Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 27

Hulle het teen Jehovah in opstand gekom

Hulle het teen Jehovah in opstand gekom

’n Ruk later, terwyl die Israeliete in die wildernis was, het Korag, Datan, Abiram en 250 ander manne teen Moses in opstand gekom. Hulle het vir hom gesê: ‘Ons het nou genoeg gehad van jou! Hoekom moet jy ons leier wees en Aäron die hoëpriester? Jehovah is met ons almal, nie net met jou en Aäron nie.’ Jehovah was nie tevrede hiermee nie. Dit was vir Jehovah asof hulle teen Hom in opstand gekom het!

Moses het vir Korag en die manne wat hom ondersteun het gesê: ‘Kom môre na die tabernakel toe en bring julle vuurbakke met reukwerk saam. Jehovah sal dan vir ons wys wie hy gekies het.’

Die volgende dag het Korag en die 250 manne Moses by die tabernakel gaan ontmoet. Daar het hulle reukwerk geoffer asof hulle priesters was. Jehovah het vir Moses en Aäron gesê: ‘Staan weg van Korag en sy manne af.’

Al het Korag na Moses toe gegaan by die tabernakel, het Datan, Abiram en hulle families geweier om daarheen te gaan. Jehovah het vir die Israeliete gesê om weg te kom van Korag, Datan en Abiram se tente af. Die Israeliete het dadelik weg beweeg. Datan, Abiram en hulle gesinne het buite hulle tente gestaan. Skielik het die grond oopgeskeur en hulle ingesluk! By die tabernakel het ’n vuur uit die hemel gekom en Korag en sy 250 manne verbrand.

Toe het Jehovah vir Moses gesê: ‘Vat ’n staf van die leier van elke stam en skryf sy naam daarop. Maar op die staf van die stam van Levi moet jy Aäron se naam skryf. Sit dit dan in die tabernakel en daar sal blomme groei aan die staf van die man wat ek kies.’

Die volgende dag het Moses al die stawwe gebring en dit vir die leiers gewys. Daar het blomme en ryp amandels aan Aäron se staf gegroei. Op hierdie manier het Jehovah duidelik gewys dat hy Aäron gekies het om die hoëpriester te wees.

“Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig.”—Hebreërs 13:17