Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 22

Die wonderwerk by die Rooisee

Die wonderwerk by die Rooisee

Toe Farao hoor dat die Israeliete Egipte verlaat het, het hy van plan verander en wou hy hulle nie meer laat gaan nie. Hy het sy soldate beveel: ‘Kry al my strydwaens gereed en laat ons jaag om by hulle uit te kom! Ons moes hulle nooit laat gaan het nie.’ Hy en sy manne het die Israeliete toe agternagesit.

Jehovah het sy volk gelei; in die dag het Hy ’n wolk gebruik en in die nag het Hy vuur gebruik. Hy het hulle na die Rooisee toe gelei en gesê dat hulle daar moes kamp opslaan.

Toe sien die Israeliete dat Farao en sy leër aangejaag kom. Hulle was vasgekeer tussen die see en die Egiptiese leër. Hulle het vir Moses gesê: ‘Ons gaan sterf! Jy moes ons in Egipte gelos het.’ Maar Moses het gesê: ‘Moenie bang wees nie. Wag en kyk hoe Jehovah ons sal red.’ Moses het regtig op Jehovah vertrou, nè?

Jehovah het vir die Israeliete gesê om kamp op te breek. Daardie nag het Jehovah die wolk geskuif sodat dit tussen die Egiptenare en die Israeliete was. Aan die Egiptenare se kant was dit pikdonker. Maar aan die Israeliete se kant was daar lig.

Jehovah het vir Moses gesê om sy hand oor die see uit te steek. Toe het Jehovah die hele nag lank ’n sterk wind laat waai. Die see is in twee verdeel, en daar was ’n pad in die middel. Miljoene Israeliete het op droë grond, tussen die mure van water, deurgetrek na die anderkant toe.

Farao se leër het die Israeliete op die droë seebodem gevolg. Jehovah het die leër toe in verwarring gebring. Die wiele van hulle strydwaens het begin af val. Die soldate het geskree: ‘Laat ons hier wegkom! Jehovah veg vir hulle.’

Jehovah het vir Moses gesê: ‘Steek jou hand uit oor die see.’ Onmiddellik het die mure van water bo-op die Egiptiese leër geval. Farao en al sy manne het gesterf. Nie een van hulle het oorleef nie.

Aan die anderkant van die see, het die groot groep Israeliete Jehovah geloof met ’n lied: ‘Laat my tot Jehovah sing, want Hy het hoog verhewe geword. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp.’ Terwyl die mense gesing het, het die vrouens gedans en op tamboeryne gespeel. Almal was baie bly dat hulle uiteindelik regtig vry was.

“Daarom kan ons goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’”—Hebreërs 13:6