Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 45

’n Koninkryk word verdeel

’n Koninkryk word verdeel

Terwyl Salomo Jehovah aanbid het, was daar vrede in Israel. Maar Salomo het met baie vroue van ander lande getrou, en hierdie vrouens het afgode aanbid. Mettertyd het Salomo verander en toe het hy ook begin om afgode te aanbid. Jehovah was baie kwaad. Hy het vir Salomo gesê: ‘Israel sal van jou familie af weggeruk word, en dit sal in twee verdeel word. Ek sal die groot deel aan een van jou knegte gee, en jou familie sal net oor die klein deel regeer.’

Jehovah het sy besluit ook op ’n ander manier duidelik gemaak. Een van Salomo se knegte, Jerobeam, het die profeet Ahia langs die pad gekry. Ahia het sy eie kledingstuk in 12 stukke geskeur en toe vir Jerobeam gesê: ‘Jehovah gaan die koninkryk van Israel wegneem van Salomo se familie en hy gaan dit in twee verdeel. Vat tien van hierdie stukke, want jy gaan koning wees oor tien stamme.’ Koning Salomo het hiervan gehoor en wou Jerobeam doodmaak! Daarom het Jerobeam na Egipte toe weggehardloop. Later het Salomo gesterf, en sy seun Rehabeam het koning geword. Toe was dit weer veilig vir Jerobeam om na Israel toe terug te gaan.

Die ouer manne van Israel het vir Rehabeam gesê: ‘As jy die volk goed behandel, sal hulle lojaal aan jou wees.’ Maar Rehabeam se jonger vriende het gesê: ‘Jy moet streng wees met die volk! Laat hulle nog harder werk!’ Rehabeam het na sy jong vriende geluister. Hy het die volk wreed behandel, en daarom het hulle teen hom gedraai. Hulle het Jerobeam koning van tien van die stamme gemaak, en dit is die koninkryk van Israel genoem. Die ander twee stamme is die koninkryk van Juda genoem, en hulle het lojaal aan Rehabeam gebly. Die 12 stamme van Israel was nou nie meer een koninkryk nie.

Omdat Jerusalem in Rehabeam se koninkryk was, wou Jerobeam nie hê dat sy mense soontoe moes gaan om te aanbid nie. Weet jy hoekom? Jerobeam was bang dat hulle teen hom sou draai en Rehabeam sou begin dien. Daarom het hy twee goue kalwers gemaak en vir sy mense gesê: ‘Jerusalem is te ver. Julle kan hier aanbid.’ Die mense het die goue kalwers begin aanbid en het weer van Jehovah vergeet.

“Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want wat het regverdigheid te doen met wetteloosheid? . . . Of wat het ’n gelowige in gemeen met ’n ongelowige?”—2 Korintiërs 6:14, 15