Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 52

Jehovah se vurige leërmag

Jehovah se vurige leërmag

Ben-Hadad, die koning van Sirië, het aangehou om Israel aan te val. Maar die profeet Elisa het elke keer die koning van Israel gewaarsku sodat hy kon vlug. Ben-Hadad het toe besluit om Elisa te ontvoer. Hy het uitgevind dat Elisa in die stad Dotan was en het die Siriese leërmag daarheen gestuur om hom te vang.

Die Siriërs het in die nag by Dotan aangekom. Die volgende oggend het Elisa se dienskneg uitgegaan en gesien dat die stad omsingel is deur ’n groot leërmag. Hy was baie bang en het geskree: ‘Elisa, wat moet ons doen?’ Elisa het vir hom gesê: ‘Daar is meer by ons as by hulle.’ Op daardie oomblik het Jehovah Elisa se dienskneg laat sien dat die berge rondom die stad vol perde en strydwaens van vuur is.

Toe die Siriese soldate Elisa probeer vang, het hy gebid: ‘Jehovah, maak hulle asseblief blind.’ Skielik het die soldate nie geweet waar hulle is nie, al kon hulle nog sien. Elisa het vir die soldate gesê: ‘Julle is by die verkeerde stad. Volg my, en ek sal julle na die man toe vat na wie julle soek.’ Hulle het Elisa al die pad na Samaria toe gevolg, waar die koning van Israel gewoon het.

Toe die Siriërs agterkom waar hulle is, was dit te laat. Die koning van Israel het vir Elisa gevra: ‘Moet ek hulle doodmaak?’ Het Elisa hierdie geleentheid gebruik om hulle terug te kry vir wat hulle aan hom wou doen? Nee. Elisa het gesê: ‘Moet hulle nie doodmaak nie. Gee hulle iets om te eet, en stuur hulle weg.’ Toe het die koning vir hulle lekker kos gegee om te eet, en daarna het hy hulle huis toe gestuur.

“Ons het die vertroue dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra.”—1 Johannes 5:14