Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 23

’n Belofte aan Jehovah

’n Belofte aan Jehovah

Omtrent twee maande nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het hulle by die berg Sinai aangekom en daar kamp opgeslaan. Moses het teen die berg opgeklim, en Jehovah het vir hom gesê: ‘Ek het die Israeliete gered. As hulle my gehoorsaam en my wette hou, sal hulle my spesiale volk word.’ Moses het teen die berg afgegaan en vir die Israeliete vertel wat Jehovah gesê het. Hoe het hulle gereageer? Hulle het geantwoord: ‘Ons sal alles doen wat Jehovah vir ons sê om te doen.’

Moses het weer teen die berg opgeklim. Daar het Jehovah vir hom gesê: ‘Ek sal oor drie dae met jou praat. Sê vir die volk om nie teen die berg Sinai te probeer opklim nie.’ Moses het afgeklim en vir die Israeliete gesê dat hulle hulle gereed moet maak om te luister na wat Jehovah gaan sê.

Drie dae later het die Israeliete weerligstrale en ’n donker wolk op die berg gesien. Hulle het ook donderweer en die geluid van ’n horing gehoor. Toe het Jehovah in ’n vuur op die berg neergedaal. Die Israeliete was so bang dat hulle gebewe het. Die hele berg het erg geskud en was vol rook. Die geluid van die horing het harder en harder geword. Toe het God gesê: ‘Ek is Jehovah. Julle mag geen ander gode aanbid nie.’

Moses het weer teen die berg opgeklim, waar Jehovah vir hom wette vir die volk gegee het. Hierdie wette het die volk geleer hoe hulle Jehovah moes aanbid en hoe om hulle te gedra. Moses het die wette neergeskryf en dit toe vir die Israeliete gelees. Hulle het belowe: ‘Ons sal alles doen wat Jehovah vir ons sê om te doen.’ Ja, hulle het ’n belofte aan God gemaak. Maar sou hulle dit nakom?

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—Matteus 22:37