Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 50

Jehovah beskerm Josafat

Jehovah beskerm Josafat

Josafat, die koning van Juda, het al die altare van Baäl en die afgode in die land vernietig. Hy wou hê dat die volk Jehovah se wette moes ken. Daarom het hy leiers en Leviete regoor Juda gestuur om Jehovah se wette aan die volk te leer.

Die nasies in die omgewing was bang om Juda aan te val, want hulle het geweet dat Jehovah met sy volk is. Hulle het selfs vir koning Josafat geskenke gebring. Maar toe het die Moabiete, die Ammoniete en die mense van Seïr teen Juda kom veg. Josafat het geweet dat hy Jehovah se hulp nodig het. Hy het al die manne, vroue en kinders in Jerusalem bymekaar laat kom. Hy het voor hulle almal gebid: ‘Jehovah, sonder u kan ons nie wen nie. Sê asseblief vir ons wat ons moet doen.’

Jehovah het die gebed beantwoord: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal julle help. Neem julle plek in, staan stil en sien hoe ek julle gaan red.’ Hoe het Jehovah hulle gered?

Die volgende oggend het Josafat sangers gekies en vir hulle gesê om voor die leërmag te loop. Hulle het van Jerusalem af geloop tot by die slagveld in ’n plek met die naam Tekoa.

Terwyl die sangers Jehovah vreugdevol met ’n harde stem geloof het, het Jehovah vir sy volk geveg. Hy het die Ammoniete en die Moabiete so verwar dat hulle mekaar begin aanval het, en nie een van hulle het oorleef nie. Maar Jehovah het die volk van Juda, die soldate en die priesters beskerm. Al die volke in die lande daar naby het gehoor wat Jehovah gedoen het, en hulle het geweet dat Jehovah nog steeds sy volk beskerm. Hoe red Jehovah diegene wat hom aanbid? Op baie maniere. Hy het nie mense se hulp nodig om dit te doen nie.

“Julle sal nie in hierdie oorlog hoef te veg nie. Neem julle posisies in, staan stil en sien hoe Jehovah julle red.”—2 Kronieke 20:17