Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 25

’n Tabernakel vir aanbidding

’n Tabernakel vir aanbidding

Toe Moses op die berg Sinai was, het Jehovah vir hom gesê om ’n spesiale tent te bou, wat ’n tabernakel genoem word. Die Israeliete kon Jehovah by hierdie tent aanbid. Hulle sou die tabernakel saam met hulle kon neem wanneer hulle van een plek na die ander getrek het.

Jehovah het gesê: ‘Sê vir die volk dat hulle moet gee wat hulle kan om die tabernakel te help bou.’ Die Israeliete het goud, silwer, koper, edelstene en juwele gegee. Hulle het ook wol, linne, dierevelle en baie ander dinge gegee. Hulle was so vrygewig dat Moses vir hulle moes sê: ‘Ons het genoeg! Moet niks meer bring nie.’

Baie mans en vroue wat goed met hulle hande kon werk, het gehelp om die tabernakel te bou. Jehovah het hulle slim gemaak sodat hulle die werk kon doen. Party het garing gespin, materiaal geweef of borduurwerk gedoen. Ander het met edelstene en goud gewerk of houtsnywerk gedoen.

Die volk het die tabernakel gebou net soos Jehovah gesê het. Hulle het ’n pragtige gordyn gemaak om die tabernakel in twee dele te verdeel, die Heilige en die Allerheiligste. Die verbondsark was in die Allerheiligste. Dit was van akasiahout en goud gemaak. In die Heilige was ’n goue lampstaander, ’n tafel en ’n altaar om wierook op te brand. In die voorhof was ’n groot altaar en ’n wasbak wat van koper gemaak was. Die verbondsark het die Israeliete herinner aan hulle belofte om Jehovah te gehoorsaam. Weet jy wat ’n verbond is? Dit is ’n spesiale soort belofte.

Jehovah het Aäron en sy seuns gekies om as priesters by die tabernakel te werk. Hulle moes na die tabernakel omsien en daar offerandes aan Jehovah bring. Slegs Aäron, die hoëpriester, kon in die Allerheiligste ingaan. Hy het dit een keer per jaar gedoen om ’n offerande te bring vir sy sondes, die sondes van sy familie en die sondes van die hele nasie Israel.

Die Israeliete het die tabernakel klaargemaak ’n jaar nadat hulle Egipte verlaat het. Nou het hulle ’n plek gehad waar hulle Jehovah kon aanbid.

Jehovah het die tabernakel met sy heerlikheid gevul en ’n wolk aan die bokant laat verskyn. So lank as wat die wolk bo die tabernakel gebly het, het die Israeliete nie getrek nie. Maar sodra die wolk beweeg het, het hulle geweet dat dit tyd is om te trek. Dan het hulle die tabernakel uitmekaargehaal en die wolk gevolg.

“Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees. En God self sal by hulle wees.’”—Openbaring 21:3