Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VEERTIEN

Jou gesin kan gelukkig wees

Jou gesin kan gelukkig wees

1, 2. Wat wil Jehovah vir gesinne hê?

JEHOVAH GOD het die huweliksreëling ingestel. Die Bybel sê vir ons dat hy die eerste vrou gemaak het en “haar na die man toe gebring” het. Adam was so bly dat hy gesê het: “Dit is uiteindelik been van my gebeente en vlees van my vlees” (Genesis 2:22, 23). Dit sê vir ons dat Jehovah wil hê dat getroude mense gelukkig moet wees.

2 Ongelukkig het baie mense nog nooit ’n gelukkige gesinslewe geniet nie. Maar die Bybel bevat baie beginsels wat gesinne sal help om gelukkig te wees. Dit sê vir elkeen in die gesin wat om te doen om hulle liefde vir mekaar te versterk. – Lukas 11:28.

WAT GOD VAN MANS VERWAG

3, 4. (a) Hoe moet ’n man sy vrou behandel? (b) Hoekom is dit belangrik dat ’n man en vrou mekaar vergewe?

3 Die Bybel sê dat ’n goeie man sy vrou met liefde en respek moet behandel. Lees Efesiërs 5:25-29. ’n Man moet sy vrou altyd liefdevol behandel. Hy sal haar ook beskerm, vir haar sorg en niks doen wat haar sal benadeel nie.

4 Maar wat moet ’n man doen wanneer sy vrou foute maak? Die Bybel sê: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kolossense 3:19). Mans, onthou, julle maak ook foute. En as julle wil hê dat God julle moet vergewe, moet julle julle vrouens vergewe (Matteus 6:12, 14, 15). Wanneer ’n man en vrou bereid is om mekaar te vergewe, sal dit hulle help om ’n gelukkige huwelik te hê.

5. Hoekom moet ’n man sy vrou met respek behandel?

5 Jehovah verwag dat ’n man sy vrou met respek moet behandel. ’n Man moet mooi nadink oor sy vrou se behoeftes. Dit is ’n baie ernstige saak. As ’n man sy vrou nie goed behandel nie, kan Jehovah weier om na sy gebede te luister (1 Petrus 3:7). Vir Jehovah is die man nie belangriker as die vrou nie. Elkeen wat vir hom lief is, is vir hom waardevol.

6. Wat beteken dit dat ’n man en vrou “een vlees” is?

6 Jesus het van ’n man en vrou gesê: “Hulle is . . . nie meer twee nie, maar een vlees” (Matteus 19:6). Hulle is lojaal aan mekaar en sal nooit ontrou aan mekaar wees nie (Spreuke 5:15-21; Hebreërs 13:4). Mans en vrouens moet op ’n onselfsugtige manier na mekaar se seksuele behoeftes omsien (1 Korintiërs 7:3-5). ’n Man moet die volgende onthou: “Geen man het al ooit sy eie liggaam gehaat nie, maar hy voed dit en versorg dit.” Hy moet sy vrou dus liefhê en vir haar wys dat hy haar waardeer. Vir ’n vrou is dit baie belangrik dat haar man liefdevol teenoor haar is. – Efesiërs 5:29.

WAT GOD VAN VROUENS VERWAG

7. Hoekom het ’n gesin ’n gesinshoof nodig?

7 In elke gesin moet daar iemand wees wat die leiding neem en die gesin help om goed saam te werk. Die Bybel sê in 1 Korintiërs 11:3 dat “Christus die hoof van elke man is, die man die hoof van die vrou is en God die hoof van die Christus is”.

8. Hoe kan ’n vrou wys dat sy diep respek vir haar man het?

8 Elke man maak foute. Maar wanneer ’n vrou haar man se besluite ondersteun en gewillig met hom saamwerk, vind die hele gesin daarby baat (1 Petrus 3:1-6). Die Bybel sê: “Die vrou moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Sê nou ’n man glo nie aan God nie of behoort aan ’n ander geloof as sy vrou? Sy moet nog steeds diep respek vir hom hê. Die Bybel sê: “Vrouens, net so moet julle onderdanig wees aan julle mans, sodat mans wat nie aan die woord gehoorsaam is nie, sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word omdat hulle ooggetuies is van julle goeie gedrag en diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). ’n Vrou se goeie voorbeeld kan haar man help om haar geloof te verstaan en te respekteer.

9. (a) Wat moet ’n vrou doen as sy nie met haar man saamstem nie? (b) Watter raad gee Titus 2:4, 5 vir vrouens?

9 Wat kan ’n vrou doen wanneer sy nie met haar man saamstem nie? Sy moet op ’n respekvolle manier vir hom sê wat sy dink. Sara het byvoorbeeld ’n voorstel gemaak waarvan Abraham nie gehou het nie, maar Jehovah het vir hom gesê: “Luister na haar” (Genesis 21:9-12). ’n Christenman se finale besluit sal gewoonlik nie bots met wat die Bybel sê nie, en daarom moet sy vrou hom ondersteun (Handelinge 5:29; Efesiërs 5:24). ’n Goeie vrou sal na haar gesin omsien. (Lees Titus 2:4, 5.) Wanneer haar man en kinders sien hoe hard sy vir hulle werk, sal hulle selfs liewer vir haar wees en haar meer respekteer. – Spreuke 31:10, 28.

Hoe is Sara ’n goeie voorbeeld vir vrouens?

10. Mag egpare volgens die Bybel uitmekaar gaan of skei?

10 Soms besluit egpare te vinnig om uitmekaar te gaan of om te skei. Maar die Bybel sê dat “’n vrou nie van haar man moet weggaan nie” en dat ‘’n man ook nie sy vrou moet verlaat nie’ (1 Korintiërs 7:10, 11). In sekere uiterste gevalle kan iemand besluit om sy of haar maat te verlaat, maar dit is ’n ernstige besluit. Wat van egskeiding? Die Bybel sê dat seks buite die huwelik die enigste rede is waarom ’n egpaar mag skei. – Matteus 19:9.

WAT GOD VAN OUERS VERWAG

Jesus is ’n goeie voorbeeld vir elke lid van die gesin

11. Wat het kinders veral nodig?

11 Ouers, julle moet soveel tyd as wat julle kan met julle kinders spandeer. Julle kinders het julle nodig. En nog belangriker: Dit is julle wat hulle van Jehovah moet leer. – Deuteronomium 6:4-9.

12. Wat moet ouers doen om hulle kinders te beskerm?

12 Satan se wêreld word al hoe slegter, en daar is mense wat ons kinders wil seermaak en hulle selfs seksueel wil molesteer. Party ouers vind dit moeilik om oor hierdie onderwerp te praat. Maar ouers moet hulle kinders teen sulke mense waarsku en hulle leer hoe om hulle te vermy. Ouers, julle moet julle kinders beskerm. * – 1 Petrus 5:8.

13. Hoe moet ouers hulle kinders leer?

13 Dit is ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders te leer hoe hulle hulle moet gedra. Hoe kan jy jou kinders leer? Jou kinders het opleiding nodig, maar jy moenie wreed of ongevoelig wees wanneer jy hulle dissiplineer nie (Jeremia 30:11). Moet dus nooit jou kinders dissiplineer wanneer jy kwaad is nie. Jy wil nie hê dat jou woorde soos “swaardsteke” moet wees wat hulle seermaak nie (Spreuke 12:18). Help jou kinders om te verstaan hoekom hulle gehoorsaam moet wees. – Efesiërs 6:4; Hebreërs 12:9-11; sien Eindnota 30.

WAT GOD VAN KINDERS VERWAG

14, 15. Hoekom moet kinders aan hulle ouers gehoorsaam wees?

14 Jesus was altyd gehoorsaam aan sy Vader, selfs wanneer dit moeilik was (Lukas 22:42; Johannes 8:28, 29). Jehovah verwag dat kinders ook aan hulle ouers gehoorsaam moet wees. – Efesiërs 6:1-3.

15 Kinders, al voel julle dat dit moeilik is om gehoorsaam te wees aan julle ouers, moet julle onthou dat julle Jehovah en julle ouers gelukkig maak as julle gehoorsaam is. * – Spreuke 1:8; 6:20; 23:22-25.

Wat sal jongmense help om getrou aan God te wees wanneer ander wil hê dat hulle verkeerde dinge moet doen?

16. (a) Hoe probeer Satan jongmense kry om dinge te doen wat sleg is? (b) Hoekom is dit belangrik om vriende te kies wat lief is vir Jehovah?

16 Die Duiwel kan jou vriende en ander jongmense gebruik om jou te probeer kry om dinge te doen wat verkeerd is. Hy weet dat dit baie moeilik kan wees om hierdie soort druk te weerstaan. Byvoorbeeld, Jakob se dogter Dina het vriende gehad wat nie lief was vir Jehovah nie. Dit het vir haar en haar gesin baie probleme veroorsaak (Genesis 34:1, 2). As jou vriende nie lief is vir Jehovah nie, sal hulle jou dalk kry om iets te doen wat Jehovah haat, en dit kan jou, jou gesin en God baie seermaak (Spreuke 17:21, 25). Dit is hoekom dit baie belangrik is om vriende te vind wat lief is vir Jehovah. – 1 Korintiërs 15:33.

JOU GESIN KAN GELUKKIG WEES

17. Watter verantwoordelikheid het elkeen in die gesin?

17 Wanneer die lede van ’n gesin gehoorsaam is aan God, vermy hulle moeilikheid en baie probleme. As jy ’n man is, moet jy jou vrou liefhê en haar liefdevol behandel. As jy ’n vrou is, moet jy respekvol teenoor jou man wees en onderdanig aan hom wees. En jy moet die voorbeeld navolg van die vrou wat in Spreuke 31:10-31 beskryf word. As jy ’n ouer is, moet jy jou kinders leer om God lief te hê (Spreuke 22:6). As jy ’n pa is, moet jy jou gesin “goeie leiding” gee (1 Timoteus 3:4, 5; 5:8). En kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers (Kolossense 3:20). Onthou dat elkeen in die gesin foute kan maak. Wees dus nederig en vra mekaar om vergifnis. Ja, die Bybel bevat Jehovah se instruksies vir elkeen in die gesin.

^ par. 12 Vir meer inligting oor hoe om julle kinders te beskerm, sien hoofstuk 32 van die boek Leer by die Groot Onderwyser, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 15 ’n Kind hoef nie aan sy ouers gehoorsaam te wees as hulle wil hê dat hy iets moet doen wat teen God se wet is nie. – Handelinge 5:29.