Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGENTIEN

Bly na aan Jehovah

Bly na aan Jehovah

1, 2. Waar kan ons vandag beskerming vind?

STEL jou voor dat jy op ’n stormagtige dag buite loop. Dit word al hoe donkerder en dan begin dit hard reën. Jy soek skuiling en is baie verlig wanneer jy uiteindelik ’n veilige, droë plek vind!

2 Ons is vandag in ’n soortgelyke situasie. Toestande in die wêreld word al hoe slegter. Miskien wonder jy: ‘Waar kan ek beskerming vind?’ Een Bybelskrywer het gesê: “Ek sal vir Jehovah sê: ‘U is my skuilplek en my vesting, my God, op wie ek vertrou’” (Psalm 91:2). Ja, Jehovah kan ons nou verligting gee van ons probleme, en hy gee ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms.

3. Wat moet ons doen as ons Jehovah se beskerming wil hê?

3 Hoe beskerm Jehovah ons? Deur ons te help wanneer ons probleme het of wanneer ons in gevaar is. Hy is baie magtiger as enigiemand anders. Al gebeur slegte dinge nou met ons, kan ons seker wees dat Jehovah die skade in die toekoms sal herstel. Die Bybel moedig ons aan: ‘Bly in God se liefde’ (Judas 21). Ons moet na aan Jehovah bly om sy hulp gedurende moeilike tye te ontvang. Maar hoe kan ons dit doen?

REAGEER OP GOD SE LIEFDE

4, 5. Hoe het Jehovah gewys dat hy lief is vir ons?

4 As ons na aan Jehovah wil bly, moet ons besef hoe lief hy vir ons is. Dink aan alles wat Jehovah vir ons gedoen het. Hy het vir ons ’n pragtige aarde gegee, vol interessante plante en diere. Hy het ons ook lekker kos gegee om te eet en skoon water om te drink. Deur middel van die Bybel het Jehovah sy naam en wonderlike eienskappe aan ons bekend gemaak. Die belangrikste manier waarop hy sy liefde aan ons betoon het, is deur sy geliefde Seun, Jesus, aarde toe te stuur om sy lewe vir ons te gee (Johannes 3:16). En danksy daardie offerande het ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms.

5 Jehovah het ook die Messiaanse Koninkryk voorsien, ’n hemelse regering wat binnekort ’n einde aan alle lyding sal maak. Die Koninkryk sal die aarde ’n paradys maak, waar almal vir ewig in vrede en geluk sal lewe (Psalm 37:29). Nog ’n manier waarop Jehovah sy liefde aan ons betoon het, is deur ons te leer wat die beste manier is om nou te lewe. Hy nooi ons ook om tot hom te bid, en hy is altyd gereed om na ons gebede te luister. Dit is alles bewyse dat Jehovah elkeen van ons liefhet.

6. Hoe moet jy op Jehovah se liefde reageer?

6 Hoe moet jy op Jehovah se liefde reageer? Wys vir hom dat jy dankbaar is vir alles wat hy vir jou gedoen het. Ongelukkig is baie mense vandag ondankbaar. Dit was ook in Jesus se tyd die geval. Jesus het eenkeer tien melaatses genees, maar net een van hulle het hom bedank (Lukas 17:12-17). Ons wil soos die man wees wat Jesus bedank het. Ons wil altyd vir Jehovah wys dat ons dankbaar is.

7. Hoe lief moet ons vir Jehovah wees?

7 Ons moet ook vir Jehovah wys dat ons hom liefhet. Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle Jehovah met hulle hele hart, hulle hele siel en hulle hele verstand moet liefhê. (Lees Matteus 22:37.) Wat beteken dit?

8, 9. Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons hom liefhet?

8 Is dit genoeg om net te sê dat ons Jehovah liefhet? Nee. As ons Jehovah met ons hele hart, siel en verstand liefhet, sal ons dade dit bewys (Matteus 7:16-20). Die Bybel sê duidelik dat ons God se gebooie sal gehoorsaam as ons hom liefhet. Is dit moeilik? Nee, want Jehovah se ‘gebooie is nie swaar nie’. – Lees 1 Johannes 5:3.

9 As ons Jehovah gehoorsaam, sal ons ’n gelukkige lewe hê (Jesaja 48:17, 18). Maar wat sal ons help om na aan Jehovah te bly? Kom ons kyk.

HOU AAN OM NADER AAN JEHOVAH TE KOM

10. Hoekom moet jy aanhou om van Jehovah te leer?

10 Hoe het jy Jehovah se vriend geword? Deur jou studie van die Bybel. So het jy Jehovah beter leer ken en ’n vriendskap met hom opgebou. Hierdie vriendskap is soos ’n vuur wat jy aan die brand wil hou. Net soos jy moet aanhou om hout op ’n vuur te sit sodat dit kan bly brand, moet jy aanhou om van Jehovah te leer om julle vriendskap sterk te hou. – Spreuke 2:1-5.

Soos ’n vuur hout nodig het om te brand, moet jou liefde vir Jehovah gevoed word om sterk te bly

11. Wat sal gebeur as jy aanhou om die Bybel te studeer?

11 Terwyl jy voortgaan om die Bybel te studeer, sal jy dinge leer wat jou hart diep sal raak. Let op hoe twee van Jesus se dissipels gevoel het toe Jesus Bybelprofesieë aan hulle verduidelik het. Hulle het gesê: “Het ons harte nie in ons gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle aan ons verduidelik het nie?” – Lukas 24:32.

12, 13. (a) Wat kan met ons liefde vir God gebeur? (b) Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah sterk hou?

12 Net soos die dissipels se hart geraak is toe hulle die Skrif verstaan het, was jy moontlik ook opgewonde toe jy die Bybel begin verstaan het. Dit het jou gehelp om Jehovah te ken en hom lief te hê. Jy wil nie hê dat hierdie liefde moet afkoel nie. – Matteus 24:12.

13 Selfs nadat jy ’n vriend van God geword het, moet jy aanhou om hard te werk om jou vriendskap sterk te hou. Jy moet aanhou om van hom en van Jesus te leer en om na te dink oor wat jy leer en hoe jy dit in jou lewe kan toepas (Johannes 17:3). Wanneer jy die Bybel lees of studeer, moet jy jou afvra: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah God? Hoekom moet ek hom met my hele hart en siel liefhê?’ – 1 Timoteus 4:15.

14. Hoe help gebed ons om ons liefde vir Jehovah sterk te hou?

14 Goeie vriende praat gereeld met mekaar, en dit hou hulle vriendskap sterk. Net so hou dit ons liefde vir Jehovah sterk wanneer ons gereeld met hom in gebed praat. (Lees 1 Tessalonisense 5:17.) Gebed is ’n wonderlike geskenk van ons hemelse Vader. Ons moet altyd uit ons hart met hom praat (Psalm 62:8). Ons moenie gebede uit ons kop leer en opsê nie. Ons moet regtig bedoel wat ons sê. Ja, as ons aanhou om die Bybel te studeer en uit die hart te bid, sal ons ons liefde vir Jehovah sterk hou.

PRAAT MET ANDER OOR JEHOVAH

15, 16. Hoe beskou jy die predikingswerk?

15 As ons na aan Jehovah wil bly, moet ons ook met ander oor ons geloof praat. Dit is ’n wonderlike voorreg om met ander oor Jehovah te praat (Lukas 1:74). En dit is ’n verantwoordelikheid wat Jesus aan alle ware Christene gegee het. Elkeen van ons moet die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Doen jy dit reeds? – Matteus 24:14; 28:19, 20.

16 Vir die apostel Paulus was die predikingswerk baie kosbaar. Hy het dit ’n “skat” genoem (2 Korintiërs 4:7). Om ander te vertel van Jehovah en van wat hy in gedagte het vir die toekoms, is die belangrikste werk wat jy kan doen. Dit is ’n manier waarop jy Jehovah kan dien, en hy waardeer wat jy vir hom doen (Hebreërs 6:10). Wanneer jy preek, help jy jouself en ander om nader aan Jehovah te kom en die ewige lewe te kan kry. (Lees 1 Korintiërs 15:58.) Geen ander werk kan jou gelukkiger maak nie.

17. Hoekom is die predikingswerk dringend?

17 Die predikingswerk is baie dringend. Ons moet ‘die woord verkondig’ en ‘dringend daarmee besig bly’ (2 Timoteus 4:2). Mense moet weet van God se Koninkryk. Die Bybel sê: “Die groot dag van Jehovah is naby! Dit is naby en kom baie vinnig nader!” Die einde “sal nie laat wees nie!” (Sefanja 1:14; Habakuk 2:3). Ja, binnekort sal Jehovah Satan se goddelose wêreld vernietig. Voordat dit gebeur, moet mense gewaarsku word sodat hulle kan kies om Jehovah te dien.

18. Hoekom moet ons Jehovah saam met ander ware Christene aanbid?

18 Jehovah wil hê dat ons hom saam met ander ware Christene moet aanbid. Die Bybel sê: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Ons moet ons bes doen om by al die vergaderinge te wees. Die vergaderinge gee ons ’n geleentheid om mekaar aan te moedig en te versterk.

19. Wat kan ons help om lief te wees vir ons geestelike broers en susters?

19 Wanneer jy vergaderinge bywoon, sal jy goeie vriende maak wat jou sal help om Jehovah te aanbid. Jy sal ’n klomp verskillende broers en susters ontmoet wat, net soos jy, hulle bes doen om hom te aanbid. En net soos jy, is hulle onvolmaak en maak hulle foute. Wanneer dit gebeur, moet jy bereid wees om hulle te vergewe. (Lees Kolossense 3:13.) Konsentreer altyd op die goeie eienskappe van jou broers en susters, want dit sal jou help om lief te wees vir hulle en al hoe nader aan Jehovah te kom.

DIE WERKLIKE LEWE

20, 21. Wat is “die werklike lewe”?

20 Jehovah wil hê dat al sy vriende die heel beste lewe moet geniet. Die Bybel leer dat ons lewe in die toekoms heeltemal anders sal wees as die lewe wat ons vandag het.

Jehovah wil hê dat jy “die werklike lewe” moet geniet. Sal jy?

21 In die toekoms sal ons vir ewig lewe, nie net 70 of 80 jaar nie. Ons sal “die ewige lewe” in ’n pragtige paradys geniet met volmaakte gesondheid, vrede en geluk. Dit is wat die Bybel “die werklike lewe” noem. Jehovah belowe om vir ons hierdie werklike lewe te gee, maar ons moet nou alles in ons vermoë doen om ’n “stewige houvas” daarop te kry. – 1 Timoteus 6:12, 19.

22. (a) Hoe kan ons “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry? (b) Hoekom kan ons nie die ewige lewe verdien nie?

22 Hoe kan ons “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry? Deur “goed te doen” en “ryk te wees in goeie werke” (1 Timoteus 6:18). Dit beteken dat ons moet toepas wat ons uit die Bybel leer. Maar die werklike lewe hang nie af van enigiets wat ons doen nie. Ons kan nooit die ewige lewe verdien nie. Dit is ’n vrye gawe wat Jehovah aan sy getroue knegte gee, ’n voorbeeld van sy “onverdiende goedheid” (Romeine 5:15). Ons hemelse Vader wil baie graag vir sy getroue knegte hierdie geskenk gee.

23. Hoekom moet jy nou die regte keuses maak?

23 Vra jou af: ‘Aanbid ek God op die manier wat hy goedkeur?’ As jy besef dat jy veranderinge moet maak, moet jy dit dadelik doen. Wanneer ons op Jehovah vertrou en alles in ons vermoë doen om hom te gehoorsaam, sal ons beskerming by Jehovah vind. Hy sal sy getroue knegte beskerm gedurende die laaste dae van Satan se goddelose wêreld. En Jehovah sal seker maak dat ons vir ewig in die Paradys lewe, net soos hy belowe het. Ja, die werklike lewe kan joune wees as jy nou die regte keuses maak!