Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 14

’n Slaaf wat gehoorsaam was aan God

’n Slaaf wat gehoorsaam was aan God

Josef was een van Jakob se jonger seuns. Sy ouer broers het gesien dat hulle pa Josef die liefste gehad het. Hoe dink jy het hulle daaroor gevoel? Hulle was jaloers op Josef en het hom gehaat. Eendag het Josef ’n paar buitengewone drome gehad, en hy het sy broers daarvan vertel. Hulle het gedink dat die drome beteken dat hulle eendag voor hom sou neerbuig. Nou het hulle hom nog meer gehaat!

Eendag het Josef se broers skape opgepas naby die stad Sigem. Jakob het Josef gestuur om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Hulle het Josef van ver af sien aankom en het vir mekaar gesê: ‘Hier kom daardie dromer. Kom ons maak hom dood!’ Hulle het hom gegryp en hom in ’n diep put gegooi. Maar Juda, een van sy broers, het gesê: ‘Moet hom nie doodmaak nie! Laat ons hom eerder as ’n slaaf verkoop.’ Hulle het Josef toe vir 20 silwerstukke aan Midianitiese handelaars verkoop wat op pad was na Egipte.

Josef se broers het sy kleed in ’n bok se bloed gedoop, die kleed na hulle vader toe gestuur en gesê: ‘Is dit nie u seun se kleed nie?’ Jakob het gedink dat ’n wilde dier Josef doodgemaak het. Hy was baie hartseer. Niemand kon hom troos nie.

In Egipte is Josef as ’n slaaf verkoop aan ’n belangrike man met die naam Potifar. Maar Jehovah was met Josef. Potifar het gesien dat Josef ’n goeie werker is en dat hy hom kon vertrou. Ná ’n kort rukkie is Josef oor al Potifar se besittings aangestel.

Potifar se vrou het gesien dat Josef mooi en sterk is. Dag ná dag het sy Josef gevra om by haar te kom lê. Wat sou Josef doen? Hy het geweier en gesê: ‘Nee! Dit is verkeerd. My meester vertrou my, en jy is sy vrou. As ek by jou kom lê, sal ek teen God sondig!’

Eendag het Potifar se vrou Josef probeer dwing om by haar te kom lê. Sy het hom aan sy klere gegryp, maar hy het weggehardloop. Toe Potifar by die huis kom, het sy gesê dat Josef haar aangeval het. Dit was nie die waarheid nie; sy het gelieg. Potifar was baie kwaad en het Josef toe in die tronk gegooi. Maar Jehovah het nie van Josef vergeet nie.

“Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle mettertyd kan verheerlik.”—1 Petrus 5:6