Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 32

’n Nuwe leier en twee dapper vroue

’n Nuwe leier en twee dapper vroue

Nadat Josua Jehovah se volk jare lank gelei het, het hy op die ouderdom van 110 jaar gesterf. Terwyl hy gelewe het, het die Israeliete Jehovah aanbid. Maar ná Josua se dood het hulle, soos die Kanaäniete, afgode begin aanbid. Omdat die Israeliete nie aangehou het om Jehovah te volg nie, het hy toegelaat dat ’n Kanaänitiese koning met die naam Jabin die lewe vir hulle moeilik maak. Die volk het Jehovah gesmeek om hulle te help. Daarom het Jehovah vir hulle ’n nuwe leier gegee. Sy naam was Barak. Hy sou die volk help om na Jehovah terug te keer.

Debora, ’n profetes, het Barak laat roep. Sy het vir hom ’n boodskap van Jehovah af gehad: ‘Vat 10 000 manne en gaan veg teen Jabin se leërmag by die Kisonstroom. Daar sal jy die geveg teen Sisera, die hoof van Jabin se leërmag, wen.’ Barak het toe vir Debora gesê: ‘Ek sal net gaan as jy saam met my kom.’ Sy het toe gesê: ‘Ek sal saam met jou gaan. Maar onthou dat jy nie die een is wat Sisera sal doodmaak nie. Jehovah het gesê dat ’n vrou hom sal doodmaak.’

Debora het saam met Barak en sy leërmag na die berg Tabor gegaan om vir die geveg reg te maak. Toe Sisera hiervan hoor, het hy onmiddellik sy oorlogswaens en sy manne in die vallei naby die berg bymekaargekry. Debora het vir Barak gesê: ‘Jehovah sal jou vandag laat wen.’ Barak en sy 10 000 manne het teen die berg afgestorm en teen Sisera se sterk leërmag begin veg.

Jehovah het veroorsaak dat die rivier in die Kisonvallei oorstroom. Sisera se oorlogswaens het in die modder vasgesit. Sisera het van sy wa afgeklim en weggehardloop. Barak en sy soldate het die geveg teen Sisera se leërmag gewen, maar Sisera het weggekom! Hy het in die tent van ’n vrou met die naam Jael gaan wegkruip. Sy het vir hom melk gegee om te drink en hom met ’n kombers toegemaak. Hy was baie moeg en het aan die slaap geraak. Toe het Jael stilletjies nader gekruip en ’n tentpen in sy kop gekap, en hy het gesterf.

Barak het Sisera kom soek. Jael het uit haar tent gekom en vir hom gesê: ‘Kom in. Ek sal vir jou die man wys na wie jy soek.’ Barak het ingegaan en gesien dat Sisera dood is. Barak en Debora het ’n lied vir Jehovah gesing om dankie te sê dat Hy die Israeliete laat wen het. Hierna was daar 40 jaar lank vrede in Israel.

“Die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leërmag.”—Psalm 68:11