Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 19

Die eerste drie plae

Die eerste drie plae

Die Israeliete is gedwing om hard te werk as slawe. Jehovah het Moses en Aäron na Farao gestuur met die volgende boodskap: ‘Laat my volk gaan sodat hulle my in die wildernis kan aanbid.’ Farao het trots geantwoord: ‘Ek gee nie om wat Jehovah gesê het nie en ek sal die Israeliete nie laat gaan nie.’ Toe het Farao hulle gedwing om selfs harder te werk. Jehovah sou Farao ’n les leer. Weet jy hoe? Hy het die Tien Plae oor Egipte gebring. Jehovah het vir Moses gesê: ‘Farao luister nie na my nie. Hy sal môreoggend by die Nylrivier wees. Gaan na hom toe en sê vir hom dat al die water in die Nylrivier in bloed sal verander omdat hy my volk nie laat gaan het nie.’ Moses was gehoorsaam en het na Farao toe gegaan. Farao het gekyk hoe Aäron die Nyl met sy stok slaan, en die rivier het toe in bloed verander. Die rivier het begin stink, die visse het doodgegaan en daar was geen vars water in die Nyl om van te drink nie. Farao het nog steeds geweier om die Israeliete te laat gaan.

Sewe dae later het Jehovah Moses teruggestuur na Farao toe met die volgende boodskap: ‘As jy nie my volk wegstuur nie, sal Egipte vol paddas word.’ Aäron het sy stok opgelig, en daar was paddas oral in die land. Die mense het paddas in hulle huise, in hulle beddens en in hulle bakke gevind. Daar was paddas net waar jy kyk! Farao het Moses beveel om Jehovah te smeek om ’n einde aan hierdie plaag te maak. Farao het belowe dat hy die Israeliete sal laat gaan. Daarom het Jehovah die plaag laat ophou, en die Egiptenare het die dooie paddas in groot hope bymekaargemaak. Die land het begin stink. Maar Farao wou weer eens nie die volk laat gaan nie.

Toe het Jehovah vir Moses gesê: ‘Aäron moet die grond met sy stok slaan, en die stof sal verander in muggies, of klein vlieë wat kan byt.’ Dadelik was daar oral muggies. Farao se eie volk het vir hom gesê: ‘Hierdie plaag kom van God af.’ Maar Farao wou nog steeds nie die Israeliete laat gaan nie.

“Ek sal hulle nou my krag en my mag laat ken, en hulle sal moet weet dat my naam Jehovah is.”—Jeremia 16:21