Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 29

Jehovah het Josua gekies

Jehovah het Josua gekies

Nadat hy die nasie Israel baie jare lank gelei het, was Moses nou naby die einde van sy lewe. Jehovah het vir hom gesê: ‘Jy is nie die een wat die Israeliete in die Beloofde Land sal inbring nie. Maar ek sal jou toelaat om die land te sien.’ Moses het toe gevra dat Jehovah ’n nuwe leier kies om vir die volk te sorg. Jehovah het vir hom gesê: ‘Gaan na Josua toe en sê vir hom dat hy die een is wat ek gekies het.’

Moses het vir die nasie gesê dat hy binnekort sou sterf en dat Jehovah Josua gekies het om hulle in die Beloofde Land in te lei. Moses het toe vir Josua gesê: ‘Moenie bang wees nie. Jehovah sal jou help.’ Kort daarna het Moses teen die berg Nebo opgeklim. Daar het Jehovah vir hom die land gewys wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Moses was 120 jaar oud toe hy gesterf het.

Jehovah het vir Josua gesê: ‘Trek deur die Jordaanrivier en gaan Kanaän binne. Ek sal jou help net soos ek Moses gehelp het. Sorg dat jy my Wet elke dag lees. Moenie bang wees nie. Wees dapper. Gaan en doen alles wat ek jou beveel het om te doen.’

Josua het twee spioene na die stad Jerigo toe gestuur. Ons sal in die volgende verhaal meer leer oor wat daar gebeur het. Toe hulle terugkom, het hulle gesê dat dit ’n goeie tyd was om die land Kanaän binne te gaan. Die volgende dag het Josua vir die volk gesê om kamp op te breek. Toe het hy die priesters wat die verbondsark gedra het, vooruitgestuur na die Jordaanrivier toe. Die rivier was besig om te oorstroom. Maar die oomblik toe die priesters se voete aan die water raak, het die water ophou vloei en die rivier het opgedroog! Die priesters het tot in die middel van die rivierbedding geloop en daar bly staan totdat die hele nasie Israel deurgetrek het na die anderkant toe. Dink jy dat hierdie wonderwerk hulle herinner het aan wat Jehovah by die Rooisee gedoen het?

Uiteindelik, ná al daardie jare, was die Israeliete in die Beloofde Land. Hulle kon huise en stede bou. Hulle kon landerye, wingerde en vrugteboorde plant. Dit was ’n land wat oorgeloop het van melk en heuning.

“Jehovah sal jou altyd lei en jou selfs in ’n dorre land versadig.”—Jesaja 58:11