Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DERTIEN

Toon respek vir lewe

Toon respek vir lewe

1. Wie het vir ons lewe gegee?

JEHOVAH “is die lewende God” (Jeremia 10:10). Hy is ons Skepper en hy het vir ons lewe gegee. Die Bybel sê: “U het alles geskep, en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Ja, Jehovah wou hê dat ons moet lewe. Lewe is ’n kosbare geskenk van hom af. – Lees Psalm 36:9.

2. Hoe kan ons ’n sukses van ons lewe maak?

2 Jehovah gee vir ons wat ons nodig het om aan die lewe te bly, soos kos en water (Handelinge 17:28). Maar hy wil ook hê dat ons die lewe moet geniet (Handelinge 14:15-17). Om ’n sukses van ons lewe te maak, moet ons God se wette gehoorsaam. – Jesaja 48:17, 18.

HOE GOD OOR LEWE VOEL

3. Wat het Jehovah gedoen toe Kain vir Abel doodgemaak het?

3 Die Bybel leer dat ons lewe en die lewe van ander mense vir Jehovah kosbaar is. Byvoorbeeld, toe Kain – Adam en Eva se seun – baie kwaad vir sy jonger broer Abel was, het Jehovah Kain gewaarsku om sy woede te beheer. Maar Kain het nie geluister nie en hy het so kwaad geword dat hy “sy broer Abel aangeval en hom doodgemaak” het (Genesis 4:3-8). Jehovah het Kain gestraf omdat hy Abel vermoor het (Genesis 4:9-11). Woede en haat is dus gevaarlik, want dit kan ons gewelddadig of wreed laat word. So ’n persoon kan nie die ewige lewe kry nie. (Lees 1 Johannes 3:15.) Jehovah wil hê dat ons lief moet wees vir alle mense. – 1 Johannes 3:11, 12.

4. Wat leer ons oor lewe uit een van die wette wat God aan die Israeliete gegee het?

4 Duisende jare later, toe Jehovah die Tien Gebooie aan Moses gegee het, het Hy getoon dat lewe vir hom kosbaar is. Een van die wette is: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Deuteronomium 5:17). As ’n persoon iemand opsetlik doodgemaak het, sou hy of sy doodgemaak word.

5. Hoe voel God oor aborsie?

5 Hoe voel God oor aborsie? Selfs die lewe van ’n ongebore kind is vir Jehovah kosbaar. In die Wet wat Jehovah aan die Israeliete gegee het, het Jehovah gesê dat ’n persoon doodgemaak moet word as hy ’n swanger vrou seermaak en haar baba as gevolg daarvan sterf. (Lees Eksodus 21:22, 23; Psalm 127:3.) Dit leer ons dat aborsie verkeerd is. – Sien Eindnota 28.

6, 7. Hoe wys ons vir Jehovah dat lewe vir ons kosbaar is?

6 Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons eie lewe en die lewe van ander mense vir ons kosbaar is? Deur niks te doen wat ons lewe of die lewe van ander mense in gevaar sal stel nie. Daarom sal ons nie tabak of dwelms gebruik nie, want dit is skadelik en kan ons doodmaak.

7 God het vir ons ons lewe en ons liggaam gegee, en ons moet dit gebruik soos hy wil hê ons moet. Ons moet dus goed na ons liggaam kyk. As ons dit nie doen nie, sal ons onrein in Jehovah se oë word (Romeine 6:19; 12:1; 2 Korintiërs 7:1). Jehovah het vir ons lewe gegee, en ons kan hom nie aanbid as lewe nie vir ons kosbaar is nie. Al is dit dalk baie moeilik om slegte gewoontes op te gee, sal Jehovah ons help as ons dit probeer doen omdat lewe vir ons kosbaar is.

8. Wat sal ons doen om te verseker dat ons nie ons eie lewe of die lewe van ander in gevaar stel nie?

8 Ons het geleer dat lewe ’n kosbare geskenk is. Jehovah wil hê dat ons ons bes moet doen om nie ons eie lewe of die lewe van ander in gevaar te stel nie. Ons is dus versigtig wanneer ons ons motor, motorfiets of ’n ander voertuig bestuur. Ons vermy gevaarlike of gewelddadige sportsoorte (Psalm 11:5). En ons sorg dat ons huis in ’n goeie toestand is sodat niemand sal seerkry nie. Jehovah het die Israeliete beveel: “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ook ’n muurtjie om jou dak bou, sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.” – Deuteronomium 22:8.

9. Hoe moet ons diere behandel?

9 Selfs die manier waarop ons diere behandel, is vir Jehovah belangrik. Hy laat toe dat ons diere doodmaak vir voedsel en klere, en hy laat toe dat ons ’n dier doodmaak as die dier ons lewe in gevaar stel (Genesis 3:21; 9:3; Eksodus 21:28). Maar ons mag nie wreed teenoor diere wees of hulle net vir sport doodmaak nie. – Spreuke 12:10.

TOON RESPEK VIR DIE HEILIGHEID VAN LEWE

10. Hoe weet ons dat bloed lewe voorstel?

10 Bloed is vir Jehovah heilig, want bloed stel lewe voor. Nadat Kain vir Abel doodgemaak het, het Jehovah vir Kain gesê: “Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10). Abel se bloed het sy lewe voorgestel, en Jehovah het Kain gestraf omdat hy Abel doodgemaak het. Ná die Vloed van Noag se dag het Jehovah weer aangedui dat bloed lewe voorstel. Jehovah het gesê dat Noag en sy gesin vleis mag eet. Hy het gesê: “Al die diere wat beweeg en lewe, mag vir julle as voedsel dien. Net soos ek vir julle die groen plante gegee het, gee ek hulle almal vir julle.” Maar daar was iets wat Jehovah gesê het hulle nie mag eet nie: “Net vleis met sy lewe – sy bloed – mag julle nie eet nie.” – Genesis 1:29; 9:3, 4.

11. Watter bevel oor bloed het God aan die nasie Israel gegee?

11 Ongeveer 800 jaar nadat Jehovah vir Noag gesê het om nie bloed te eet nie, het hy die nasie Israel beveel: “As een van die Israeliete of ’n uitlander wat onder julle woon, gaan jag en ’n wilde dier of ’n voël vang wat geëet mag word, moet hy die bloed uitgooi en dit met stof bedek.” Hy het toe gesê: “Julle mag nie die bloed . . . eet nie” (Levitikus 17:13, 14). Jehovah wou nog steeds hê dat sy volk bloed as heilig moet beskou. Hulle kon vleis eet, maar nie die bloed nie. Wanneer hulle ’n dier doodgemaak het om dit te eet, moes hulle die bloed op die grond uitgooi.

12. Hoe beskou Christene bloed?

12 ’n Paar jaar ná Jesus se dood het die apostels en die ouermanne van die Christengemeente in Jerusalem bymekaargekom om te besluit watter van die wette wat aan die Israeliete gegee is, nog deur Christene gehoorsaam moet word. (Lees Handelinge 15:28, 29; 21:25.) Jehovah het hulle gehelp om te verstaan dat bloed nog steeds vir hom kosbaar was en dat hulle dit nog steeds as heilig moes beskou. Die vroeë Christene kon nie bloed eet of drink nie, en hulle kon ook nie vleis eet wat nie behoorlik gebloei is nie. As hulle dit sou doen, sou dit net so sleg wees soos om afgode te aanbid of seksueel onsedelik te wees. Van daardie tyd af weier ware Christene om bloed te eet of te drink. Wat van vandag? Jehovah wil nog steeds hê dat ons bloed as heilig moet beskou.

13. Hoekom aanvaar Christene nie bloedoortappings nie?

13 Beteken dit dat Christene ook moet weier om bloedoortappings te neem? Ja. Jehovah het ons beveel om nie bloed te eet of te drink nie. As ’n dokter vir jou sê dat jy nie alkohol mag drink nie, sal jy dit in jou are inspuit? Natuurlik nie! Net so beteken die bevel dat ons nie bloed moet eet of drink nie dat ons ook nie ’n bloedoortapping sal aanvaar nie. – Sien Eindnota 29.

14, 15. Hoe belangrik is dit vir ’n Christen om respek vir lewe te hê en Jehovah te gehoorsaam?

14 Maar sê nou ’n dokter sê vir ons dat ons sal sterf as ons nie ’n bloedoortapping kry nie? Elkeen moet self besluit of hy gehoorsaam sal wees aan God se wet oor bloed. Christene het diep respek vir God se geskenk van lewe. Ons sal ander behandeling probeer vind sodat ons kan bly lewe, maar ons sal nie ’n bloedoortapping aanvaar nie.

15 Ons probeer ons bes om gesond te bly, maar omdat lewe vir Jehovah kosbaar is, sal ons nie ’n bloedoortapping aanvaar nie. Om aan Jehovah gehoorsaam te wees, is vir ons baie belangrik. Daarom sal ons nie ons lewe probeer verleng deur ongehoorsaam aan hom te wees nie. Jesus het gesê: “Enigiemand wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar enigiemand wat sy lewe ter wille van my verloor, sal dit vind” (Matteus 16:25). Ons wil Jehovah gehoorsaam omdat ons hom liefhet. Hy weet wat die beste vir ons is, en net soos Jehovah beskou ons lewe as kosbaar en heilig. – Hebreërs 11:6.

16. Hoekom is God se knegte gehoorsaam aan hom?

16 God se getroue knegte is vasbeslote om sy wet oor bloed te gehoorsaam. Hulle sal nie bloed eet of drink nie en sal nie bloed vir mediese behandeling aanvaar nie. * Maar hulle sal ander mediese behandeling aanvaar om hulle lewe te red. Hulle is daarvan oortuig dat die Skepper van lewe en bloed weet wat die beste vir hulle is. Glo jy dat hy weet wat die beste vir jou is?

DIE ENIGSTE GEBRUIK VAN BLOED WAT JEHOVAH TOEGELAAT HET

17. Wat was die enigste gebruik van bloed wat Jehovah in Israel toegelaat het?

17 In die Wet wat God aan Moses gegee het, het Jehovah vir die Israeliete gesê: “Die lewe van die vlees is in die bloed, en ek het dit vir julle gegee sodat julle vir julle versoening kan doen [dit wil sê vergifnis kan vra] op die altaar, want dit is die bloed wat versoening doen” (Levitikus 17:11). Wanneer die Israeliete gesondig het, kon hulle Jehovah vra om hulle te vergewe deur ’n dier te offer en die priester te vra om van die dier se bloed op die altaar by die tempel uit te gooi. Dit was al waarvoor die Israeliete bloed mag gebruik het.

18. Wat maak Jesus se offerande vir ons moontlik?

18 Vandag moet diere nie meer geoffer word vir vergifnis van sondes nie. Jesus het aarde toe gekom en sy lewe, of bloed, gegee sodat ons sondes vergewe kan word (Matteus 20:28; Hebreërs 10:1). Jesus se lewe was so waardevol dat Jehovah op grond van Jesus se offer vir alle mense die geleentheid kon gee om vir ewig te lewe. – Johannes 3:16; Hebreërs 9:11, 12; 1 Petrus 1:18, 19.

Hoe kan jy respek vir lewe en bloed toon?

19. Wat moet ons doen om “rein . . . van die bloed van alle mense” te wees?

19 Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir die wonderlike geskenk van lewe! En ons wil vir mense vertel dat hulle vir ewig kan lewe as hulle geloof in Jesus stel. Ons is lief vir mense en ons sal alles doen wat ons kan om hulle te leer hoe om die ewige lewe te verkry (Esegiël 3:17-21). Dan sal ons soos die apostel Paulus kan sê: ‘Ek is rein van die bloed van alle mense, want ek het nie gehuiwer om julle van God se hele voorneme te vertel nie’ (Handelinge 20:26, 27). Ja, ons sal wys dat ons baie respek het vir lewe en bloed as ons ander vertel van Jehovah en hoe kosbaar lewe vir hom is.

^ par. 16 Vir meer inligting oor bloedoortappings, sien bladsy 77-79 van die boek ‘Hou julle in God se liefde’, uitgegee deur Jehovah se Getuies.