Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 57

Jehovah stuur Jeremia om te preek

Jehovah stuur Jeremia om te preek

Jehovah het Jeremia gekies om ’n profeet vir die volk van Juda te wees. Hy het vir hom gesê om vir die mense te preek en om hulle te waarsku dat hulle moet ophou om slegte dinge te doen. Jeremia het gesê: ‘Maar Jehovah, ek is maar net ’n seun. Ek weet nie hoe om met die volk te praat nie.’ Jehovah het vir hom gesê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal vir jou sê wat om te sê. Ek sal jou help.’

Jehovah het vir Jeremia gesê om die ouer manne van die volk bymekaar te roep, ’n houer van klei voor hulle stukkend te slaan en te sê: ‘Jerusalem sal so stukkend geslaan word.’ Toe Jeremia gedoen het wat Jehovah gesê het, het die ouer manne baie kwaad geword. ’n Priester met die naam Pasgur het Jeremia geslaan en sy kop, arms en bene in ’n houtblok vasgemaak. Jeremia kon die hele nag lank nie beweeg nie. Pasgur het hom die volgende oggend losgemaak. Jeremia het gesê: ‘Ek kan nie meer nie. Ek gaan ophou preek.’ Maar het hy regtig opgehou? Nee. Toe Jeremia ’n rukkie daaroor gedink het, het hy gesê: ‘Jehovah se boodskap is soos ’n vuur in my. Ek kan nie ophou preek nie.’ Jeremia het aangehou om die volk te waarsku.

Jare het verbygegaan, en daar was nou ’n nuwe koning in Juda. Die priesters en die valse profete het Jeremia se boodskap gehaat. Hulle het vir die leiers gesê: ‘Hierdie man moet doodgemaak word.’ Jeremia het gesê: ‘As julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige man dood. Ek sê net wat Jehovah gesê het, dis nie my eie woorde nie.’ Toe die leiers dit hoor, het hulle gesê: ‘Hierdie man moenie doodgemaak word nie.’

Jeremia het aanhou preek, en die leiers het baie kwaad geword. Hulle het die koning gevra om Jeremia te laat doodmaak. Die koning het gesê dat hulle met Jeremia kan doen net wat hulle wil. Hulle het Jeremia gevat en hom in ’n diep modderput gegooi en gehoop dat hy daar sou sterf. Jeremia het in die modder begin sink.

Ebed-Meleg, ’n belangrike man wat vir die koning gewerk het, het toe vir die koning gesê: ‘Die leiers het Jeremia in ’n put gegooi! As ons hom daar los, sal hy doodgaan.’ Die koning het Ebed-Meleg beveel om 30 manne saam met hom te neem en Jeremia uit die put te gaan haal. Hoe kan ons soos Jeremia wees en nie toelaat dat enigiets ons keer om te preek nie?

“Julle sal deur alle mense gehaat word weens my naam, maar die een wat tot die einde toe volhard, sal gered word.”—Matteus 10:22