Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 8

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?

WAAROM DIT SAAK MAAK

Elke jaar word miljoene mense verkrag of op ander maniere seksueel misbruik, en jongmense is ’n vername teiken.

WAT SOU JY DOEN?

Annette se aanvaller het haar op die grond neergegooi voordat sy besef het wat gebeur. “Ek het hard teen hom baklei”, sê sy. “Ek het probeer skreeu, maar kon nie ’n woord uitkry nie. Ek het gestamp en gestoot, geskop, geslaan en gekrap. En toe het ek gevoel hoe ’n mes in my vel wegsink. Ek was verlam van vrees.”

Wat sou jy doen as jy in ’n soortgelyke situasie was?

STOP EN DINK!

Al is jy dalk voorbereid—moontlik deur versigtig te wees wanneer jy in die aand iewers heen gaan—kan slegte dinge gebeur. Die Bybel sê dat “die vinniges nie die wedloop het nie . . . en dat . . . dié wat kennis het, nie die guns het nie; want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal”.—Prediker 9:11.

Party jongmense, soos Annette, word deur ’n vreemdeling aangeval. Ander word deur iemand wat hulle ken of selfs ’n familielid aangeval. Natalie was net 10 jaar oud toe sy seksueel gemolesteer is deur ’n tiener wat naby hulle huis gewoon het. “Ek was so bang en skaam dat ek eers vir niemand vertel het nie”, sê sy.

DIT IS NIE JOU SKULD NIE

Annette voel nog steeds skuldig oor wat gebeur het. “Die gebeure van daardie aand speel oor en oor in my gedagtes af”, sê sy. “Dit voel asof ek harder teen hom moes baklei het. Maar nadat hy my met die mes gesteek het, was ek lam van vrees. Ek kon niks verder doen nie, maar ek voel ek moes.”

Natalie worstel ook met skuldgevoelens. “Ek moes mense nie so maklik vertrou het nie”, sê sy. “My ouers het gesê dat ek en my suster bymekaar moet bly wanneer ons buite speel, maar ek het nie geluister nie. Daarom voel dit asof ek daardie seun die geleentheid gegee het om my seer te maak. Wat gebeur het, het my gesin geraak, en ek voel dis my skuld dat hulle soveel pyn moes deurmaak. Dit is waarmee ek die meeste sukkel.”

As jy soos Annette of Natalie voel, moet jy altyd probeer onthou dat iemand wat verkrag word, nie gewillig seks het nie. Party mense neem hierdie saak ligtelik op en gebruik die verskoning dat dit normaal is vir seuns om so op te tree of dat slagoffers wat verkrag word, daarna gesoek het. Maar niemand verdien om verkrag te word nie. As jy die slagoffer van so ’n verskriklike daad was, onthou: Dit is nie jou skuld nie!

Dit is natuurlik maklik om die woorde “dit is nie jou skuld nie” te lees, maar dit is dalk baie moeiliker om dit te glo. Party mense krop alles op en word geteister deur skuldgevoelens en ander negatiewe emosies. Maar wie trek die meeste voordeel daaruit as jy stilbly—jy of die verkragter? Jy is dit aan jouself verskuldig om ’n ander opsie te oorweeg.

VERTEL IEMAND WAT GEBEUR HET

Die Bybel vertel ons dat die regverdige man Job, gedurende die moeilikste tyd in sy lewe, gesê het: “Ek sal in die bitterheid van my siel praat!” (Job 10:1). Dit kan vir jou goed wees om dit ook te doen. As jy iemand wat jy vertrou, vertel wat gebeur het, kan dit jou help om die verkragting te verwerk en verligting van jou ontstellende emosies te kry.

Jou gevoelens is dalk te moeilik om alleen te dra. Kry hulp deur met iemand daaroor te praat

Dit is wat Annette ondervind het. Sy sê: “Ek het met ’n goeie vriendin gepraat, en sy het my aangemoedig om met ’n paar Christen- ouer manne in my gemeente te praat. Ek is bly dat ek dit gedoen het. Hulle het ’n paar keer met my gesels en vir my gesê presies wat ek moes hoor—dat wat gebeur het, nie my skuld was nie. Geen deel daarvan was my skuld nie.”

Natalie het met haar ouers gepraat oor wat gebeur het. “Hulle het my ondersteun”, sê sy. “Hulle het my aangemoedig om daaroor te praat, en dit het my gehelp om nie so hartseer en kwaad te wees nie.”

Natalie het ook gevind dat gebed vir haar vertroosting gebring het. “Om met God te praat, het my baie gehelp”, sê sy, “veral wanneer ek gevoel het dat ek met niemand anders kon praat nie. Wanneer ek bid, kan ek vryelik praat. Dit gee my werklik ’n gevoel van vrede en kalmte.”

Daar kan ook vir jou ’n tyd vir genesing wees (Prediker 3:3). Sien om na jou fisiese en emosionele behoeftes. Kry die nodige rus. En vertrou bowenal op die God van alle vertroosting, Jehovah.—2 Korintiërs 1:3, 4.

AS JY OUD GENOEG IS OM MET IEMAND UIT TE GAAN

As jy ’n meisie is en jy word onder druk geplaas om jou aan onrein gedrag skuldig te maak, is daar niks mee verkeerd om ferm te sê: “Moenie dit doen nie!” of “Haal jou hand van my af!” Moenie stilbly omdat jy bang is dat jy jou kêrel sal verloor nie. As hy jou hieroor afsê, is hy nie die moeite werd nie! Jy verdien immers ’n ware man, een wat jou liggaam en jou beginsels respekteer.

VRAE OOR SEKSUELE TEISTERING

“Op hoërskool het seuns dikwels van agter af aan my bra getrek en vernederende opmerkings gemaak —soos dat ek baie beter sal voel nadat ek met hulle seks gehad het.”—Coretta.

Dink jy hierdie seuns het:

  1. Haar geterg?

  2. Met haar geflankeer?

  3. Haar seksueel geteister?

“Op die bus het ’n seun lelike dinge vir my begin sê en aan my gevat. Ek het sy hand weggeslaan en vir hom gesê om weg te gaan. Hy het na my gekyk asof ek mal is.”—Candice.

Wat dink jy het hierdie seun aan Candice gedoen?

  1. Haar geterg?

  2. Met haar geflankeer?

  3. Haar seksueel geteister?

“Verlede jaar het ’n seun aanhoudend vir my gesê dat hy van my hou en met my wil uitgaan, al het ek elke keer nee gesê. Soms het hy my arm gestreel. Ek het vir hom gesê om op te hou, maar hy het nie. Toe, terwyl ek my skoen vasgemaak het, het hy my ’n klap op die boud gegee.”—Bethany.

Sou jy sê hierdie seun het:

  1. Haar geterg?

  2. Met haar geflankeer?

  3. Haar seksueel geteister?

Die regte keuse vir al drie is C.

Hoe verskil seksuele teistering van flankeerdery of tergery?

Seksuele teistering is eensydig. Dit duur voort, al sê die slagoffer vir die persoon om op te hou.

Seksuele teistering is ernstig. Dit kan ook tot seksuele geweld lei.