Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 6

Hoe kan ek groepsdruk weerstaan?

Hoe kan ek groepsdruk weerstaan?

WAAROM DIT SAAK MAAK

Wanneer jy jou standpunt inneem, sal jy in beheer van jou lewe wees eerder as om toe te laat dat ander dit beheer.

WAT SOU JY DOEN?

Stel jou die volgende toneel voor: Terwyl twee van Brian se skoolmaats nader kom, kry hy ’n knop op sy maag. Hulle het hom al twee keer hierdie week probeer kry om te rook. Dit sal hulle derde probeerslag wees.

Die eerste seun sê:

“Is jy al weer alleen? Kom ek stel jou aan ’n vriend voor.”

Hy beklemtoon die woord “vriend” deur te knipoog terwyl hy iets uit sy hempsak haal en sy hand na Brian toe uitsteek.

Brian sien die sigaret tussen die seun se duim en wysvinger. Die knop op Brian se maag raak selfs erger.

“Jammer”, sê Brian. “Ek het mos vir julle gesê dat ek nie . . . ”

Die tweede seun val hom in die rede: “Moenie so ’n bangbroek wees nie!”

“Ek is nie!” skraap Brian die moed bymekaar om te sê.

Die tweede seun sit sy arm om Brian se skouer. “Vat dit net man”, sê hy saggies.

Die eerste seun beweeg die sigaret nader aan Brian se gesig en fluister: “Ons sal vir niemand sê nie. Niemand sal ooit weet nie.”

Wat sou jy doen as jy Brian was?

STOP EN DINK!

Het Brian se skoolmaats regtig nagedink oor wat hulle doen? Het hulle hulle eie besluite geneem? Waarskynlik nie. Hulle is oor die algemeen deur ander beïnvloed. Hulle wil aanvaar word, en daarom laat hulle ander toe om te bepaal wat hulle doen.

Hoe sou jy, as jy in dieselfde situasie was, ’n ander pad gekies het en groepsdruk weerstaan het?

  1. KYK VOORUIT

    Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.”—Spreuke 22:3.

    Jy kan dikwels moeilikheid sien kom. Jy sien byvoorbeeld ’n groep van jou skoolmaats wat eenkant staan en rook. As jy die probleem sien kom, kan jy voorbereid wees om dit te hanteer.

  2. DINK

    Die Bybel sê: “Behou ’n goeie gewete.”—1 Petrus 3:16.

    Vra jou af: ‘Hoe sal ek op die ou end voel as ek met die stroom saamgaan?’ Jy sal dalk ’n rukkie lank die goedkeuring van ander jongmense hê. Maar hoe sal jy later voel? Is jy bereid om jou identiteit op te offer net om jou klasmaats tevrede te stel?—Eksodus 23:2.

  3. BESLUIT

    Die Bybel sê: “Die wyse vrees.”—Spreuke 14:16.

    Vroeër of later moet ons ’n keuse maak en met die gevolge saamleef. Die Bybel praat van manne soos Josef, Job en Jesus, wat almal die regte keuse gemaak het. Dit praat ook van Kain, Esau en Judas, wat verkeerde keuses gemaak het. Wat sal jy doen?

Die Bybel sê: “Handel met getrouheid” (Psalm 37:3). As jy reeds oor die gevolge nagedink het en ’n besluit geneem het, kan dit verbasend maklik—en bevredigend—wees om te waar jy staan.

Moenie bekommerd wees nie—jy hoef nie vir jou skoolmaats ’n toespraak te lewer nie. ’n Eenvoudige maar besliste NEE is dalk genoeg. Of jy kan jou nie-onderhandelbare standpunt duidelik stel deur te sê:

  • “Nie vir my nie, dankie!”

  • “Ek doen nie sulke dinge nie!”

  • “Komaan, julle ken my beter as dit!”

Die sleutel is om dadelik en met oortuiging te reageer. As jy dit doen, sal jy dalk verbaas wees om te sien hoe gou jou skoolmaats jou sal uitlos!

WAT JY KAN DOEN AS JY GESPOT WORD

As jy ingee onder die druk van ander jongmense, word jy soos ’n robot wat onder hulle beheer is

Sê nou ander jongmense spot jou? Hulle sê dalk: “Wat’s fout—is jy ’n bangbroek?” Besef wat hierdie soort aanmerking in werklikheid is—dit is niks anders as groepsdruk nie. Hoe kan jy reageer? Jy het ten minste twee keuses.

  • Jy kan die aanmerking absorbeer. (“Jy’s reg, ek is bang!” Sê dan kortliks waarom.)

  • Jy kan die druk teruggee. Sê waarom jy weier, en doen dan ’n beroep op jou skoolmaats se intelligensie. (“Ek het gedink julle weet beter as om te rook!”)

As jou skoolmaats jou aanhou spot, loop weg! Onthou, hoe langer jy bly, hoe groter sal die druk word. As jy wegloop, wys jy dat jy weier om toe te laat dat ander verander wie jy is.

Dis onrealisties om te dink dat jy van groepsdruk kan wegkruip. Maar jy kan besluit wat jy wil doen, sê waar jy staan en beheer oor die situasie kry. Op die ou end is dit jou keuse!—Josua 24:15.