Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 40

Dawid en Goliat

Dawid en Goliat

Jehovah het vir Samuel gesê: ‘Gaan na Isai se huis toe. Een van sy seuns sal die volgende koning van Israel wees.’ Daarom het Samuel na Isai se huis toe gegaan. Toe hy die oudste seun sien, het hy gedink: ‘Dit moet hierdie jong man wees.’ Maar Jehovah het vir Samuel gesê dat hierdie seun nie die een is nie. Jehovah het gesê: ‘Ek sien wat in iemand se hart is, nie net hoe hy lyk nie.’

Isai het nog ses van sy seuns na Samuel toe gebring. Maar Samuel het gesê: ‘Jehovah het nie een van hulle gekies nie. Het jy nog ander seuns?’ Isai het gesê: ‘Ek het nog een, my jongste seun, Dawid. Hy pas my skape op.’ Toe Dawid inkom, het Jehovah vir Samuel gesê: ‘Hy is die een!’ Samuel het olie op Dawid se kop gegooi en hom as die toekomstige koning van Israel gesalf.

’n Ruk later het die Israeliete teen die Filistyne geveg. ’n Reus met die naam Goliat was aan die Filistyne se kant. Goliat het die Israeliete dag ná dag gespot. Hy het geskree: ‘Stuur ’n man om teen my te veg. As hy wen, sal ons julle slawe wees. Maar as ek wen, moet julle ons slawe wees.’

Dawid het na die Israeliete se leërkamp gegaan om kos vir sy broers, wat soldate was, te bring. Hy het Goliat gehoor en gesê: ‘Ek sal teen hom veg!’ Koning Saul het gesê: ‘Maar jy is net ’n seun.’ Dawid het geantwoord: ‘Jehovah sal my help.’

Saul het sy oorlogsklere vir Dawid gegee om aan te trek, maar Dawid het gesê: ‘Ek kan nie hierin veg nie.’ Dawid het sy slinger geneem en na ’n stroom gegaan. Hy het vyf gladde klippies gekies en dit in ’n sak gesit. Toe het Dawid na Goliat toe gehardloop. Die reus het geskree: ‘Kom hier, mannetjie. Ek sal jou vir die voëls van die hemel en vir die wilde diere voer.’ Dawid was nie bang nie. Hy het geskree: ‘Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies, maar ek kom na jou toe in die naam van Jehovah. Jy veg nie teen ons nie. Jy veg teen God. Almal hier sal sien dat Jehovah baie sterker as ’n swaard of ’n spies is. Hy sal ons help om teen julle te wen.’

Dawid het ’n klippie in sy slinger gesit en dit met al sy krag begin swaai. Met Jehovah se hulp het die klippie uitgeskiet en Goliat in die voorkop getref. Die reus het dood neergeval op die grond. Toe het die Filistyne weggehardloop. Vertrou jy, soos Dawid, op Jehovah?

“Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”—Markus 10:27