Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 49

’n Goddelose koningin word gestraf

’n Goddelose koningin word gestraf

Koning Agab kon vanuit die venster van sy paleis in Jisreël ’n wingerd sien wat aan ’n man met die naam Nabot behoort het. Agab wou hierdie wingerd hê en hy het probeer om dit by Nabot te koop. Maar Nabot het geweier om dit aan hom te verkoop omdat dit teen Jehovah se Wet was om grond te verkoop wat jy geërf het. Het Agab Nabot gerespekteer omdat hy die regte ding gedoen het? Nee. Agab was baie kwaad. Hy was so kwaad dat hy nie uit sy kamer wou kom nie en niks wou eet nie.

Agab se vrou, goddelose koningin Isebel, het vir hom gesê: ‘Jy is die koning van Israel. Jy kan enigiets kry wat jy wil hê. Ek sal daardie stuk grond vir jou kry.’ Sy het briewe aan die ouer manne van die stad geskryf. Daarin het sy gesê dat hulle Nabot daarvan moet beskuldig dat hy God vervloek het en hom met klippe moet doodgooi. Die ouer manne het gedoen wat Isebel gesê het, en Isebel het toe vir Agab gesê: ‘Nabot is dood. Die wingerd is joune.’

Nabot was nie die enigste onskuldige persoon wat deur Isebel vermoor is nie. Sy het baie mense vermoor wat vir Jehovah lief was. Sy het afgode aanbid en ander slegte dinge gedoen. Jehovah het al die slegte dinge gesien wat Isebel gedoen het. Wat sou hy daaroor doen?

Ná Agab se dood, het sy seun Joram koning geword. Jehovah het ’n man met die naam Jehu gestuur om Isebel en haar familie te straf.

Jehu het met sy strydwa na Jisreël gery. Dis waar Isebel gebly het. Joram het met sy strydwa gekom om Jehu te ontmoet en hom gevra: ‘Is daar vrede tussen ons?’ Jehu het gesê: ‘Daar sal nie vrede wees terwyl jou ma, Isebel, goddelose dinge doen nie.’ Joram het probeer om sy strydwa om te draai en weg te kom. Maar Jehu het hom met ’n pyl doodgeskiet.

Daarna het Jehu na Isebel se paleis toe gegaan. Toe sy hoor dat hy op pad is, het sy haar gesig mooigemaak, haar hare gedoen en by die venster van haar boonste kamer gaan wag. Toe Jehu daar aankom, het sy hom onbeskof gegroet. Jehu het vir haar knegte wat langs haar gestaan het, geskree: ‘Gooi haar af!’ Hulle het Isebel by die venster uitgestoot, en sy het geval en gesterf.

Daarna het Jehu Agab se 70 seuns doodgemaak en hy het alle Baälaanbidding uit die land verwyder. Kan jy sien dat Jehovah alles weet en dat hy diegene wat slegte dinge doen, op die regte tyd sal straf?

“Al verkry ’n gierige persoon rykdom, sal hy op die ou end nie geseën word nie.”—Spreuke 20:21