Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 51

Die soldaat en die dogtertjie

Die soldaat en die dogtertjie

In die land Sirië was daar ’n Israelitiese dogtertjie wat baie ver van haar huis af was. Die Siriese leërmag het haar van haar familie af weggevat, en nou was sy ’n diensmeisie van die vrou van ’n leërhoof met die naam Naäman. Die dogtertjie het Jehovah aanbid, selfs al het die mense om haar dit nie gedoen nie.

Naäman het ’n vreeslike velsiekte gehad en hy het die hele tyd pyn gehad. Die dogtertjie wou hom baie graag help. Sy het vir Naäman se vrou gesê: ‘Ek weet van iemand wat jou man kan help. In Israel is daar ’n profeet van Jehovah met die naam Elisa. Hy kan jou man gesond maak.’

Naäman se vrou het vir hom vertel wat die dogtertjie gesê het. Hy was bereid om enigiets te probeer, en daarom het hy na Elisa se huis in Israel toe gegaan. Omdat Naäman ’n belangrike persoon was, het hy gedink dat Elisa hom op ’n spesiale manier sou behandel. Maar in plaas daarvan om self met hom te praat, het Elisa sy kneg gestuur om Naäman te kom groet en vir hom ’n boodskap te gee: ‘Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jy gesond word.’

Naäman was baie teleurgesteld. Hy het gesê: ‘Ek het gedink dat hierdie profeet my sou gesond maak deur sy God aan te roep en sy hande oor my te beweeg. In plaas daarvan sê hy dat ek na hierdie rivier in Israel toe moet gaan. Ons het beter riviere in Sirië. Hoekom kan ek nie net soontoe gaan nie?’ Naäman het kwaad geword en van Elisa se huis af weggegaan.

Naäman se knegte het hom gehelp om mooi hieroor te dink. Hulle het gesê: ‘Sal u nie enigiets doen om gesond te word nie? Dis so maklik om te doen wat die profeet gesê het. Wil u dit nie maar net doen nie?’ Naäman het na hulle geluister. Hy het na die Jordaanrivier toe gegaan en sewe keer in die water ingegaan. Toe hy die sewende keer uit die water opkom, was Naäman heeltemal gesond. Hy was baie dankbaar en hy het teruggegaan om vir Elisa dankie te sê. Naäman het gesê: ‘Nou weet ek dat Jehovah die ware God is.’ Hoe dink jy het die dogtertjie gevoel toe Naäman gesond teruggekom het?

“Uit die mond van kinders en kleuters het u lof laat kom.”—Matteus 21:16