timoteus 3:1-5 sê die Bybel “dat daar in die laaste dae swaar tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”. Die apostel Paulus het beskryf hoe baie mense in die laaste dae sou wees. Hulle sou

  • selfsugtig wees

  • lief vir geld wees

  • ongehoorsaam wees aan ouers

  • nie lojaal wees nie

  • nie lief wees vir hulle gesin nie

  • sonder selfbeheersing wees

  • gewelddadig en aggressief wees

  • plesier meer liefhê as God

  • maak asof hulle lief is vir God, maar weier om hom te gehoorsaam

11. Wat sal volgens Psalm 92:7 met goddelose mense gebeur?

11 Is baie mense in jou omgewing so? Baie mense regoor die wêreld is so. Maar God sal binnekort iets daaromtrent doen. Hy belowe: “Wanneer die goddeloses soos onkruid uitspruit en al die mense wat slegte dinge doen, floreer, is dit sodat hulle vir ewig vernietig kan word.” – Psalm 92:7.

GOEIE NUUS IN DIE LAASTE DAE

12, 13. Wat het Jehovah ons gedurende die laaste dae geleer?

12 Die Bybel het voorspel dat die wêreld in die laaste dae vol pyn en lyding sou wees. Maar die Bybel sê ook dat goeie dinge sal gebeur.

“Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word.” – Matteus 24:14

13 Mense sal die Bybel verstaan. Die profeet Daniël het oor die laaste dae gesê: “Die ware kennis sal oorvloedig word” (Daniël 12:4). God sou sy volk die vermoë gee om die Bybel beter as ooit tevore te verstaan. Jehovah het dit veral van 1914 af gedoen. Byvoorbeeld, hy het ons geleer hoe belangrik sy naam is en wat hy in gedagte het vir die aarde. Hy het ons ook die waarheid oor die losprys, die toestand van die dooies en die opstanding geleer. Ons het geleer dat net God se Koninkryk al ons probleme kan oplos. Ons het ook geleer hoe om gelukkig te wees en hoe ons moet lewe sodat ons God se hart kan bly maak. Maar wat doen God se knegte met wat hulle geleer het? ’n Ander profesie gee ons die antwoord. – Sien Eindnota 21 en 25.

14. Waar word die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, en wie verkondig dit?

14 Die wêreldwye predikingswerk. Jesus het oor die laaste dae gesê: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:3, 14). Die goeie nuus van die Koninkryk word in meer as 230 lande en in meer as 900 tale verkondig. Ja, Jehovah se Getuies uit “alle nasies en stamme” help mense regoor die aarde om te verstaan wat die Koninkryk is en wat dit vir die mensdom sal doen (Openbaring 7:9). En hulle doen dit gratis. Al word hulle deur baie mense gehaat en vervolg, kan niks die predikingswerk keer nie, net soos Jesus voorspel het. – Lukas 21:17.

WAT GAAN JY DOEN?

15. (a) Glo jy dat ons in die laaste dae lewe, en hoekom glo jy dit? (b) Wat sal gebeur met mense wat gehoorsaam is aan Jehovah, en wat sal gebeur met mense wat nie gehoorsaam is nie?

15 Glo jy dat ons in die laaste dae lewe? Baie Bybelprofesieë oor die laaste dae word vandag vervul. Binnekort sal Jehovah besluit om die verkondiging van die goeie nuus te beëindig, en dan sal “die einde” kom (Matteus 24:14). Wat is die einde? Dit is Armageddon, wanneer God alle goddeloosheid sal verwyder. Jehovah sal Jesus en sy magtige engele gebruik om enigiemand te vernietig wat weier om gehoorsaam te wees aan Hom en sy Seun (2 Tessalonisense 1:6-9). Daarna sal mense nie meer deur Satan en sy demone mislei word nie. En almal wat aan God gehoorsaam wil wees en sy Koninkryk aanvaar, sal sien hoe elke belofte wat God gemaak het, waar word. – Openbaring 20:1-3; 21:3-5.

16. Wat moet jy doen, aangesien die einde so naby is?

16 Satan se wêreld sal binnekort tot ’n einde kom. Daarom is dit baie belangrik dat ons ons afvra: ‘Wat moet ek doen?’ Jehovah wil hê dat jy soveel as moontlik uit die Bybel moet leer. Jy moet jou studie ernstig opneem (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies het elke week vergaderinge om mense te help om die Bybel te verstaan. Probeer om daardie vergaderinge gereeld by te woon. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) As jy besef dat jy veranderinge moet maak, moet jy nie bang wees om dit te doen nie. As jy dit doen, sal jou vriendskap met Jehovah al hoe sterker word. – Jakobus 4:8.

17. Hoekom sal die meeste mense verbaas wees wanneer die einde kom?

17 Die apostel Paulus het verduidelik dat die vernietiging van goddelose mense sal plaasvind wanneer die meeste mense dit nie verwag nie. Dit sal “soos ’n dief in die nag kom” (1 Tessalonisense 5:2). Jesus het voorspel dat baie mense die bewyse dat ons in die laaste dae lewe, sal ignoreer. Hy het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens [dit wil sê die laaste dae] wees. Want in die dae voor die Vloed het mense geëet en gedrink, en mans het getrou en vrouens is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het geen aandag geskenk totdat die Vloed gekom het en hulle almal weggespoel het nie. Die teenwoordigheid van die Seun van die mens sal net so wees.” – Matteus 24:37-39.

18. Watter waarskuwing het Jesus vir ons gegee?

18 Jesus het gewaarsku dat ons aandag nie afgelei moet word deur “te veel te eet en te veel te drink en deur die bekommernisse van die lewe nie”. Hy het gesê dat die einde skielik sal kom, “soos ’n strik”. Hy het ook gesê dat dit ‘oor almal sal kom wat op die hele aarde woon’. Toe het hy bygevoeg: “Bly dus wakker en doen altyd smeekgebede sodat julle veilig kan kom deur hierdie dinge wat gaan gebeur en voor die Seun van die mens sal kan staan” (Lukas 21:34-36). Hoekom is dit so belangrik om na Jesus se waarskuwing te luister? Want Satan se goddelose wêreld sal binnekort vernietig word. Net mense wat Jehovah en Jesus se goedkeuring het, sal die einde oorleef en vir ewig in die nuwe wêreld lewe. – Johannes 3:16; 2 Petrus 3:13.

^ par. 4 Migael is ’n ander naam vir Jesus Christus. Vir meer inligting sien asseblief Eindnota 23.