Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 46

’n Toets op die berg Karmel

’n Toets op die berg Karmel

Die tienstammeryk van Israel het talle slegte konings gehad, maar Agab was een van die slegstes. Hy het getrou met ’n slegte vrou wat Baäl aanbid het. Haar naam was Isebel. Agab en Isebel het Baälaanbidding regoor die land versprei, en hulle het Jehovah se profete doodgemaak. Wat het Jehovah gedoen? Hy het die profeet Elia gestuur om ’n boodskap vir Agab te gee.

Elia het vir koning Agab gesê dat dit nie in Israel sou reën nie omdat hy so sleg is. Daar was meer as drie jaar lank nie goeie oeste nie, en die volk het nie genoeg kos gehad nie. Later het Jehovah weer vir Elia na Agab toe gestuur. Die koning het gesê: ‘Jy is ’n moeilikheidmaker! Dis jou skuld dat dinge so sleg gaan.’ Elia het geantwoord: ‘Ek het nie hierdie droogte veroorsaak nie. Dis jou skuld omdat jy Baäl aanbid. Kom ons toets wie die ware God is. Maak die volk en die Baälprofete op die berg Karmel bymekaar.’

Die volk het op die berg bymekaargekom. Elia het gesê: ‘Besluit nou. As Jehovah die ware God is, volg hom. As dit Baäl is, volg hom dan. Ek daag julle uit. Die 450 Baälprofete moet ’n offerande voorberei en hulle god aanroep, en ek sal ’n offerande voorberei en Jehovah aanroep. Die een wat antwoord deur vuur uit die hemel te laat kom, is die ware God.’ Die volk het ingestem.

Die profete van Baäl het ’n offerande voorberei. Hulle het die hele dag lank hulle god aangeroep: ‘O Baäl, antwoord ons!’ Toe Baäl nie antwoord nie, het Elia hom gespot. Hy het gesê: ‘Roep so hard as wat julle kan. Miskien het hy aan die slaap geraak en moet iemand hom gaan wakker maak.’ Dit het aand geword, en die profete van Baäl het aangehou om hom te roep. Maar daar was nog steeds geen antwoord nie.

Elia het sy offerande op ’n altaar gesit en water daaroor gegooi. Toe het hy gebid: ‘O Jehovah, laat die volk asseblief sien dat u die ware God is.’ Dadelik het Jehovah vuur uit die hemel laat kom om die offerande heeltemal te verbrand. Die volk het uitgeroep: ‘Jehovah is die ware God!’ Elia het gesê: ‘Moenie die profete van Baäl laat wegkom nie!’ Daardie dag is die 450 profete van Baäl doodgemaak.

Toe ’n klein wolkie oor die see opkom, het Elia vir Agab gesê: ‘Daar kom ’n storm. Klim op jou strydwa, en gaan huis toe.’ Donker wolke het saamgepak, die wind het begin waai en dit het kliphard begin reën. Die droogte was uiteindelik verby. Agab het so vinnig as wat hy kon met sy strydwa gejaag. Maar met Jehovah se hulp kon Elia vinniger as die strydwa hardloop! Was al Elia se probleme nou verby? Kom ons kyk.

“Mag mense weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—Psalm 83:18