Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 3

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God

Toe Eva op ’n dag alleen was, het ’n slang met haar gepraat. Dit het gesê: ‘Is dit waar dat God nie wil hê dat julle van al die bome moet eet nie?’ Eva het gesê: ‘Ons kan van al die bome eet, behalwe van een. As ons die vrugte van daardie boom eet, sal ons doodgaan.’ Die slang het gesê: ‘Julle sal nie doodgaan nie. As julle daarvan eet, sal julle eintlik soos God wees.’ Was dit waar? Nee, hy het gelieg. Maar Eva het dit geglo. Hoe meer Eva na die vrug gekyk het, hoe meer wou sy dit hê. Sy het die vrug geëet en ook vir Adam daarvan gegee. Hy het geweet dat hulle sou sterf as hulle ongehoorsaam is aan God. Maar Adam het die vrug in elk geval geëet.

Later daardie dag het Jehovah met Adam en Eva gepraat. Hy het vir hulle gevra hoekom hulle ongehoorsaam was aan hom. Eva het gesê dat dit die slang se skuld is, en Adam het gesê dat dit Eva se skuld is. Jehovah het Adam en Eva uit die tuin gesit omdat hulle ongehoorsaam aan hom was. Om seker te maak dat hulle nooit weer by die tuin kon ingaan nie, het hy engele en ’n swaard van vuur by die ingang gesit.

Jehovah het gesê dat die een wat vir Eva gelieg het, ook gestraf sal word. Dit was nie regtig die slang wat met Eva gepraat het nie. Jehovah het nie slange gemaak wat kon praat nie. Dit was ’n slegte engel wat die slang laat praat het. Hy het dit gedoen om Eva te mislei. Daardie engel word Satan die Duiwel genoem. In die toekoms sal Jehovah Satan vernietig en dan sal hy mense nie meer kan mislei om slegte dinge te doen nie.

“Die Duiwel . . . was ’n moordenaar van die begin af, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, want daar is nie waarheid in hom nie.”​—⁠Johannes 8:​44