Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TIEN

Die waarheid oor die engele

Die waarheid oor die engele

1. Hoekom moet ons oor die engele leer?

JEHOVAH wil hê dat ons sy gesin moet leer ken. Die engele is deel van God se gesin. In die Bybel word hulle “seuns van God” genoem (Job 38:7). Wat doen die engele? Hoe het hulle mense in die verlede gehelp? En kan hulle ons vandag help? – Sien Eindnota 8.

2. Waar het die engele vandaan gekom? Hoeveel engele is geskep?

2 Waar het die engele vandaan gekom? Kolossense 1:16 sê vir ons dat Jehovah eers vir Jesus geskep het, en toe is “alle ander dinge in die hemel en op die aarde geskep”. Dit sluit die engele in. Hoeveel van hulle is geskep? Die Bybel sê dat daar honderdmiljoene engele is. – Psalm 103:20; Openbaring 5:11.

3. Wat sê Job 38:4-7 vir ons oor die engele?

3 Die Bybel leer ons ook dat Jehovah die engele geskep het voordat hy die aarde geskep het. Hoe het hulle gevoel toe hulle die aarde gesien het? Die boek Job sê vir ons dat hulle baie bly was. Hulle was ’n hegte gesin wat Jehovah saam gedien het. – Job 38:4-7.

ENGELE HELP GOD SE KNEGTE

4. Hoe weet ons dat engele in mense belangstel?

4 Engele het nog altyd belanggestel in mense. Hulle stel ook belang in die toekoms wat Jehovah vir die aarde en die mens in gedagte het (Spreuke 8:30, 31; 1 Petrus 1:11, 12). Dit moes hulle baie hartseer gemaak het toe Adam en Eva in opstand gekom het. Hulle moet nou selfs hartseerder wees om te sien dat die meeste mense ongehoorsaam aan Jehovah is. Maar wanneer iemand berou toon en na God terugkeer, is die engele baie bly (Lukas 15:10). Die engele stel baie belang in mense wat God dien. Jehovah gebruik engele om sy knegte op die aarde te help en te beskerm (Hebreërs 1:7, 14). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde hiervan.

“My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegemaak.” – Daniël 6:22

5. Hoe het engele God se knegte in die verlede gehelp?

5 Jehovah het twee engele gestuur om Lot en sy gesin te help om te ontsnap sodat hulle nie saam met die stede Sodom en Gomorra vernietig sou word nie (Genesis 19:15, 16). Honderde jare later is die profeet Daniël in ’n leeukuil gegooi, maar die leeus het niks aan hom gedoen nie, want “God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegemaak” (Daniël 6:22). Later, toe die apostel Petrus in die tronk was, het Jehovah ’n engel gestuur om hom te bevry (Handelinge 12:6-11). Engele het Jesus ook gehelp toe hy op die aarde was. Byvoorbeeld, nadat hy gedoop is, het ‘engele in sy behoeftes voorsien’ (Markus 1:13). En kort voordat Jesus doodgemaak is, het ’n engel hom ook “versterk”. – Lukas 22:43.

6. (a) Hoe weet ons dat engele God se knegte vandag help? (b) Watter vrae gaan ons nou beantwoord?

6 Vandag verskyn engele nie meer aan mense nie. Maar God gebruik engele nog steeds om sy knegte te help. Die Bybel sê: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat Hom vrees, en hy red hulle” (Psalm 34:7). Hoekom het ons beskerming nodig? Omdat ons magtige vyande het wat ons wil kwaad aandoen. Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Hoe probeer hulle ons kwaad aandoen? Om hierdie vrae te beantwoord, kan ons kortliks kyk na wat gebeur het kort nadat Adam en Eva geskep is.

ONS ONSIGBARE VYANDE

7. Wat het Satan tot vandag toe reggekry?

7 Ons het in Hoofstuk 3 geleer dat ’n engel teen God in opstand gekom het en oor ander wou regeer. Die Bybel noem hom Satan die Duiwel (Openbaring 12:9). Satan wou hê dat ander ook teen God in opstand moes kom. Hy het vir Eva gelieg, en sy het hom geglo. Van daardie tyd af glo die meeste mense sy leuens. Maar party mense, soos Abel, Henog en Noag, het getrou aan Jehovah gebly. – Hebreërs 11:4, 5, 7.

8. (a) Hoe het sommige engele demone geword? (b) Wat het die demone gedoen om die Vloed te oorleef?

8 In Noag se tyd het sommige engele in opstand gekom. Hulle het hulle tuiste in die hemel verlaat om as mense op die aarde te lewe. Hoekom? Die Bybel sê vir ons dat hulle vrouens wou hê. (Lees Genesis 6:2.) Maar dit was verkeerd van die engele (Judas 6). Soos daardie slegte engele, het die meeste mense van daardie tyd goddeloos en wreed geword. Jehovah het toe besluit om slegte mense te vernietig deur ’n vloed oor die hele aarde te bring. Maar hy het sy getroue knegte gered (Genesis 7:17, 23). Om daardie vloed te oorleef, het die slegte engele weer hemel toe gegaan. Die Bybel noem daardie slegte engele demone. Hulle het Satan se kant gekies, en die Duiwel het hulle heerser geword. – Matteus 9:34.

9. (a) Wat het met die demone gebeur toe hulle teruggegaan het hemel toe? (b) Wat gaan ons nou bespreek?

9 Omdat die demone in opstand gekom het, het Jehovah hulle nie toegelaat om weer deel van sy gesin te word nie (2 Petrus 2:4). Demone kan nie meer in mense verander nie, maar hulle mislei nog steeds “die hele aarde” (Openbaring 12:9; 1 Johannes 5:19). Kom ons vind uit hoe hulle dit regkry om soveel mense te bedrieg en te mislei. – Lees 2 Korintiërs 2:11.

HOE DEMONE MENSE MISLEI

10. Hoe mislei die demone mense?

10 Die demone mislei mense op baie maniere. Mense kan direk of deur middel van iemand anders in aanraking kom met die demone. Hulle doen dit soms deur middel van ’n toordokter of ’n spiritistiese medium, dit wil sê ’n persoon wat sê dat hy met die dooies kan praat. Kontak met die demone word demonisme of spiritisme genoem. Maar die Bybel beveel ons om ver weg te bly van enigiets wat met die demone te doen het (Galasiërs 5:19-21). Hoekom? Net soos ’n jagter strikke gebruik om diere te vang, gebruik die demone spiritisme om mense te vang en te beheer. – Sien Eindnota 26.

11. Wat is waarsêery, en hoekom moet ons dit vermy?

11 Een vorm van spiritisme is waarsêery. Dit is die gebruik van bonatuurlike magte om oor die toekoms of die onbekende te probeer uitvind. Party doen dit dalk deur te kyk na wat die sterre voorspel, deur voortekens te soek, tarotkaarte te lees, ’n kristalbal te gebruik of iemand se handpalm te lees. Baie mense dink dat hierdie gebruike onskadelik is, maar dit is nie. Dit is baie gevaarlik. Die Bybel wys byvoorbeeld dat demone en fortuinvertellers saam werk. In Handelinge 16:16-18 lees ons van “’n demoon” wat ’n meisie gehelp het om “die toekoms te voorspel”. Nadat die apostel Paulus die demoon uitgedryf het, kon die meisie nie meer die toekoms voorspel nie.

12. (a) Hoekom is dit gevaarlik om met die dooies te probeer kommunikeer? (b) Hoekom raak God se knegte nooit by demoniese gebruike betrokke nie?

12 Daar is nog ’n manier waarop die demone mense probeer mislei. Hulle wil hê ons moet glo dat ’n mens met die dooies kan praat en dat mense wat gesterf het, eintlik nog op ’n ander plek lewe en met ons kan kommunikeer of ons kan seermaak. Byvoorbeeld, ’n persoon wie se vriend of familielid gesterf het, gaan dalk na iemand, soos ’n spiritistiese medium, wat sê dat hy of sy met die dooies kan praat. Die medium vertel die persoon dalk iets interessants oor die dooie vriend of familielid en praat dalk selfs soos die persoon wat gesterf het (1 Samuel 28:3-19). Baie begrafnisgebruike is ook gebaseer op die idee dat die dooies nog op ’n ander plek lewe. Dit sluit begrafnisherdenkings, offerandes vir die dooies en rituele tydens lykwake in. Wanneer Christene weier om aan hierdie gebruike deel te neem, sal hulle familie of die gemeenskap hulle miskien kritiseer, beledig of weier om enigiets met hulle te doen te hê. Maar Christene weet dat die dooies nie op ’n ander plek lewe nie. Dit is onmoontlik om met hulle te kommunikeer, en hulle kan ons nie seermaak nie (Psalm 115:17). Wees baie versigtig. Moet nooit met die dooies of die demone probeer kommunikeer nie en moet nooit by demoniese gebruike betrokke raak nie. – Lees Deuteronomium 18:10, 11; Jesaja 8:19.

13. Wat kon baie mense doen wat voorheen bang was vir die demone?

13 Die demone mislei mense nie net nie, hulle maak hulle ook bang. Vandag weet Satan en sy demone dat hulle “min tyd het” voordat God hulle van die aarde verwyder, en daarom is hulle wreder en aggressiewer as ooit tevore (Openbaring 12:12, 17). Maar duisende mense wat voorheen bang was vir die demone, is nie meer bang vir hulle nie. Hoe het hulle dit reggekry?

WEERSTAAN DIE DEMONE

14. Hoe kan ons, soos die Christene in die eerste eeu, losbreek van die demone?

14 Die Bybel sê vir ons hoe om die demone te weerstaan en hoe om van hulle los te breek. Byvoorbeeld, party in die stad Efese het met die demone gekommunikeer voordat hulle die waarheid geleer het. Hoe het hulle losgebreek? Die Bybel sê: “Baie van dié wat toorkuns beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en dit voor almal verbrand” (Handelinge 19:19). Omdat hulle Christene wou wees, het hulle al hulle boeke oor towery vernietig. Vandag moet ons ook so optree. Almal wat Jehovah wil dien, moet ontslae raak van dinge wat enigiets te doen het met die demone. Dit sluit in boeke, tydskrifte, sterrevoorspellings, rolprente, musiek, speletjies en selfs plakkate wat dit laat lyk asof towery, demone of bonatuurlike dinge onskadelik of opwindend is. Dit sluit ook dinge in wat mense dra om te keer dat slegte dinge met hulle gebeur. – 1 Korintiërs 10:21.

15. Wat moet ons nog doen om Satan en die demone te weerstaan?

15 Jare nadat die mense in Efese hulle boeke oor towery vernietig het, het die apostel Paulus geskryf dat hulle nog steeds moes stry “teen die bose geesmagte” (Efesiërs 6:12). Ja, al het hulle reeds hulle boeke verbrand, het die demone hulle nog steeds probeer kwaad aandoen. Wat moes hulle nog doen? Paulus het vir hulle gesê: “Dra dan ook die groot skild van geloof, waarmee julle al die brandende pyle van die Duiwel sal kan blus [of keer]” (Efesiërs 6:16). Net soos ’n skild ’n soldaat in ’n geveg beskerm, kan ons geloof ons beskerm. As ons heeltemal oortuig is dat Jehovah ons kan beskerm, sal ons Satan en die demone kan weerstaan. – Matteus 17:20.

16. Hoe kan ons ons geloof in Jehovah versterk?

16 Hoe kan ons ons geloof in Jehovah versterk? Ons moet die Bybel elke dag lees en leer om op hom te vertrou om ons te beskerm. As ons sterk geloof in Jehovah het, sal Satan en die demone ons nie kan seermaak nie. – 1 Johannes 5:5.

17. Wat sal ons nog teen die demone beskerm?

17 Wat moes die Christene in Efese nog doen? Hulle het in ’n stad gewoon wat vol demonisme was. Paulus het dus vir hulle gesê: ‘Hou aan om by elke geleentheid te bid’ (Efesiërs 6:18). Hulle moes Jehovah aanhoudend vra om hulle te beskerm. Wat van ons? Ons lewe ook in ’n wêreld wat vol demonisme is. Daarom moet ons ook vir Jehovah vra om ons te beskerm, en ons moet sy naam gebruik wanneer ons bid. (Lees Spreuke 18:10.) As ons aanhou om Jehovah te vra om ons van Satan te verlos, sal Jehovah na ons gebede luister en ons help. – Psalm 145:19; Matteus 6:13.

18, 19. (a) Hoe kan ons die stryd teen Satan en die demone wen? (b) Watter vraag sal in die volgende hoofstuk beantwoord word?

18 As ons ontslae raak van alles in ons lewe wat met die demone te doen het en op Jehovah vertrou om ons te beskerm, kan ons Satan en die demone weerstaan. Ons hoef nie vir hulle bang te wees nie. (Lees Jakobus 4:7, 8.) Jehovah is baie magtiger as die demone. Hy het hulle in Noag se dag gestraf en in die toekoms sal hy hulle vernietig (Judas 6). Onthou, ons is nie alleen in hierdie stryd nie. Jehovah gebruik sy engele om ons te beskerm (2 Konings 6:15-17). Ons kan vol vertroue wees dat ons met Jehovah se hulp die stryd teen Satan en die demone kan wen. – 1 Petrus 5:6, 7; 2 Petrus 2:9.

19 Maar as Satan en die demone soveel lyding veroorsaak, hoekom het God hulle dan nog nie vernietig nie? Hierdie vraag sal in die volgende hoofstuk beantwoord word.