Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 18

Die brandende bos

Die brandende bos

Moses het 40 jaar lank in Midian gebly. Hy het getrou en kinders gehad. Terwyl hy eendag sy skape naby die berg Sinai opgepas het, het hy iets buitengewoons gesien. ’n Doringbos was aan die brand, maar dit het nie uitgebrand nie! Toe Moses nader gaan om te sien hoekom nie, het hy ’n stem uit die bos hoor sê: ‘Moses! Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want jy staan op heilige grond.’ Dit was Jehovah wat deur ’n engel gepraat het.

Moses was bang, en daarom het hy sy gesig toegemaak. Die stem het gesê: ‘Ek het gesien hoe die Israeliete swaarkry. Ek gaan hulle van die Egiptenare red en hulle na ’n goeie land bring. Jy is die een wat my volk uit Egipte sal lei.’ Dink jy dat dit Moses verbaas het?

Moses het gevra: ‘Wat moet ek sê as die mense vra wie my gestuur het?’ God het geantwoord: ‘Sê vir hulle dat Jehovah, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob jou gestuur het.’ Toe het Moses gesê: ‘Sê nou die mense luister nie na my nie?’ Jehovah het vir Moses bewyse gegee dat Hy hom sou help. Hy het vir Moses gesê om sy stok op die grond te gooi. Toe word die stok ’n slang! Toe Moses die slang aan die stert gryp, het dit weer ’n stok geword. Jehovah het gesê: ‘Wanneer jy hierdie teken doen, sal dit bewys dat ek jou gestuur het.’

Moses het gesê: ‘Ek kan nie goed praat nie.’ Jehovah het hom belowe: ‘Ek sal vir jou sê wat om te sê, en ek sal jou broer Aäron stuur om jou te help.’ Moses het nou geweet dat Jehovah hom sal help, en daarom het hy sy vrou en sy seuns geneem en teruggegaan Egipte toe.

“Julle [moet] nie bekommerd wees oor wat julle moet sê of hoe julle dit moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie tyd aan julle gegee word.”—Matteus 10:19