Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 48

’n Weduwee se seun word weer lewendig

’n Weduwee se seun word weer lewendig

Gedurende die droogte het Jehovah vir Elia gesê: ‘Gaan na Sarfat toe. ’n Weduwee wat daar bly, sal vir jou kos gee.’ By die ingang van die stad het Elia ’n arm weduwee gesien wat hout bymekaarmaak. Hy het haar vir ’n bietjie water gevra. Toe sy dit gaan haal, het Elia agter haar aangeroep: ‘Bring asseblief vir my ook ’n stukkie brood.’ Maar die weduwee het gesê: ‘Ek het niks brood om vir jou te gee nie. Ek het net genoeg meel en olie oor om ’n bietjie kos vir my en my seun te maak.’ Elia het vir haar gesê: ‘As jy vir my brood maak, belowe Jehovah dat jou meel en olie nie sal opraak totdat dit weer reën nie.’

Die weduwee het huis toe gegaan en vir Jehovah se profeet brood gemaak. Net soos Jehovah belowe het, het sy en haar seun gedurende die droogte altyd kos gehad. Haar houers met meel en olie het vol gebly.

Maar toe het iets verskrikliks gebeur. Die weduwee se seuntjie het so siek geword dat hy doodgegaan het. Sy het Elia gesmeek om haar te help. Elia het die seun uit haar arms geneem en hom na een van die boonste kamers toe gedra. Hy het hom op ’n bed neergelê en gebid: ‘Jehovah, laat hierdie kind asseblief weer lewe.’ Hoekom sou dit iets wonderliks wees as Jehovah dit doen? Want voor hierdie tyd het niemand wat doodgegaan het, weer lewendig geword nie. En hierdie weduwee en haar seun was nie eens Israeliete nie.

Maar die seun het weer lewendig geword en begin asemhaal! Elia het vir die weduwee gesê: ‘Kyk! Jou seun lewe.’ Sy was baie bly en het vir Elia gesê: ‘Jy is regtig ’n man van God. Ek weet dit, want jy sê net die dinge wat Jehovah sê jy moet sê.’

“Dink aan die kraaie: Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie. Hulle het nie ’n skuur of ’n stoorkamer nie, en tog voed God hulle. Is julle nie baie meer werd as voëls nie?”​—⁠Lukas 12:⁠24