Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 39

Israel se eerste koning

Israel se eerste koning

Jehovah het vir die Israeliete rigters gegee om hulle te lei, maar hulle wou ’n koning hê. Die volk het vir Samuel gesê: ‘Al die nasies om ons het konings. Ons wil ook ’n koning hê.’ Maar Samuel het gevoel dat dit verkeerd is, en hy het daaroor gebid. Jehovah het vir hom gesê: ‘Die volk verwerp jou nie. Hulle verwerp my. Sê vir hulle dat hulle ’n koning kan kry, maar dat hierdie koning baie dinge van hulle sal verwag.’ Maar die volk het gesê: ‘Ons gee nie om nie. Ons wil ’n koning hê!’

Jehovah het vir Samuel gesê dat ’n man met die naam Saul, die eerste koning sou wees. Toe Saul na Samuel in Rama toe gegaan het, het Samuel hom as koning gesalf deur olie op sy kop te gooi.

Samuel het die Israeliete later bymekaargeroep om hulle nuwe koning vir hulle te wys. Maar hulle kon Saul nêrens kry nie. Weet jy hoekom nie? Want hy het tussen die bagasie weggekruip. Toe hulle Saul uiteindelik kry, het hulle hom uitgebring en hom tussen die mense laat staan. Saul was baie langer as al die ander mense en hy was ’n mooi man. Samuel het gesê: ‘Hier is die een wat Jehovah gekies het.’ Die mense het geskree: ‘Lank lewe die koning!’

Aan die begin het koning Saul na Samuel geluister en was hy gehoorsaam aan Jehovah. Maar toe het hy verander. Dit was byvoorbeeld nie die koning se werk om offerandes te bring nie. Samuel het eenkeer gesê dat Saul moet wag totdat hy kom, maar Samuel het nie dadelik gekom nie. Saul het toe besluit om self die offerandes te bring. Hoe het Samuel gereageer? Hy het vir hom gesê: ‘Jy moes nie aan Jehovah ongehoorsaam gewees het nie.’ Het Saul uit sy foute geleer?

Later, toe Saul teen die Amalekiete gaan veg het, het Samuel vir Saul gesê om nie een van hulle te laat lewe nie. Maar Saul het besluit om koning Agag nie dood te maak nie. Jehovah het vir Samuel gesê: ‘Saul het my verlaat, en hy luister nie meer na my nie.’ Samuel was baie hartseer en het vir Saul gesê: ‘Omdat jy nie meer aan Jehovah gehoorsaam is nie, gaan Jehovah ’n ander koning kies.’ Toe Samuel omdraai om te loop, het Saul hom aan sy klere gegryp en die soom van Samuel se kleed het geskeur. Samuel het toe vir Saul gesê: ‘Jehovah het die koninkryk van jou af weggeskeur.’ Jehovah sou die koninkryk aan iemand gee wat hom liefhet en hom gehoorsaam.

“Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande.”—1 Samuel 15:22