Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 3

Hoe kan ek met my ouers kommunikeer?

Hoe kan ek met my ouers kommunikeer?

WAAROM DIT SAAK MAAK

Hoe beter jy met jou ouers oor die weg kom, hoe makliker sal jou lewe wees.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou die volgende toneel voor: Dis Woensdagaand. Geoff, 17, is klaar met sy huistakies en is uiteindelik reg vir ’n welverdiende blaaskans! Hy sit die TV aan en val in sy gunstelingstoel neer.

Op daardie oomblik verskyn sy pa in die deur, en hy is nie gelukkig nie.

“Geoffrey! Hoekom mors jy jou tyd voor die TV wanneer jy veronderstel is om jou boetie met sy huiswerk te help? Jy doen nooit wat ek sê nie!”

“Hier gaan ons al weer”, mompel Geoff, hard genoeg om gehoor te word.

Sy pa leun vorentoe. “Wat het jy gesê, mannetjie?”

“Niks nie, Pa”, sug Geoff en rol sy oë.

Nou is sy pa regtig kwaad. “Jy praat nie so met my nie!” sê hy streng.

Hoe sou jy, as jy Geoff was, hierdie stryery voorkom het?

STOP EN DINK!

Om met jou ouers te kommunikeer, is soos om ’n motor te bestuur. As jy ’n padversperring teëkom, kan jy ’n ander roete vind.

BYVOORBEELD:

“Dis vir my moeilik om met my pa te kommunikeer”, sê ’n meisie met die naam Leah. “Partykeer praat ek al ’n rukkie met hom, en dan sê hy: ‘Jammer, praat jy met my?’”

LEAH HET TEN MINSTE DRIE OPSIES.

  1. Skreeu op haar pa.

    Leah skreeu: “Kom nou, dis belangrik! Luister!”

  2. Hou op om met haar pa te praat.

    Leah hou eenvoudig op om haar probleem met haar pa te probeer bespreek.

  3. Wag vir ’n beter tyd en haal die onderwerp weer op.

    Leah praat later persoonlik met haar pa of skryf vir hom ’n brief oor haar probleem.

Watter opsie dink jy moet Leah kies?

DINK HIERAAN: Leah se pa is ingedagte—en kom dus nie agter dat sy gefrustreerd is nie. As Leah dus Opsie A kies, kan dit lyk of haar geskreeu uit die bloute kom. Hierdie opsie sal Leah se pa waarskynlik nie ontvankliker maak vir haar woorde nie, en dit sal nie respek vir hom toon nie (Efesiërs 6:2). Niemand sal dus baat vind by hierdie opsie nie.

Net soos jy nie moet toelaat dat ’n padversperring ’n doodloopstraat moet wees nie, kan jy ’n manier vind om met jou ouers te kommunikeer

Hoewel Opsie B miskien die maklikste weg is om te volg, is dit nie die verstandigste weg nie. Waarom nie? Om haar probleme suksesvol te hanteer, moet Leah met haar pa praat—en om haar te kan help, moet hy weet wat in haar lewe aangaan. ’n Mens bereik niks as jy stilbly nie.

Met Opsie C laat Leah egter nie toe dat ’n padversperring ’n doodloopstraat word nie. Sy probeer die onderwerp eerder op ’n ander tyd bespreek. En as Leah besluit om vir haar pa ’n brief te skryf, kan dit haar dadelik beter laat voel.

As sy die brief skryf, kan dit haar ook help om presies te formuleer wat sy wil sê. Wanneer Leah se pa die brief lees, sal hy besef wat sy vir hom probeer sê het, en dit kan hom help om haar probleem beter te verstaan. Opsie C hou dus voordele in vir Leah en vir haar pa. Hierdie opsie volg die Bybel se vermaning om “die dinge na [te] streef wat vrede bevorder”, hetsy dit persoonlik of deur middel van ’n brief gedoen word.—Romeine 14:19.

Watter ander opsies het Leah dalk?

Kyk of jy aan een kan dink. Dink dan aan watter gevolge hierdie opsies waarskynlik sal hê.

MOENIE VERWARRENDE BOODSKAPPE UITSTUUR NIE

Onthou, wat jy gesê het en wat jou ouers dink jy gesê het, is nie altyd dieselfde nie.

BYVOORBEELD:

Jou ouers vra waarom dit lyk of jy in ’n slegte bui is. Jy sê: “Ek wil nie daaroor praat nie.”

Maar jou ouers hoor: “Ek vertrou julle nie genoeg om met julle daaroor te praat nie. Ek sal met my vriende oor die probleem praat, maar nie met julle nie.”

Stel jou voor dat jy met ’n moeilike probleem sukkel en dat een van jou ouers aanbied om jou te help. Maar jy sê: “Moenie bekommerd wees nie. Ek kan dit self hanteer.”

  • Wat hoor jou ouers dalk?

  • Wat sal moontlik ’n beter antwoord wees?