Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 15

Jehovah het Josef nooit vergeet nie

Jehovah het Josef nooit vergeet nie

Terwyl Josef in die tronk was, het Farao, die koning van Egipte, drome gehad wat niemand kon verduidelik nie. Een van Farao se knegte het gesê dat Josef vir hom kan vertel wat sy drome beteken. Farao het Josef dadelik laat roep.

Farao het hom gevra: ‘Kan jy verduidelik wat my drome beteken?’ Josef het vir Farao gesê: ‘Egipte sal sewe jaar lank oorgenoeg kos hê, en daarna sal daar sewe jaar van hongersnood wees. Kies ’n wyse man om kos bymekaar te maak sodat u volk nie sal doodgaan van die honger nie.’ Farao het geantwoord: ‘Ek kies jou! Jy sal die tweede magtigste man in Egipte wees!’ Hoe het Josef geweet wat Farao se drome beteken? Jehovah het Josef gehelp.

Gedurende die volgende sewe jaar het Josef kos bymekaargemaak. Toe was daar ’n hongersnood regoor die aarde, net soos Josef gesê het. Mense het van oral gekom om kos by Josef te koop. Sy pa, Jakob, het gehoor dat daar kos in Egipte was, en daarom het hy tien van sy seuns soontoe gestuur om kos te gaan koop.

Jakob se seuns het na Josef toe gegaan, en hy het hulle dadelik herken. Maar Josef se broers het nie geweet dat dit hy is nie. Hulle het voor hom neergebuig, net soos in die drome wat hy jare tevore gehad het. Josef wou weet of sy broers nog steeds so vol haat was. Daarom het hy vir hulle gesê: ‘Julle is spioene. Julle wil uitvind hoe om ons land aan te val.’ Hulle het gesê: ‘Nee! Ons is 12 broers wat van Kanaän af kom. Een van ons broers is dood, en die jongste een is by ons pa.’ Josef het toe gesê: ‘Bring julle jongste broer na my toe, dan sal ek julle glo.’ Hulle het toe teruggegaan huis toe.

Toe die gesin se kos weer opraak, het Jakob sy seuns teruggestuur Egipte toe. Hierdie keer het hulle vir Benjamin, hulle jongste broer, saam met hulle gevat. Om sy broers te toets, het Josef sy silwerbeker in Benjamin se sak vol graan weggesteek en sy broers daarvan beskuldig dat hulle dit gesteel het. Toe Josef se knegte sy beker in Benjamin se sak kry, was sy broers geskok. Hulle het Josef gesmeek om hulle eerder te straf, nie vir Benjamin nie.

Nou het Josef geweet dat sy broers verander het. Hy kon sy gevoelens nie langer wegsteek nie. Hy het in trane uitgebars en gesê: ‘Ek is julle broer Josef. Lewe my pa nog?’ Sy broers was baie verbaas. Hy het vir hulle gesê: ‘Moenie sleg voel oor wat julle aan my gedoen het nie. God het my hierheen gestuur om julle lewens te red. Maak gou en bring my pa hierheen.’

Hulle het huis toe gegaan om vir hulle pa die goeie nuus te vertel en om hom na Egipte toe te bring. Ná baie jare was Josef en sy pa uiteindelik weer bymekaar.

“As julle die mense nie vir hulle oortredings vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie vir julle oortredings vergewe nie.”—Matteus 6:15