Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 31

Josua en die Gibeoniete

Josua en die Gibeoniete

Die ander nasies in Kanaän het gehoor wat met Jerigo gebeur het. Hulle konings het besluit om saam teen die Israeliete te veg. Maar die Gibeoniete het ’n ander plan gemaak. Hulle het ou stukkende klere aangetrek en na Josua toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: ‘Ons kom van ’n ver land af. Ons het van Jehovah gehoor en van alles wat hy vir julle in Egipte en in Moab gedoen het. As julle belowe om ons nie aan te val nie, sal ons julle dienaars word.’

Josua het hulle geglo en belowe om hulle nie aan te val nie. Drie dae later het hy uitgevind dat hulle nie van ’n ver land af was nie. Hulle was van die land Kanaän. Josua het die Gibeoniete gevra: ‘Hoekom het julle vir ons gelieg?’ Hulle het geantwoord: ‘Ons was bang! Ons weet dat Jehovah julle God vir julle veg. Moet ons asseblief nie doodmaak nie.’ Josua het sy belofte nagekom en hulle laat lewe.

Nie lank daarna nie wou vyf Kanaänitiese konings en hulle leërs die Gibeoniete aanval. Josua en sy leër het regdeur die nag gemarsjeer om hulle te gaan red. Die geveg het vroeg die volgende oggend begin. Die Kanaäniete het in alle rigtings begin weghardloop. Maar maak nie saak waarheen hulle gehardloop het nie, Jehovah het groot haelstene op hulle laat val. Toe het Josua vir Jehovah gevra om die son te laat stilstaan. Die son het nog nooit stilgestaan nie. Hoekom sou hy Jehovah vra om dit te laat gebeur? Omdat Josua op Jehovah vertrou het. Die son het meer as ’n dag lank aanhou skyn totdat die Israeliete die Kanaänitiese konings en hulle leërs oorwin het.

“Laat julle ‘ja’ net ja wees en julle ‘nee’, nee, want enigiets meer as dit is van die Duiwel af.”—Matteus 5:37