Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 35

Hanna vra Jehovah vir ’n seun

Hanna vra Jehovah vir ’n seun

’n Israelitiese man met die naam Elkana het twee vrouens, Hanna en Peninna, gehad. Maar Elkana was die liefste vir Hanna. Peninna het baie kinders gehad, en Hanna het glad nie kinders gehad nie. Peninna het haar die hele tyd hieroor geterg. Elkana het sy gesin elke jaar geneem om by die tabernakel in Silo te gaan aanbid. Terwyl hulle eenkeer daar was, het hy gesien dat sy geliefde Hanna baie hartseer is. Hy het gesê: ‘Moet asseblief nie huil nie, Hanna. Ek is hier by jou en ek is lief vir jou.’

Later het Hanna alleen gaan bid. Sy kon nie ophou huil nie en het Jehovah gesmeek om haar te help. Sy het belowe: ‘Jehovah, as u my ’n seun gee, sal ek hom aan u gee, en hy sal u dien so lank as wat hy lewe.’

Die hoëpriester Eli het gesien hoe Hanna huil en hy het gedink dat sy dronk is. Hanna het gesê: ‘Nee, my heer, ek is nie dronk nie. Ek het ’n ernstige probleem en ek is besig om met Jehovah daaroor te praat.’ Eli het besef dat hy ’n fout gemaak het en het vir haar gesê: ‘Mag God jou gee wat jy gevra het.’ Hanna het beter gevoel en weggegaan. Minder as ’n jaar later het sy ’n seun gehad en sy het hom Samuel genoem. Kan jy jou voorstel hoe bly Hanna was?

Hanna het nie haar belofte aan Jehovah vergeet nie. Toe Samuel nog ’n klein seuntjie was, het sy hom geneem om by die tabernakel te gaan dien. Sy het vir Eli gesê: ‘Dit is die seuntjie waarvoor ek gebid het. Ek leen hom aan Jehovah so lank as wat hy lewe.’ Elke jaar wanneer Elkana en Hanna vir Samuel kom kuier het, het hulle vir hom ’n nuwe moulose jassie gebring. Jehovah het Hanna nog drie seuns en twee dogters gegee.

“Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word. Hou aan soek, en julle sal vind.”—Matteus 7:7