Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 26

Die twaalf spioene

Die twaalf spioene

Die Israeliete het weggetrek van die berg Sinai af, deur die woestyn Paran na ’n plek met die naam Kades. Daar het Jehovah vir Moses gesê: ‘Stuur 12 manne, een uit elke stam, om die land Kanaän te verken, die land wat ek aan die Israeliete gaan gee.’ Moses het toe 12 manne gekies en vir hulle gesê: ‘Gaan na die land Kanaän en kyk of dit ’n goeie land is waar kos geplant kan word. Kyk of die mense swak of sterk is en of hulle in tente of in stede woon.’ Die 12 spioene, insluitende Josua en Kaleb, het toe na Kanaän gegaan.

Die spioene het 40 dae later teruggekom met vye, granate en druiwe. Hulle het gesê: ‘Dit is ’n goeie land, maar die mense is sterk en die stede het hoë mure.’ Toe het Kaleb gesê: ‘Ons kan hulle oorwin. Kom ons gaan sommer nou!’ Weet jy waarom Kaleb dit gesê het? Omdat hy en Josua op Jehovah vertrou het. Maar die 10 ander spioene het gesê: ‘Nee! Die mense wat daar bly is so groot soos reuse! Ons lyk soos sprinkane teen hulle.’

Die Israeliete het moed verloor. Hulle het begin kla en vir mekaar gesê: ‘Kom ons kies ’n ander leier en gaan terug na Egipte toe. Hoekom moet ons na hierdie plek toe gaan en doodgemaak word?’ Josua en Kaleb het gesê: ‘Moenie ongehoorsaam aan Jehovah wees nie en moenie bang wees nie. Jehovah sal ons beskerm.’ Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle wou selfs vir Josua en Kaleb doodmaak!

Wat het Jehovah gedoen? Hy het vir Moses gesê: ‘Ná alles wat ek vir die Israeliete gedoen het, is hulle nog steeds ongehoorsaam aan my. Daarom sal hulle 40 jaar in die wildernis bly, en hulle sal hier doodgaan. Net hulle kinders en Josua en Kaleb sal in die land woon wat ek aan hulle belowe het.’

“Hoekom is julle so bang? Waar is julle geloof?”—Matteus 8:26