Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGTIEN

Moet ek my lewe aan God toewy en gedoop word?

Moet ek my lewe aan God toewy en gedoop word?

1. Waaroor wonder jy dalk nadat jy hierdie boek gestudeer het?

JY HET baie Bybelwaarhede geleer terwyl jy hierdie boek gestudeer het, soos God se belofte van die ewige lewe, die toestand van die dooies en die hoop van die opstanding (Prediker 9:5; Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4). Jy het dalk die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon, en dalk glo jy dat hulle die ware godsdiens beoefen (Johannes 13:35). Jy het moontlik ’n goeie vriendskap met Jehovah begin opbou, en jy het dalk besluit dat jy hom wil dien. Daarom wonder jy dalk: ‘Wat moet ek nog doen om God te dien?’

2. Hoekom wou ’n Etiopiese man gedoop word?

2 ’n Etiopiese man wat in Jesus se tyd gelewe het, het ook gewonder wat hy nog moes doen om God te dien. ’n Rukkie nadat Jesus opgewek is, het ’n dissipel van Jesus met die naam Filippus vir hierdie man gepreek. Filippus het aan hom bewys dat Jesus die Messias is. Wat die Etiopiese man geleer het, het hom so diep geraak dat hy dadelik gesê het: “Kyk! Hier is water. Wat keer my om gedoop te word?” – Handelinge 8:26-36.

3. (a) Watter opdrag het Jesus vir sy volgelinge gegee? (b) Hoe moet ’n persoon gedoop word?

3 Die Bybel toon duidelik dat jy gedoop moet word as jy Jehovah wil dien. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle” (Matteus 28:19). Jesus het ook die voorbeeld gestel deur self gedoop te word. Hy is heeltemal onder die water gedompel. Sy kop is nie net met water besprinkel nie (Matteus 3:16). Wanneer ’n Christen vandag gedoop word, moet hy ook heeltemal onder die water gedompel word.

4. Wat wys jou doop vir ander?

4 Wanneer jy gedoop word, wys jy vir ander dat jy regtig God se vriend wil wees en dat jy hom wil dien (Psalm 40:7, 8). Daarom wonder jy dalk: ‘Wat moet ek doen om gedoop te word?’

KENNIS EN GELOOF

5. (a) Wat moet jy doen voordat jy gedoop kan word? (b) Hoekom is Christelike vergaderinge belangrik?

5 Voordat jy gedoop kan word, moet jy Jehovah en Jesus leer ken. Jy het dit alreeds begin doen deur die Bybel te studeer. (Lees Johannes 17:3.) Maar dit is nie genoeg nie. Die Bybel sê dat jy ‘gevul moet word met die akkurate kennis’ van Jehovah se wil (Kolossense 1:9). Die vergaderinge van Jehovah se Getuies sal jou help om jou verhouding met Jehovah te versterk. Dit is ’n belangrike rede waarom jy hierdie vergaderinge gereeld moet bywoon. – Hebreërs 10:24, 25.

Voordat jy gedoop kan word, moet jy die Bybel studeer

6. Hoe goed moet jy die Bybel ken voordat jy gedoop kan word?

6 Jehovah verwag natuurlik nie dat jy alles in die Bybel moet ken voordat jy gedoop word nie. Hy het nie verwag dat die Etiopiese man alles moes weet voordat hy gedoop is nie (Handelinge 8:30, 31). En ons sal vir ewig aanhou om van God te leer (Prediker 3:11). Maar om gedoop te word, moet jy ten minste die basiese leringe van die Bybel ken en aanvaar. – Hebreërs 5:12.

7. Hoe het jou studie van die Bybel jou gehelp?

7 Die Bybel sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry” (Hebreërs 11:6). Jy moet dus geloof hê voordat jy gedoop kan word. Die Bybel sê vir ons dat party mense in die eertydse stad Korinte gehoor het wat Jesus se volgelinge geleer het en as gevolg daarvan ‘begin glo het en gedoop is’ (Handelinge 18:8). Net so het jou studie van die Bybel jou gehelp om geloof te stel in God se beloftes en in die feit dat Jesus se offerande ons van sonde en die dood kan red. – Josua 23:14; Handelinge 4:12; 2 Timoteus 3:16, 17.

VERTEL ANDER VAN BYBELWAARHEDE

8. Wat sal jou beweeg om ander te vertel van wat jy geleer het?

8 As jy meer van die Bybel leer en sien hoe dit jou in jou lewe help, sal jou geloof sterker word. Jy sal ander wil vertel van wat jy leer (Jeremia 20:9; 2 Korintiërs 4:13). Maar vir wie moet jy vertel?

Geloof moet jou beweeg om vir ander te vertel wat jy glo

9, 10. (a) Met wie kan jy begin praat oor wat jy geleer het? (b) Wat moet jy doen as jy saam met die gemeente wil preek?

9 Jy sal dalk vir jou familie, vriende, bure of werksmaats wil vertel wat jy leer. Dit is goed, maar jy moet dit altyd op ’n vriendelike en liefdevolle manier doen. Later sal jy saam met die gemeente kan begin preek. Wanneer jy voel dat jy gereed is om saam met die gemeente aan die predikingswerk deel te neem, kan jy dit bespreek met die Getuie wat die Bybel met jou studeer. As daardie persoon dink dat jy gereed is, en as jy volgens Bybelstandaarde lewe, sal twee ouermanne in die gemeente ’n vergadering met julle hou.

10 Wat sal by daardie vergadering gebeur? Die ouermanne sal met jou praat om te sien of jy basiese Bybelleringe verstaan en glo, of jy in jou daaglikse lewe gehoorsaam is aan wat die Bybel sê en of jy regtig een van Jehovah se Getuies wil wees. Onthou dat die ouermanne al die lede van die gemeente wil help, wat jou insluit, en daarom moet jy nie bang wees om met hulle te praat nie (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2, 3). Ná hierdie vergadering sal die ouermanne vir jou sê of jy saam met die gemeente kan begin preek.

11. Hoekom moet jy dalk veranderinge maak voordat jy saam met die gemeente kan preek?

11 Die ouermanne sal dalk vir jou sê dat jy nog veranderinge moet maak voordat jy saam met die gemeente kan begin preek. Hoekom is dit so belangrik om hierdie veranderinge te maak? Wanneer ons met ander oor Jehovah praat, verteenwoordig ons hom, en daarom moet ons op ’n manier lewe wat hom eer. – 1 Korintiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21.

TOON BEROU EN DRAAI OM

12. Hoekom moet alle mense berou toon?

12 Daar is nog iets wat jy moet doen voordat jy gedoop kan word. Die apostel Petrus het gesê: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word” (Handelinge 3:19). Wat beteken dit om berou te toon? Dit beteken dat ons baie jammer is oor enige verkeerde dinge wat ons gedoen het. Byvoorbeeld, as jy ’n seksueel onsedelike lewe gelei het, moet jy berou toon. En al het jy jou hele lewe lank baie hard probeer om te doen wat reg is, moet jy nog steeds berou toon, want ons almal sondig en ons almal moet God vra om ons te vergewe. – Romeine 3:23; 5:12.

13. Wat beteken dit om ‘om te draai’?

13 Is dit genoeg om net jammer te wees oor wat jy gedoen het? Nee. Petrus het ook gesê: “Draai om.” Dit beteken dat jy jou vorige verkeerde gedrag moet verwerp en moet begin doen wat reg is. ’n Mens kan dit soos volg verduidelik. Stel jou voor dat jy vir die eerste keer na ’n sekere plek toe ry. Ná ’n ruk besef jy dat jy in die verkeerde rigting gaan. Wat sal jy doen? Jy sal natuurlik stop, omdraai en dan in die regte rigting ry. Terwyl jy die Bybel studeer, sal jy dalk ook besef dat jy sekere gewoontes of ander dinge in jou lewe moet verander. Wees bereid om ‘om te draai’ deur die nodige veranderinge te maak en te begin doen wat reg is.

WY JOU AAN JEHOVAH TOE

Het jy vir Jehovah belowe dat jy hom sal dien?

14. Hoe wy jy jou aan God toe?

14 Daar is nog ’n belangrike stap wat jy moet neem voordat jy gedoop word. Jy moet jou aan Jehovah toewy. Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, sê jy ’n gebed waarin jy belowe om hom alleen te aanbid en om sy wil die belangrikste ding in jou lewe te maak. – Deuteronomium 6:15.

15, 16. Wat beweeg iemand om hom aan God toe te wy?

15 Die belofte om Jehovah alleen te dien, kan vergelyk word met die belofte om vir die res van jou lewe getrou te wees aan iemand vir wie jy lief is. Dink byvoorbeeld aan ’n man en ’n vrou wat in ’n romantiese verhouding is. Hoe beter die man die vrou leer ken, hoe liewer word hy vir haar, en hy sal met haar wil trou. Al is dit ’n ernstige besluit, is hy bereid om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar omdat hy haar liefhet.

16 Wanneer jy Jehovah leer ken, word jy lief vir hom en wil jy jou bes doen om hom te dien. Dit sal jou beweeg om in gebed vir hom te belowe dat jy hom sal dien. Volgens die Bybel moet enigiemand wat Jesus wil volg, “ophou om vir homself te lewe” (Markus 8:34). Wat beteken dit? Dit beteken dat gehoorsaamheid aan Jehovah die belangrikste ding in jou lewe moet wees. Wat Jehovah wil hê, is belangriker as wat jy wil hê of wat jy wil doen. – Lees 1 Petrus 4:2.

MOENIE BANG WEES NIE

17. Hoekom wil sommige mense hulle nie aan Jehovah toewy nie?

17 Sommige mense wil hulle nie aan Jehovah toewy nie omdat hulle bang is dat hulle nie hulle belofte om hom te dien, sal kan hou nie. Hulle wil Jehovah nie teleurstel nie. Of hulle dink dalk dat Jehovah hulle nie verantwoordelik sal hou vir wat hulle doen as hulle nog nie aan hom toegewy is nie.

18. Wat sal jou help om die vrees te oorkom dat jy Jehovah sal teleurstel?

18 Jou liefde vir Jehovah sal jou help om die vrees te oorkom dat jy hom sal teleurstel. Omdat jy lief is vir hom, sal jy jou bes doen om jou belofte aan hom te hou (Prediker 5:4; Kolossense 1:10). Jy sal nie dink dat dit te moeilik is om Jehovah se wil te doen nie. Die apostel Johannes het geskryf: “Die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam. En tog is sy gebooie nie swaar nie.” – 1 Johannes 5:3.

19. Hoekom moet jy nie bang wees om jou aan Jehovah toe te wy nie?

19 Jy hoef nie volmaak te wees om jou aan Jehovah toe te wy nie. Hy verwag nooit dat ons iets moet doen wat ons nie kan doen nie (Psalm 103:14). Hy sal jou help om te doen wat reg is (Jesaja 41:10). Vertrou op Jehovah met jou hele hart, en “hy sal jou paaie gelykmaak”. – Spreuke 3:5, 6.

LAAT JOU DOOP

20. Wat moet jy doen nadat jy jou aan God toegewy het?

20 Dink jy dat jy gereed is om jou aan Jehovah toe te wy? Nadat jy jou aan Jehovah toegewy het, is jy gereed vir die volgende stap. Jy moet gedoop word.

21, 22. Hoe kan jy jou geloof “in die openbaar bekend maak”?

21 Sê vir die koördineerder van die liggaam van ouermanne van jou gemeente dat jy jou aan Jehovah toegewy het en dat jy gedoop wil word. Hy sal dan reël dat ’n paar ouermanne die basiese Bybelleringe met jou hersien. As hulle saamstem dat jy gereed is, sal hulle vir jou sê dat jy by die volgende byeenkoms van Jehovah se Getuies gedoop kan word. By die byeenkoms sal ’n toespraak gehou word wat verduidelik wat dit beteken om gedoop te word. Die spreker wat die toespraak hou, sal diegene wat gereed is om gedoop te word, vra om twee eenvoudige vrae te beantwoord. Deur hierdie vrae te beantwoord, sal jy jou geloof “in die openbaar bekend maak”. – Romeine 10:10.

22 Dan sal jy gedoop word. Jy sal heeltemal onder die water gedompel word. Jou doop sal vir almal wys dat jy jou aan Jehovah toegewy het en nou een van Jehovah se Getuies is.

DIE BETEKENIS VAN JOU DOOP

23. Wat beteken dit om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word?

23 Jesus het gesê dat sy dissipels “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop moet word. (Lees Matteus 28:19.) Wat beteken dit? Dit beteken dat jy drie dinge erken: dat Jehovah die Allerhoogste is, dat Jesus ’n belangrike rol speel in die vervulling van God se beloftes en dat God sy heilige gees gebruik om sy wil uit te voer. – Psalm 83:18; Matteus 28:18; Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 1:21.

Wanneer jy gedoop word, wys jy dat jy God se wil wil doen

24, 25. (a) Wat beteken doop? (b) Wat sal ons in die laaste hoofstuk bespreek?

24 Doop het ’n baie belangrike betekenis. Wanneer jy onder die water gedompel word, beteken dit dat jy gesterf het wat jou vorige lewenswyse betref, met ander woorde, jy het dit agtergelaat. Wanneer jy uit die water opkom, begin jy ’n nuwe lewe waarin jy doen wat God wil hê. Jou doop wys dat jy Jehovah van daardie oomblik af sal dien. Onthou dat jy jou nie toewy aan ’n mens, ’n organisasie of ’n werk nie. Jy wy jou lewe aan Jehovah toe.

25 Jou toewyding sal jou help om ’n goeie vriendskap met Jehovah te ontwikkel (Psalm 25:14). Dit beteken nie dat ’n persoon gered sal word net omdat hy gedoop word nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Hou aan om met vrees en diep respek aan julle eie redding te werk” (Filippense 2:12). Doop is net die begin. Maar hoe kan jy na aan Jehovah bly? Die laaste hoofstuk van hierdie boek sal daardie vraag beantwoord.