Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 20

Die volgende ses plae

Die volgende ses plae

Moses en Aäron het God se boodskap aan Farao gaan vertel. God het gesê: ‘As jy my volk nie laat gaan nie, sal ek steekvlieë na die land toe stuur.’ Daar was swerms steekvlieë in die huise van die Egiptenare, of hulle nou ryk of arm was. Die hele land was vol steekvlieë. Maar daar was geen steekvlieë in die land Gosen, waar die Israeliete gebly het nie. Van die vierde plaag af, het die plae net die Egiptenare getref. Farao het gevra: ‘Smeek Jehovah om hierdie vlieë weg te neem. Julle kan gaan.’ Maar toe Jehovah die steekvlieë wegneem, het Farao van plan verander. Sou Farao ooit sy les leer?

Jehovah het gesê: ‘As Farao my volk nie laat gaan nie, sal die diere van die Egiptenare siek word en doodgaan.’ Die volgende dag het die diere begin doodgaan. Maar die Israeliete se diere het nie doodgegaan nie. Farao was nog steeds hardkoppig en hy wou nie ingee nie.

Toe het Jehovah vir Moses gesê om terug te gaan na Farao toe en om as in die lug in te gooi. Die as het stof geword en was oral in die lug. Dit het op die Egiptenare gaan lê en veroorsaak dat hulle en hulle diere vol sere geword het. Farao het nog steeds geweier om die Israeliete te laat gaan.

Jehovah het Moses weer na Farao toe gestuur met Sy boodskap: ‘Weier jy nog steeds om my volk weg te stuur? Môre sal dit in die land hael.’ Die volgende dag het Jehovah hael, donder en vuur gestuur. Dit was die ergste storm wat daar nog ooit in Egipte was. Al die bome en oeste is vernietig, maar nie dié in Gosen nie. Farao het gesê: ‘Smeek Jehovah om dit te laat ophou! Dan kan julle gaan.’ Maar toe die hael en die reën ophou, het Farao van plan verander.

Toe het Moses gesê: ‘Nou gaan sprinkane al die plante opeet wat ná die haelstorm oorgebly het.’ Miljoene sprinkane het alles opgeëet wat op die landerye en aan die bome oorgebly het. Farao het gesmeek: ‘Vra Jehovah asseblief om die sprinkane weg te stuur.’ Maar selfs nadat Jehovah die sprinkane weggestuur het, het Farao nog steeds geweier om hulle te laat gaan.

Jehovah het vir Moses gesê: ‘Steek jou hand na die hemel uit.’ Onmiddellik het die lug heeltemal donker geword. Die Egiptenare kon drie dae lank niks of niemand sien nie. Net die Israeliete het lig in hulle huise gehad.

Farao het vir Moses gesê: ‘Jy en jou volk kan gaan. Los net julle diere hier.’ Moses het gesê: ‘Ons moet ons diere saamvat sodat ons hulle aan ons God kan offer.’ Farao was baie kwaad. Hy het geskree: ‘Gee pad voor my! As ek jou ooit weer sien, gaan ek jou doodmaak.’

“Julle sal weer die verskil sien tussen ’n regverdige persoon en ’n goddelose persoon, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie dien nie.”—Maleagi 3:18