Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 53

Jojada is dapper

Jojada is dapper

Isebel het ’n dogter gehad met die naam Atalia, en sy was net so goddeloos soos haar ma. Atalia was getroud met die koning van Juda. Toe haar man sterf, het haar seun koning geword. Maar toe haar seun ook sterf, het sy haarself koningin van Juda gemaak. Sy het probeer om die koning se hele familie dood te maak en het enigiemand vermoor wat koning in haar plek kon word, selfs haar eie kleinseuns. Almal was bang vir haar.

Jojada, die hoëpriester, en sy vrou, Joseba, het geweet dat die dinge wat Atalia doen, baie sleg was. Hulle het hulle lewe gewaag om een van Atalia se kleinseuns, ’n baba met die naam Joas, weg te steek. Hulle het hom by die tempel grootgemaak.

Toe Joas sewe jaar oud was, het Jojada al die hoofmanne en Leviete bymekaargeroep en vir hulle gesê: ‘Staan by die tempel se deure, en moenie enigiemand laat inkom nie.’ Toe het Jojada Joas koning van Juda gemaak en ’n kroon op sy kop gesit. Die mense van Juda het geskree: ‘Lank lewe die koning!’

Koningin Atalia het die geluid van die skare gehoor en vinnig na die tempel toe gegaan. Toe sy die nuwe koning sien, het sy geskree: ‘Verraaiers! Verraaiers!’ Die hoofmanne het die goddelose koningin gegryp, haar weggevat en haar doodgemaak. Maar wat van die slegte invloed wat sy op die nasie gehad het?

Jojada het die nasie gehelp om ’n verbond met Jehovah te maak waarin hulle belowe het om Hom alleen te aanbid. Jojada het die tempel van Baäl laat afbreek en die beelde laat vernietig. Hy het die priesters en Leviete aangestel om by die tempel te werk sodat die Israeliete weer daar kon aanbid. Hy het wagte aangestel om by die ingang van die tempel wag te staan sodat niemand wat onrein is, kon inkom nie. Jojada en die hoofmanne het Joas toe na die paleis geneem en hom op die troon laat sit. Die mense van Juda was baie bly. Omdat hulle uiteindelik van goddelose koningin Atalia en Baälaanbidding bevry is, kon hulle Jehovah nou dien. Kan jy sien hoe baie mense gehelp is omdat Jojada dapper was?

“Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak maar nie die siel kan doodmaak nie. Vrees eerder die Een wat die siel sowel as die liggaam in Gehenna kan vernietig.”—Matteus 10:28