Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 12

Jakob het die erfenis gekry

Jakob het die erfenis gekry

Isak was 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het. Hy het haar baie liefgehad. Hulle het later twee seuns gehad—hulle was ’n tweeling.

Die oudste een se naam was Esau en die jonger een se naam was Jakob. Esau het daarvan gehou om buite te wees en hy was ’n goeie jagter. Maar Jakob het daarvan gehou om by die huis te bly.

In daardie dae het die oudste seun die meeste van die grond en geld gekry wanneer sy pa gesterf het. Dit was ’n erfenis genoem. In Isak se familie sou die een wat die erfenis ontvang, ook ’n deel hê aan die beloftes wat Jehovah aan Abraham gemaak het. Daardie beloftes was nie vir Esau belangrik nie, maar Jakob het geweet dat dit baie belangrik is.

Eendag was Esau baie moeg toe hy ná ’n lang dag in die veld by die huis kom. Hy het die lekker kos geruik wat Jakob besig was om te kook en hy het gesê: ‘Ek is dood van die honger! Gee my ’n bietjie van daardie rooi kos!’ Jakob het gesê: ‘Ek sal, maar belowe my eers dat ek jou erfenis kan kry.’ Esau het geantwoord: ‘Ek gee tog nie om vir my erfenis nie! Jy kan dit maar kry. Ek wil net eet.’ Dink jy dat dit wys van Esau was? Nee, dit was nie. Esau het iets baie waardevols weggegee in ruil vir ’n bord kos.

Toe Isak baie oud was, was dit tyd om aan sy oudste kind ’n seën te gee. Maar Rebekka het Jakob, die jonger seun, gehelp om die seën te kry. Toe Esau hiervan uitvind, was hy baie kwaad en hy het beplan om sy tweelingbroer dood te maak. Isak en Rebekka wou Jakob beskerm, en daarom het hulle vir hom gesê: ‘Gaan weg en gaan bly by jou ma se broer, oom Laban, totdat Esau nie meer kwaad is nie.’ Jakob het na sy ouers se raad geluister en vir sy lewe gevlug.

“Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld wen en sy lewe verloor? Wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?”—Markus 8:36, 37