Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 41

Dawid en Saul

Dawid en Saul

Nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, het koning Saul hom die hoof van die leërmag gemaak. Dawid het baie gevegte gewen, en hy het baie bekend geword. Elke keer wanneer Dawid ná ’n oorlog teruggekom het huis toe, het die vroue uitgekom, gedans en gesing: ‘Saul het duisende doodgemaak, en Dawid tienduisende!’ Saul het jaloers geraak op Dawid en wou hom doodmaak.

Dawid kon die harp baie goed speel. Op ’n dag, terwyl Dawid die harp vir Saul gespeel het, het die koning sy spies na Dawid toe gegooi. Dawid het net betyds gekoes, en die spies het die muur getref. Daarna het Saul nog baie keer probeer om Dawid dood te maak. Uiteindelik het Dawid weggehardloop en in die woestyn gaan wegkruip.

Saul het ’n leërmag met 3 000 manne geneem en na Dawid gaan soek. Hy het in ’n grot ingegaan, maar sonder dat hy dit geweet het, was dit waar Dawid en sy manne weggekruip het. Dawid se manne het gefluister: ‘Dis nou jou kans om Saul dood te maak.’ Dawid het na Saul toe gekruip en ’n stukkie van die koning se klere afgesny. Saul het dit nie agtergekom nie. Later het Dawid baie sleg gevoel omdat hy nie respek vir Jehovah se gesalfde koning gewys het nie. Hy het sy manne nie toegelaat om Saul aan te val nie. Hy het selfs na Saul geroep en vir hom gesê dat hy ’n kans gehad het om hom dood te maak, maar hy het nie. Sou Saul van plan verander en Dawid nou uitlos?

Nee. Saul het oral na Dawid gesoek. Een nag het Dawid en sy neef Abisai in Saul se kamp ingesluip. Selfs Abner, Saul se lyfwag, was aan die slaap. Abisai het gesê: ‘Dis nou ons kans! Ek gaan hom doodmaak.’ Dawid het geantwoord: ‘Jehovah sal vir Saul straf. Kom ons vat net sy spies en waterbeker, en dan gaan ons.’

Dawid het teen ’n berg uitgeklim wat oor Saul se kamp uitgekyk het. Hy het geskree: ‘Abner, waarom het jy nie jou koning beskerm nie? Waar is Saul se waterbeker en sy spies?’ Saul het Dawid se stem herken en gesê: ‘Jy kon my doodgemaak het, maar jy het nie. Ek weet dat jy die volgende koning van Israel gaan wees.’ Saul het teruggegaan na sy paleis toe. Maar nie almal in Saul se familie het Dawid gehaat nie.

“Doen julle bes om in vrede met alle mense te lewe. Moenie self wraak neem nie, geliefde vriende, maar laat die woede aan God oor.”—Romeine 12:18, 19