Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 58

Jerusalem word vernietig

Jerusalem word vernietig

Die volk van Juda het Jehovah keer op keer verlaat en valse gode aanbid. Jehovah het jare lank probeer om hulle te help. Hy het baie profete gestuur om hulle te waarsku, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het die profete eerder gespot. Hoe het Jehovah ’n einde gemaak aan hulle afgodediens?

Die koning van Babilon, Nebukadnesar, was besig om die een nasie na die ander te verslaan. Toe hy Jerusalem die eerste keer oorgeneem het, het hy koning Jojagin, die prinse, die soldate en al die beste werkers weggevat na Babilon toe. Hy het ook al die mooi en duur goed uit Jehovah se tempel gevat. Daarna het Nebukadnesar vir Sedekia koning van Juda gemaak.

In die begin het Sedekia na Nebukadnesar geluister. Maar die nasies in die omgewing en die valse profete het vir Sedekia gesê om teen Babilon te draai. Jeremia het hom gewaarsku: ‘As jy in opstand kom, gaan daar moord, hongersnood en siekte in Juda wees.’

Maar nadat Sedekia agt jaar lank regeer het, het hy toe besluit om teen Babilon te draai. Hy het die Egiptiese leërmag gevra om hom te help. Toe het Nebukadnesar sy leërmag gestuur om Jerusalem aan te val, en hulle het reg rondom die stad kamp opgeslaan. Jeremia het vir Sedekia gesê: ‘Jehovah sê as jy aan Babilon oorgee, sal jy en die stad oorleef. Maar as jy dit nie doen nie, sal die Babiloniërs Jerusalem afbrand en jou as ’n gevangene wegvat.’ Sedekia het gesê: ‘Ek sal nie oorgee nie!’

Een en ’n half jaar later het die Babiloniese leërmag deur die mure van Jerusalem gebreek en die stad aan die brand gesteek. Hulle het die tempel afgebrand, baie mense doodgemaak en duisende mense gevange geneem.

Sedekia het uit Jerusalem ontsnap, maar die Babiloniërs het agter hom aangejaag. Hulle het hom naby Jerigo gevang en hom na Nebukadnesar toe gevat. Die koning van Babilon het Sedekia gedwing om te kyk hoe hulle sy seuns doodmaak. Toe het Nebukadnesar Sedekia blind gemaak en hom in die tronk gegooi, waar hy later gesterf het. Maar Jehovah het ’n belofte aan die mense van Juda gemaak: ‘Ná 70 jaar sal ek julle terugbring huis toe, na Jerusalem toe.’

Wat sou met die jongmense gebeur wat as gevangenes na Babilon toe gevat is? Sou hulle lojaal aan Jehovah bly?

“Jehovah God, die Almagtige, u oordele is betroubaar en regverdig.”—Openbaring 16:7