Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 28

Bileam se donkie praat

Bileam se donkie praat

Die Israeliete was al amper 40 jaar lank in die wildernis. Hulle het talle sterk stede verower. Hulle het kamp opgeslaan op die plein van Moab wat oos van die Jordaanrivier was. Dit was nou tyd om die Beloofde Land binne te gaan. Balak, die koning van Moab, was bang dat hulle sy land sou oorneem. Hy het toe ’n man met die naam Bileam genooi om na Moab te kom en hom gevra om die Israeliete te vervloek.

Maar Jehovah het vir Bileam gesê: ‘Jy moenie die Israeliete vervloek nie.’ Daarom het Bileam geweier om te gaan. Koning Balak het hom ’n tweede keer genooi en belowe dat hy hom enigiets sou gee wat hy wou hê. Bileam het weer geweier om te gaan. Toe het God vir hom gesê: ‘Jy kan gaan, maar jy mag net sê wat ek vir jou sê om te sê.’

Bileam het op sy donkie geklim en in die rigting van Moab gery. Hy was van plan om die Israeliete te vervloek, al het Jehovah vir hom gesê om dit nie te doen nie. Jehovah se engel het drie keer in die pad verskyn. Bileam kon nie die engel sien nie, maar sy donkie kon wel. Die eerste keer het die donkie van die pad afgedraai en in die veld ingegaan. Daarna het die donkie teen ’n klipmuur gaan staan en Bileam se voet daarteen vasgedruk. Uiteindelik het die donkie plat gaan lê in die middel van die pad. Elke keer het Bileam die donkie met ’n stok geslaan.

Ná die derde keer het Jehovah die donkie laat praat. Die donkie het vir Bileam gevra: ‘Hoekom hou jy aan om my te slaan?’ Bileam het gesê: ‘Jy laat my onnosel lyk. As ek ’n swaard gehad het, sou ek jou doodgemaak het.’ Die donkie het gesê: ‘Jy ry al jare lank op my. Het ek jou al ooit vantevore so behandel?’

Toe het Jehovah Bileam die engel laat sien. Die engel het gesê: ‘Jehovah het jou gewaarsku om Israel nie te vervloek nie.’ Bileam het gesê: ‘Ek het ’n verkeerde ding gedoen. Ek sal teruggaan huis toe.’ Maar die engel het gesê: ‘Jy kan na Moab toe gaan, maar jy mag net sê wat Jehovah vir jou sê om te sê.’

Het Bileam sy les geleer? Nee. Hierna het Bileam drie keer probeer om die Israeliete te vervloek. Maar Jehovah het elke keer veroorsaak dat hy die Israeliete eerder seën. Uiteindelik het die Israeliete Moab aangeval, en Bileam is doodgemaak. Sou dit nie beter gewees het as Bileam in die eerste plek na Jehovah geluister het nie?

“Pas op en vermy elke vorm van gierigheid, want selfs wanneer iemand ’n oorvloed het, hang sy lewe nie van sy besittings af nie.”—Lukas 12:15